Categories: NewsPublished On: 20th June 2017

Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat

By 2 min read
310 words

skape

Goeie samewerking tussen boere en lede van die Polisie op Reitz het die naweek bygedra tot die arrestasie van ses verdagtes, waarvan sommige verkeers- en munisipale beamptes is, in verband met veediefstal. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting, volg die arrestasies na ’n saak van veediefstal twee weke gelede by die Polisie op Reitz aangemeld is.

Een van die verdagtes het beeste by ‘n spekulant in die dorp afgelaai wat verkoop moes word. Die spekulant is ook ’n boer en het die brandmerke aan die diere herken. Hy het Johan Kriek, veiligheidsverteenwoordiger van die Reitz Distriks-boerevereniging, en die plaaslike Polisie in kennis gestel. Die boer wat die vee as gesteel aangemeld het, het die vee gaan uitken, en daarna het die arrestasies gevolg.

Kriek sê die distrik het van die begin van die jaar af las van veediefstal, en in verskeie gevalle is meer as 30 stuks vee per voorval gesteel. “Aan die modus operandi van die voorvalle kan ’n mens sien dat die insidente goed georganiseer is. In Maart die jaar is tot 42 stoetbeeste tydens een voorval gesteel.” Kriek sê hulle is baie dankbaar vir die goeie samewerking wat oor die algemeen tussen boere en die Polisie in die distrik bestaan, want dit het bygedra tot die deurbraak.

Volgens die lessenaar word verdere ondersoeke tans onderneem om vas te stel hoe wyd die samewerking tussen die verdagtes uitkring. Een van die verdagtes is ’n verkeersbeampte van Warden. Merwe Terblanche, koördineerder van die plaaswag van die Warden Distriks-boerevereniging, sê dié distrik ondervind ook ernstige veediefstal probleme.

Dié arrestasie volg na munisipale beamptes van Warden aan die einde van verlede jaar in hegtenis geneem is na plaaslike boere onraad vermoed het toe skape op ’n Sondagoggend met ’n munisipale bakkie, wat nie aan vereistes vir die vervoer van vee voldoen het nie, op ’n hoofweg gesien is.

Bron: Vrystaat Landbou

0
Views: 385Comments Off on Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat

Deel hierdie artikel.

0