Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Sitrusboere voer minder-uit maar kry meer euros

By 1 min read

Suid-Afrika se sitrusuitvoere na die Europese Unie (EU) het sedert verlede jaar met 9% in waarde gestyg, ondanks die feit dat die oeste deur die lastige sitrusswartvlekswam (CBS) getref is. So sê die EU se ambassadeur in Suid-Afrika, Roeland van de Geer.

“Wetenskaplikes uit die Europese Unie stry nog steeds met hulle eweknieë in Suid-Afrika oor of CBS Europese sitrus kan besmet,” het hy aan joernaliste gesê. Intussen het die invoere vanuit Suid-Afrika voortgegaan, maar onder streng beheer om te voorkom dat enige vrug met die swart kol op sy vel in die EU-mark beland.

EU-amptenare het gesê Suid-Afrikaanse sitrusprodusente het self besluit om aan die einde van verlede seisoen sitrusuitvoere na die EU te stop omdat te veel CBS-besmette vrugte vir uitvoere ontdek is.

Die uitvoervolume het effens gedaal, maar die geldwaarde het met sowat nege persent toegeneem as gevolg van hoër pryse in Europa.

Nadat die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf uitvoere vanuit CBS-aangetaste gebiede gestop het, het sake aansienlik beter verloop. ‘n Span van die EU se Food and Veterinary Office het onlangs ‘n besoek aan Suid-Afrika gebring en tot die gevolgtrekking gekom dat Suid-Afrika se maatreëls aan die EU-wetgewing voldoen.

Meer as 34% van Suid-Afrika se sitrus word na die EU uitgevoer en 40% van alle sitrus wat in die winter op die vasteland verbruik word, word uit Suid-Afrika ingevoer.

Bron: Freshplaza

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0