SAPD wil vuurwapenamnestie instel

vuurwapen
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het versoek om ‘n vuurwapenamnestie van 1 Februarie tot 31 Julie 2018 in te stel, in ‘n desperate poging om hulleself te red na aanleiding van beskuldigings dat die SAPD nie in staat is om vuurwapenwetgewing (die Vuurwapenbeheerwet: 60 van 2000 soos gewysig) doeltreffend te bestuur en te administreer nie.
Fred Camphor, hoofuitvoerende beampte van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging sê wetsgehoorsame vuurwapeneienaars in Suid-Afrika byt die spit af van stelselsfoute in die SAPD se vuurwapenafdeling en die Sentrale Vuurwapenregister (CFR).
“’n Voorgestelde amnestie sal nie die probleme wat deur SAPD en die vuurwapeneienaars ervaar word, oplos nie.”
Belanghebbendes in die vuurwapengemeenskap is gefrustreerd met die swak prestasie deur die SAPD.
Van die struikelblokke in die pad van ‘n goed bestuurde, betroubare vuurwapenbeheermeganisme sluit in:
- Deurlopende probleme met lisensiëring van vuurwapens;
- willekeurige hantering van laat aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies tussen 2011 en 2016
- inkonsekwente toepassing en vertolking van vuurwapenwetgewing deur SAPD-kantore landwyd; en
- gebrek aan kommunikasie van SAPD na die vuurwapengemeenskap.
Dit is die tweede keer dat die SAPD probeer om ‘n vuurwapenamnestie in werking te stel, wat hulle beweer sal help om onwettige vuurwapens uit die samelewing te verwyder.
In sy nuwe voorstel van 8 November het die SAPD die parlementêre portefeuljekomitee van polisie (PPCP) probeer oortuig dat die amnestie ‘n oplossing is om die samelewing van onwettige besit van vuurwapens te bevry en wettige vuurwapeneienaars die geleentheid te gee om aansoek te doen vir hulle lisensies.
“Amnestie is nie ‘n vinnige oplossing vir ‘n stelsel se mislukking nie,” sê Fred.
Gedurende twee vorige amnestie-periodes in 2005 en 2010 kon geen van die ongeveer 123 000 vuurwapens wat ingehandig is, verbind word met misdadige bedrywighede nie en niemand is vervolg vir enige wandade wat voortspruit uit vuurwapens wat ingedien is nie.
“Die tydsberekening vir die versoekte amnestietydperk is ook verdag,” sê Fred. “Ons glo dat die SAPD van plan is om die vuurwapenamnestie te gebruik om ‘n meganisme vir wettige herlewing te skep om die uitslag van die Grondwethof se verhoor op 8 Februarie 2018 te voorspel.”
SAPD se appèl volg op 4 Julie 2017 se uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof, ten gunste van SA Jagters se aansoek om Artikel 24 en 28 van die Wet op Vuurwapenbeheer ongrondwetlik te verklaar.
Dit lyk egter onwaarskynlik dat ‘n amnestietydperk deur die Nasionale Vergadering betyds goedgekeur sal word vir Februarie 2018.
Indien al die beraamde 300 000 vuurwapeneienaars wat vergeet het om hulle vuurwapenlisensies betyds te hernu, besluit om hulle vuurwapens gedurende die amnestie-tydperk by die polisiestasies in te dien, terwyl hulle aansoek doen om nuwe lisensies, is dit hoogs onwaarskynlik dat die SAPD die vermoë het om die vuurwapens veilig te berg en om die administratiewe las te bestuur.
Fred sê dat die adjunk-kommissaris in 2015 erken het dat die SAPD nie genoeg stoorplek het nie. Die publiek het vertroue in die SAPD verloor ná onlangse gebeure waar ongeveer 20 semi-outomatiese gewere van die polisie uit twee SAPD-kantore in die Wes-Kaap verdwyn het. Daar is ook die geval waar ‘n voormalige beampte betrokke was by die diefstal van meer as 2 000 vuurwapens wat in die hande van bendes in die Wes-Kaap beland het.
Tydens vergaderings van die PPCP het die SAPD-beamptes verskeie tekortkominge in die stelsel erken, soos:
- SAPD-beamptes by sekere polisiekantore kan nie vertrou word om vir vuurwapens te sorg nie;
- Deurlopende swak dienslewering en teenstrydighede in die verwerking van vuurwapenlisensie-aansoeke en die uitreiking van lisensies kom voor;
- Gebrek aan tegniese vaardighede en kennis oor vuurwapens onder die toegewysde vuurwapenbeamptes (DFO’s) by stasies;
- Verouderde IT-stelsels en die feit dat twee parallelle datastelsels nie geïntegreer is nie, ondanks die feit dat maatskappye dit jare gelede gedoen het;
- Gebrek aan stoorplek vir die grootste deel van die papierwerk wat met die lisensiestelsel verband hou.
Die SAPD se belanghebbende betrokkenheidsproses was ook nie baie goed die afgelope twee jaar nie.
SA Jagters is een van 12 geakkrediteerde jag- en sportskietverenigings wat in 2004 ‘n konsultasieforum op die been gebring het om met die SAPD te skakel. Sedert 2012 het die verhouding tussen die SAPD en die Jagtersforum afgeneem en tot stilstand gekom in 2015. Pogings om die verhouding weer te laat herleef in 2016 het gefaal omdat die SAPD nie ‘n forumvergadering bygewoon het om die pad vorentoe te bespreek nie.
Tot op datum het die SAPD se planne van ‘n sogenaamde omkeerstrategie na ‘n meer doeltreffende stelsel geen positiewe verandering na vore gebring nie.
Verskeie aanbiedings van die privaatsektor om die SAPD te help om die lisensiestelsel te verbeter – sonder koste vir SAPD – is geïgnoreer.
SA Jagters glo dat die oorhaastige poging van die SAPD om ‘n vuurwapenamnestie vroeg in 2018 in werking te stel ‘n rookskerm is vir die toesmering van ‘n onbehoorlike stelsel en wetgewende tekortkominge.
“Die probleme sal nie weggaan sonder om die swakhede van die huidige stelsel aan te spreek nie. Ons is vol vertroue dat die uitspraak van die Grondwethof weer ten gunste van rasionele en konstruktiewe kritiek sal wees wat positiewe verandering kan meebring,” sê Fred.
“Tot dusver het ons enorme ondersteuning van verantwoordelike vuurwapeneienaars, wettige burgers en georganiseerde vuurwapengemeenskappe geniet. Ons vertrou dat hierdie ondersteuning in die aanloop tot die verhoor op 8 Februarie 2018 sal toeneem.”
Bron: SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging