Categories: NewsPublished On: 15th February 2017

Skokgolwe na plaasmoorde in Februariemaand

By 2 min read
439 words
witkruismonument

witkruismonument web

Wreed, brutaal en hartseer. Dis hoe die afgelope tyd se plaasaanvalle beskryf moet word. Daar is nou altesaam elf mense van die begin van Februarie 2017 af op plase vermoor en daar was 30 plaasaanvalle landswyd.  Die boerderygemeenskap is in skok oor die toeneem van plaasaanvalle. Die dae van sonder jou vuurwapen rondloop en in die nag buitentoe gaan is lankal verby.

Die jongste aanval was in Balfour, Mpumalanga waar vier mense van dieselfde familie (‘n oupa, ouma, pa en ma) op die plaas Modderbult buite die dorp koelbloedig in die kop geskiet en vermoor is. Louis Smuts (48) en sy vrou, Belinda (42), se lyke is op 14 Februarie 2017 op die plaas gekry. Louis se ouers, Gert (78) en Paulina (77), is ook vermoor.

Volgens berigte het Belinda (ma) se lyk het op ’n rusbank in die woonkamer gelê. Paulina (ouma) is in die hoofslaapkamer doodgeskiet. Sy en Belinda is met ‘n kombers toegegooi. Louis (pa) se bebloede lyk is buite naby die agterdeur gekry en Gert (oupa) is doodgeskiet in ’n woonstel sowat 30 m van die hoofhuis waarin hy en sy vrou gewoon het.

Die aanvalle het vermoedelik Maandagaand 13 Februarie 2017 al gebeur. ’n Kollega van Louis wat elke oggend saam met hom dorp toe ry, het Dinsdagoggend by die plaashek vir  hom gewag en toe hy nie opdaag nie, het hy oor die hek geklim en na die huis geloop, daar het hy op die skokkende toneel afgekom.

Volgens ‘n berig van Netwerk24 is traumaberaders van AfriForum op 14 Februarie na die kinders van Louis en Belinda, Marcel (21) en Cherize (18), gestuur om hulle in die moeilike tyd by te staan.

Verdere moorde in hierdie week:

Daar was ook ‘n aanval op ‘n egpaar in Tzaneen Sondag (12 Februarie). Ryno Janse van Rensburg (36) is Maandagaand (13 Februarie) op ’n hoewe in die Roodekuil-gebied buite Bela-Bela (Warmbad) vermoor. Die ergste is dat hy net die huis op die hoewe opgepas het terwyl die eienaars met vakansie was. En ‘n egpaar is Dinsdag(14 Februarie) op ’n plaas in die Koster-distrik in Noordwes aangerand.

Die slagoffers wat sedert Februarie aangeval is:

1 Februarie: Trevor Rees (76) word in die Underberg-gebied in KwaZulu-Natal aangeval, hy is drie dae later dood.

2 Februarie: Nicholaas Harmse sterf in ’n hoewe-aanval in Kameeldrift-Wes buite Pretoria. En nog ‘n man sterf in ‘n hoewe-aanval buite Pretoria.

3 Februarie: Danie Kilian word op Leeupoort buite Bela-Bela (Warmbad) vermoor.

6 Februarie: Pieter Hendrik Pieterse word op ’n plaas buite Lephalale (Ellisras) vermoor.

8 Februarie: Niels Erichsen word op ’n hoewe buite Rustenburg aangeval en is drie dae later dood.

13 Februarie: Vier lede van die Smuts-familie word buite Balfour, Mpumalanga, doodgeskiet.

13 Februarie: Ryno Janse van Rensburg word op ’n hoewe buite Bela-Bela vermoor.

Bron: Netwerk24

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0