Categories: NewsPublished On: 9th March 2017

Sapa soek invoerbeskerming vanaf regering

By 1 min read
237 words
hoender

hoendersweb

Die pluimveebedryf kan tot 50 000 direkte en indirekte werksgeleenthede, insluitend in die graanbedryf, skep as Suid-Afrika nie hoender invoer nie. Dit is volgens die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging (Sapa), wat sê dat die bedryf in die moeilikheid is as gevolg van ‘n ooraanbod van hoender vanaf die Europese Unie.

Die Vereniging, wat verlede week in die parlement ‘n voorlegging gedoen het, vra die regering om in te gryp. Die droogte het ook bygedra tot die bedryf se nood, want dit het gelei tot ‘n styging in hoendervoerpryse.

Sapa se besturende direkteur, Kevin Lovell, sê: “Die oorlewing van die bedryf, voedselsekuriteit, die ekonomie en 130 000 werkers en hulle familie is grootliks nou in die hande van die regering. As die regering ons help oorleef, kan ons groei en bydra tot die toekoms van ons land.”

“In Februarie het Rainbow 1 350 werkers, insluitend bestuurders afgedank. Country Bird sal sy Mahikeng abattoir moet toemaak en 939 direkte en 1 605 indirekte werksgeleenthede sal dan verlore gaan.”

Die plaaslike bedryf en unies sê dat die EU hoenderbene, dye en vlerke teen lae pryse verkoop, maar die EU sê dat hulle boere net meer mededingend as die in SA is.

In Desember het die minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies, ‘n voorlopige 13,9% beskermingsinvoerbelasting op Europese beenhoender in terme van SA se ekonomiese vennootskapsooreenkoms met die EU goedgekeur.

Sapa sê dis nie genoeg nie, die vereniging het aansoek gedoen vir ‘n 37% heffing op die invoere.

Bron: Business Day en Bizcommunity

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0