Skoon, vinnig, betroubaar, netjies: Welger bring harmonie in baalbedryf
’n Blitsige bondel bedrywigheid is ’n hooikontrakteur in sny- en baaltyd. Die starre werklikheid van die natuur gee hom net soveel tyd om te sny, te laat droog word, te baal en weg te ry, en kry hy nie sy werk binne daardie tyd deeglik gedoen nie, dan is substandaard hooi en groot ongewildheid sy voorland.
Ernst Jansen, hooikontrakteur van Marble Hall, werk wyd en hy waag geen kanse nie. Sukses in die hooibedryf berus op betroubare, doeltreffende toerusting waarop jy jaar na jaar in alle omstandighede kan staatmaak, glo hy.
Daarom gebruik hy Welger-baalmasjiene om sy kliënte die soort diens en die gehalte bale te gee wat harmonie in die baalbedryf verseker.
As jy Welger gebruik, sê hy, is jou bale nie net tydig in die skuur nie. Hulle voldoen ook aan al die ander vereistes wat die voerbedryf stel:
’n Welger-baal is stewig en netjies sodat jy hulle hoog opmekaar kan stapel sonder dat hulle swik, en ver kan vervoer sonder dat jou vrag hand-in-die-sy loop staan en waggel.
’n Welger-baalmasjien tel al die materiaal op die land deeglik op sodat niks verlore gaan nie en bind elke baal netjies en noukeurig vas om al die goeie goed binne te hou.
Ernst se verbintenis met Welger het begin toe hy sy oorlede broer se Welger AP 630-baler in ’n lusernland op die proef gestel het. Dit het hom oortuig om dadelik oor te skakel Welger toe.
Die AP 630 se knoopmeganisme is baie eenvoudiger, hy bind perfek en werk eenvoudig en netjies, vertel Ernst. Die bale verloor nie materiaal nie en jy kan hulle agt lae hoog op ’n trok stapel en veilig vervoer.
Ook wat ronde bale betref is Welger Ernst se eerste keuse. Sy drie RP 302’s tel wyd en skoon op, die materiaal volg ’n reguit, logiese pad deur die masjien en sy eenvoudige ontwerp sorg vir ’n netjiese, stewige baal. Al die kettings en ratte is buite die baler en hy verstop nie maklik nie.
Die RP 302 doen sy reuse werk met net 60 kW trekkerkrag en Ernst sal sonder skroom weer sulke balers koop, sê hy.
Ernst se jongste balertoevoeging is die gesogte Welger D4000 wat groot bale maak.
Met hierdie kragman se groot reghoekige bale kan jy nou vir die eerste keer voervervoer regtig ekonomies en lonend maak. Voorheen was die beperking altyd dat jy lankal jou vragmotor se volume volgelaai het voordat jy naastenby by die gewig uitkom wat hy kan dra.
Maar die Welger D4000 en D4006 se stewige bale is 70 cm hoog en 120 cm breed. Jy kan die baal se lengte verstel op enigiets tussen 90 en 250 cm om ’n vrag uit te werk wat presies op jou vragmotor se bak pas.
Omdat jy nie, soos met ronde bale, oop ruimtes tussen bale saamry nie, laai Ernst 48 groot reghoekige bale in vier vervlegte lae op ’n vragmotor teenoor 16 ronde bale.
As jy in ag neem dat hy vanaf Messina tot op Bapsfontein werk en voer lewer, kan jy dink watter belangrike nuwe wêreld hierdie bieliebaler vir Ernst oopmaak.
Van deurslaggewende belang is natuurlik die rotsvaste diens en ondersteuning wat Ernst van Middelburg International Marble Hall geniet. Hy wag nooit op ’n onderdeel nie en al Middelburg International Marble Hall se gedugte kundigheid en rugsteun is voltyds byderhand.
Jy kan ook perfekte bale maak sonder sukkel. As jy in die Loskopvallei boer, skakel bloot vir Dup du Preez van Middelburg International Marble Hall by 082-410-1521, of kyk in ProAgri 89 waar jou naaste Northmec-handelaar is.