Shell en boerdery kom honderd jaar saam
Toe Jan Smuts net na die Tweede Vryheidsoorlog met Royal Dutch Shell begin onderhandel het oor hulle vestiging in die Unie, was oom Hans Hattingh senior, ’n boer tussen Devon en Nigel, wat in Smuts se commando geveg het en later ’n groot vriend van die staatsleier geword het, so beïndruk met die maatskappy dat hy net daar en dan besluit het om net met hulle sake te doen. Hierdie besluit het in ’n lewenslange verhouding ontwikkel, wat oorgespoel het na sy seun, Hans junior, en kleinseun, Danie, wat vandag buite Heilbron boer. Danie se seun, Francois, boer al 14 jaar saam met sy pa en het ‘n 10-jarige seun, klein Danie, wat hopelik ook eendag sy voorouers se skoene gaan volstaan. Danie was ook op sy dag bestuurslid van Vrystaat Landbou en boer op verskeie plase in die distrik, waar hy mielies, soja en sonneblom verbou.
“My pa het my vertel dat my oupa destyds die paraffienkonkas op sy klein tweesitplek Chevrolet-karretjie se agterste bak gelaai het en plaas toe gebring het vir die kar en die boerdery,” sê Danie. Toe my oupa in die twintigerjare sy eerste Farmalltrekker gekoop het wat ook op paraffien geloop het, was dit steeds Shell wat getrou paraffien en petrol aan hom verskaf het.
Danie se pa het die boerdery in die dertigerjare oorgeneem. Hy het besluit om Heilbron toe te trek en die verhouding met Shell moes saamkom. Hy kon toe sy Shell-produkte vanuit Heilbron bestel. Die eerste trekker wat sy pa gekoop het, was ’n Hanomag wat ook lekker op Shell se diesel en petrol geloop het.
Shell het in die 1950’s vir die plaas sy eerste dieseltenk gegee, wat sake baie makliker gemaak het. Soos die boerdery oor die jare uitgebrei het, is die diesel in dieselkarretjies getap wat later tydens plant- en strooptyd die houtenks op die ander plase moes volhou.
In 2001 het Sebokeng Fuels die onafhanklike voorkeurverspreider van Shell in die streek geword. Hulle het eers die diesel vanuit Vereeniging plaas toe aangery totdat hulle die tak in Heilbron oopgemaak het. Sebokeng Fuels, nou een van Shell se handjievol Topverspreiders (Branded Distributors), se hoofkantoor is in Vereeniging met takke in Lichtenburg, Rustenburg, Warmbad, Ellisras en Pietersburg en dan Heilbron, waar 90 persent van dié tak se kliënte boere is.
Met die nuwe tegnologie in die byderwetse toerusting op Danie se plaas is die werktuie baie sensitief vir die diesel en olie wat hulle gebruik. “Ons het een keer diesel vanuit ’n leë gifdrom wat met water uitgespoel was in die selfloopspuit se tenk gegooi,” vertel Danie. “Toe ons die selfloopspuit se enjin aanskakel, het dit ’n oomblik daarna gevrek. Die spuit se enjin het die amper weglaatbare klein persentasie vreemde deeltjies soos blits opgetel en gestop voordat dit kon skade maak. Jy kan nie meer kanse waag met die produkte wat jy in jou toerusting gooi nie.”
Danie gebruik 300 000 liter Shell V-Power met ’n 50 ppm swaelinhoud per jaar in sy moderne toerusting, asook Shell se Rimula hidrouliese olie, TU Extra, wat spesiaal vir landbouratkaste vervaardig word, en Shell se enjinolie wat stiptelik tydens elke versiening vervang word. Shell se Gadus-ghries word ook met groot sukses tussen enige twee ysters wat teen mekaar werk, ingesmeer.
“Sedert ek die vorige 500 ppm Shell Xtra diesel met die V-power se 50 ppm vervang het, het ek tot 12 persent brandstof oor ’n jaar bespaar. Sonder moderne enjin- en minimumbewerkingtegnologie en Shell se laeverbruikdiesel sou ek nooit kop bo water gehou het in hierdie mededingende tye nie,” sê Danie.