Skrywers vereer landboumeesters
Strawwe mededinging in ’n bedryf het niemand nog ooit skade aangedoen nie, inteendeel, dit is ’n handige meganisme om ’n bedryf tot ongekende hoogtes te lei en in die landbou is dit ook geen uitsondering nie. Die Landbouskrywers wys elke jaar die beste kommersiële boer, nuwe toetreder tot landbou en die landboukundige vir die jaar aan.
Die groot geleentheid het verlede week plaasgevind toe die Emoya-hotel en Spa in Bloemfontein vereer is met die teenwoordigheid van landbouskrywers en groot geeste in Suid-Afrikaanse landbou.

Die groot rolspelers tydens die funksie was Francois Smit van ABSA, Magda du Toit van Landbouskrywers SA, Milan Thalwitzer van Bosveld Groep, Ralph Swart en Preline Swart van Elim, Prof Ferdie Meyer van BFAP en Gerhard Diedericks van Santam.
Die Bosveld-groep, wat die grootste sitrusverbouers en -uitvoerders in die land is, is aangewys as boer van die jaar. Hulle verbou ook lietsjies, piesangs, mango’s, avokado’s en suikerriet op plase in Letsitele, Hoedspruit, Burgersfort, Politsi, Malelane en Komatipoort.
Ralph en Preline Swart boer met skape, beeste en gemengde gewasse naby Elim in die Wes-Kaap en hulle is as die nuwe toetreders van die jaar aangewys. Buiten die 1 280 ha waarop hulle boer, het hulle het vanjaar sonder enige hulp van die regering, ’n plaas van 950 ha naby Stormsvlei tussen Swellendam en Riviersonderend gekoop.
Prof Ferdie Meyer, direkteur van BFAP (Buro vir Voedsel en Landboubeleid) is as landboukundige van die jaar aangewys. Hy het die afgelope 10 jaar baanbrekerswerk in die veld gedoen met die stigting van die buro wat risiko-ontledings en scenariobeplanning in die landbou doen.
Die Suid-Afrikaanse Landbouskrywers is vanjaar 37 jaar oud met ongeveer 180 lede in ‘n noordelike, sentrale en suidelike streek.