Categories: SafetyPublished On: 21st September 2017

Sien raak om raak te skiet: Trijicon het ’n optiese teleskoop vir jou

By 4 min read
738 words
trijicon

trijicon

Lichtenburg se mense weet almal as jy van Fisher’s praat, bedoel jy die wapenhanhandelaar, Fishers Shooters. Dit is ook waar jy vir Etienne van Rensburg sal kry, ’n man wat self ’n uitstekende skut is en bekend is in die boeregemeenskap as iemand wat jy kan vertrou om goeie taktiese noodweeropleiding te gee.

“Dit gaan mos maar rof in die platteland met die plaasaanvalle,” sê Etienne. “Ons het ook ’n redelike vlaag hier in die weste gehad en dan loop ons ook erg deur hier in die Coligny- en Lichtenburgomgewing onder die veediewe en kabeldiewe. Boere moet maar altyd op hulle hoede wees.”

Dit is vir Etienne baie belangrik dat mense vuurwapens verantwoordelik gebruik en met respek vir lewe. Hy sê ’n vuurwapen behoort jou laaste opsie te wees, maar wanneer jy dit nodig het moet jou toerusting reg wees en geskik vir vinnige optrede. Dit is waarom hy Trijicon se optiese teleskope verkies. “Daar is net niks wat met Trijicon se ACOG en “red dot”-tegnologie vergelyk nie. Dit is ongelooflik vinnig en maklik om met hulle te skiet, want as jy dit eenmaal ingestel het, bly dit inge-stel en jy kan net gryp en korrel. Daar waar jy sien, is waar jy skiet.”

Etienne gebruik ook die toerusting vir sportskiet. Hy is betrokke by sportskietgroepe soos die IPSC en IDPA waar werklike gevaarsituasies nageboots word en die deelnemers teen tyd deur ’n baan moet beweeg en seker maak hulle skiet die “vyande” wat om elke hoekie en draaitjie skuil. Hy sê daar is nie nog tyd om te sukkel met teleskope nie, jy moet oplig, sien en skiet en dit moet werk vir pistole en gewere. Etienne het sy ACOG in 2002 gekoop en naas die betroubare akkuraatheid, is dit die robuustheid wat hom die meeste beïndruk. Hy sê dit geld vir al Trijicon se toerusting. “My ACOG het al baie stampe en stote weg en het nog niks oorgekom nie. Jy tel hom op en gaan aan,” sê hy.

So werk die tegnologie

ACOG (Advanced Combat Optical Gunsight) is ontwikkel vir gebruik deur weermagte en is ook die gewildste militêre teleskoop in die wêreld. Dit word saam met Trijicon se ander toerusting deur ECM in Suid-Afrika na handelaars soos landbouwinkels versprei.

Ross Forsyth van ECM verduidelik dat ’n ACOG uit een stuk aluminium gegiet word. Daar is geen los onderdele, behalwe vir die noodsaaklike verstellings nie. Maar dit is net een deel van die tegnologie waaroor Trijicon gaan. Die storie van Trijicon het ’n interessante Suid-Afrikaanse hoek. Eric Milburn, eienaar van ECM, sê die gebruik van tritium as selfverligtende middel in ’n optiese vergrotingsteleskoop is deur Glyn Bindon, ’n boorling van Durban, ontwikkel. Tritium beteken dat ’n teleskoop nie batterykrag nodig het vir verligting nie. Glyn het sy werk in Amerika voltooi en dit is waar die Trijicon-maatskappy gestig is. Aanvanklik was tritium nie beskikbaar vir die algemene publiek nie en Glyn het baie hard daaraan gewerk om die regulasies gevestig te kry sodat almal die voordele kon geniet.

Eric sê in 1985 is ECM gestig en in 1990 het ECM die agent vir Trijicon in Suid-Afrika geword. Die twee maatskappye stap dus al ’n lang pad saam. Glyn is ongelukkig in 2003 in ’n vliegongeluk oorlede en sy seun, Stephen, bestuur nou die maatskappy.

So lyk die reeks

ACOG®, voldoen aan militêre standaarde, daarom is dit nie goedkoop nie, maar Trijicon se reeks in Suid-Afrika sluit ook produkte in wat ’n kleiner aanspraak op ’n man se sak maak.

ACCUPOINT® is die teleskoop wat ontwikkel is vir die ernstige sportman en jagter. Dit is bestand teen die elemente, benodig geen batterykrag nie en kan gestel word om voorsiening te maak vir faktore soos wind en hellings. Dit bied vinnige fokus en werk ook uitstekend in swak lig.

ACCUPOWER® is die teleskoop wat die meeste boere kies. Die prysklas is reg en die teleskoop is geskik vir verskillende toepassings; van die jagveld, op die sportbaan tot vir selfverdediging. ’n Enkele litiumsel (battery) word benodig en jy kry ’n ongelooflik helder prentjie deur die lens.

Die Trijicon RMR® (Ruggedized Miniature Reflex) is nog ’n vernuftige stukkie toerusting waarna boere gerus kan kyk. Die “red dot”-miniatuur optiese toestel kan op ’n pistool, geweer en selfs haelgeweer aangebring word vir vinnige voltreffer-skietwerk.

Kry meer inligting oor al die tegnologie op www.ecmtech.co.za of gesels met jou naaste wapenhandelaar of landbouwinkel oor Trijicon se toerusting.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0