Categories: NewsPublished On: 10th December 2014

Senwes groei nou lekker tussen die mielies

By 2 min read
453 words

Die noord-westelike streek van die land is wipplank-mieliewêreld, want na die vorige twee jaar se versengende droogte wat gedreig het om graanboere te vernietig, het hierdie seisoen se oorvloedige reën op die regte tye die skaal weer na die anderkant laat oorhel – wat sakke vol geld vir Senwes beteken het.

Die tweede grootste Suid-Afrikaanse mielie-oes ooit – ‘n allemintige 14,07-miljoen ton – is vanjaar gestroop.

Hierdie herstelvermoë van landbou word duidelik in Senwes se eerste sesmaanderesultate vir die 2015-boekjaar-weerspieel.

“Die verwagte herstelpad na normaal sou twee tot drie seisoene duur, maar die verval is in een seisoen gestuit. ʼn 41%-styging in die genormaliseerde wesensverdienste tot 31 Oktober 2014 dui daarop dat die herstel vinnig en robuust was – en boonop hoe onvoorspelbaar en vloeibaar landbou is,” het Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, gesê.

Senwes se omset het met 5,5% gegroei na R5,3-miljard en die bruto wins het vanaf R499-miljoen einde Oktober verlede jaar teruggekeer na R579-miljoen. ʼn Netto wins na belasting van R114-miljoen is vir die ses maande tot 31 Oktober 2014 behaal, wat 34,5% laer is as die ooreenstemmende vorige jaartydperk. ʼn Wins ten bedrae van R118-miljoen uit die kleinhandelsbesigheid-samevoeging met AFGRI is ingesluit in die vorige jaar se wins na belasting van R174-miljoen.

Die balansstaat het heelwat vinniger herstel en die opbrengskoerse het verhoog. Kontantvloei van R294-miljoen is uit bedrywighede behaal en R23-miljoen is teruggeploeg in kapitaalprojekte. Die netto batewaarde per aandeel het verhoog van R9,58 per aandeel op 30 April 2014 na R10,06 per aandeel teen einde Oktober 2014, selfs nadat ‘n finale dividend van 22 sent per aandeel in September vanjaar betaal is.

Senwes se strategiese oorsig is om steeds sy roetekaart na 2020 met deurlopende evaluasie te volg om te sien watter aksies en beleggings stukrag gee aan die groeistrategie.

Die Afrika-besighede is gedurende die termyn geherstruktureer en oorgrenstransaksies sal in die toekoms vanuit Senwes bedryf word

Volgens die verslag is Senwes tevrede met die vennootskappe in Hinterland; CertiSure; Grasland; JD Implements; Senwes Asset Finance, Grainovation; ESC en TradeVantage. Prodist lewer nog nie aanvaarbare resultate nie, maar het reeds bewese markaandeel bekom en ‘n drasties verbeterde strategiese posisionering en finansiële resultate is in die vooruitsig vir die komende seisoen.

Uitdagings word só in die verslag beskryf: “Die mark is steeds hoogs gefragmenteer, beperk geïntegreerd en deelnemers ervaar toenemende uitdagings om relevant te bly teen internasionale konglomerate. Konsolidasie, reorganisasie en spesialisasie bly ons teenvoeter vir dié genoemde uitdagings. Die daarstel van ‘n samewerkingsvoertuig om nasionaal mee te ding, sal broodnodige kritiese massa bring en oorlewingsvermoë verhoog. Nuwe markte wat risiko verlaag, sal ook verder ondersoek word.”

‘n Tussentydse dividend van 24 sent per aandeel (2013: 26 sent per aandeel) is verklaar vir alle aandeelhouers geregistreer op die register van 8 Desember 2014 en sal betaal word teen 12 Desember 2014.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0