Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 11th July 2022

Voorkom saailing- of Wortelsiektekompleks

By 7 min read
1261 words

Picture898484

Deur Philip Fourie – Pioneer-Landboukundige

Dit is algemeen bekend dat aanhoudende verbouing van dieselfde gewas op dieselfde grond lei tot “moeë-” of “siek grond”, met gevolglike verlaging in opbrengste oor tyd. Dit gebeur egter nie tot dieselfde mate vir alle gewasse nie en dit is ook nie altyd as gevolg van dieselfde oorsaak nie. In die somersaaigebiede het die boer nie veel alternatiewe tot sy beskikking nie, maar wisselbou kan toegepas word tussen mielies, sojabone en sonneblom. In sommige gevalle word ook grondboontjies, droëbone en selfs katoen as alternatiewe gewasse gebruik.

Saailingverwelk- of gewaswortelvrotte is seker van die mees onderskatte siektes in die somersaaigebiede in Suid-Afrika. Een rede daarvoor is dat
baie van die simptome onder die grondoppervlakte voorkom en wanneer dit bo-gronds opgemerk word is dit reeds te laat.

Wortelvrot en saailingverwelk  word deur ‘n verskeidenheid van swamme veroorsaak en kan selde aan een enkele oorsaak toegeskryf word, daarom verwys ons na dit as ‘n wortelsiektekompleks.

In somerrygewasse word swak stand gewoonlik toegeskryf aan omgewingstoestande of swak saadgehalte. Ons vergeet heeltemal wat die simptome en omgewingstoestande was tydens saailingontwikkeling, want ons is te gejaagd tydens plant en vergeet dat daar iets is soos grondswamme.  Min navorsing word gedoen en min word verstaan, deels as gevolg van die moeilike geïntegreerde grond- en wortelsiektekompleks. Soos genoem is saailingverwelksimptome nie noodwendig die finale stadium van wortelsiektes nie, dit die primêre besmettingsbron wees wat later as kroon- en stamvrot geïdentifiseer word.

Wortelvrot, kroonvrot en saailingverwelk

Saailingverwelk is die term wat gebruik word om verrotting van jong saailinge gelyk met of net bo-op die grondoppervlakte te beskryf. In die meeste gevalle gaan dit gepaard met verrotte, sagte, slymerige stammetjies en klein saailinge bo die grondoppervlakte wat wegkwyn en verdwyn. Dieselfde swamme wat saailingverwelk, stamskade en -letsels veroorsaak is gewoonlik ook die wat wortelvrot veroorsaak.

Die mees algemeenste wortelswamsiektes of saailingverwelksiektes waarmee ons te doen het is Pythium-saailingverwelk, Rhizoctonia-wortelvrot en Fusarium-wortelvrot.

Pythium

Val baie jong saailinge aan. Dit val die stam aan en beweeg opwaarts tot by die saadlobbetjies. Dis ‘n parasitiese swam en kan baie verskillende gewasse aanval. In die teenwoordigheid van vog versprei Pythium vinnig deur verskillende vorme van grond.

Phytophthora

Dit val ook jong saailinge aan soos Pythium, gewoonlik saam in ‘n kompleks.  Phytophthora is egter baie meer aktief en meer aggresief. Dit kan enige gewas aanval.

Fusarium

Word geassosieer met ‘n ligte- tot donkerpienk verkleuring van die binneste lae van die verrotte materiaal, veral die wortels. Fusarium is gewoonlik sekondêr tot ander parasitiese swamme. Fusarium is ‘n swakker tipe parasitiese swam wat gewoonlik ander swamme opvolg of materiaal aanval wat reeds verswak is deur ander swamme.

Rhizoctonia

Daar is duidelike verrotting van die stam net bo die grondoppervlakte, die letsels is eers grys en wateragtig, dan droog dit vinnig uit, verbruin en word versonke.   

Ander grondgedraagde swamme sluit in Exserohilum, Aspergillus, Penicilium en Trichoderma. Die graad van siekteinfeksie kan verskil tussen grondtipes (ten opsigte van kleipersentasie), grondtemperature, bekalking, grondvrugbaarheidstatus en algehele grondgesondheid. Die verskillende swamme kan van mekaar verskil in hulle voorkeur vir omgewingstoestande (vog en temperatuur) en die gewasgasheer (volgens van Rensburg, LNR-Graangewasse, Potchefstroom).

Die tipe siekte verskil ten opsigte van die gasheer en genotipe, omgewingsfaktore en die voorafgaande gewas. Verskillende swamme of patogene verskil in die intensiteit om ‘n siekte te veroorsaak.

Faktore wat wortelsiektes bepaal:

Die intensiteit waarmee wortelsiektes die gasheer affekteer word bepaal deur:

  •  Plantdiepte
  • Grondstruktuur
  • Saadkwaliteit
  • Meganiese saadhuidskade
  • Insekvoeding
  • Genetiese weerstand
  • Omgewingstoestande

Opbrengsverliese:

Dit is uiters moeilik om opbrengsverliese van die jong besmette saailing te bepaal. Wat dit ook moeilik maak is om veldtoestande in die glashuis te simuleer. Dit is moeilik om veldsimptome op lande wat onder verskillende omgewingstoestande teenwoordig is, binne ‘n kweekhuis onder beheerde toestande te simuleer. Die variasie is net te veel in die siektekompleks, en om goeie navorsing te doen op die siektekompleks is uiters moeilik. Versamelende swamme bestaan gewoonlik uit ‘n kompleks van veroorsakende en sekondêre patogene. Teen die tyd dat plantweefsel afgebreek word, is meer saprofitiese swamme en bakterië teenwoordig, en is dit bykans onmoontlik om die primêre siekteveroorsakende swam te identifiseer.

Om opbrengsverliese te bepaal, kan aanvaar word dat saailinge wat nie tot volwasse plante ontwikkel nie, ‘n verlies aan stand het, dus is daar minder plante wat ‘n bydrae kan lewer tot die finale oes. Indien wortelsiektes lei tot kroon- en stamvrotte sal die besmette plante nie hulle volle genetiese potensiaal bereik nie, weens swakker ontwikkelde wortelstelsel wat water- en voedingstofopname belemmer. Verswakte stamme lei ook tot omval en stamknakke wat die oesproses belemmer.

Wortelsiektes:

Pythium – mielies

Simptome:

  • Mees algemeenste siekte, geassosieer met jong saailinge en saailing wortelsiektes
  • Donker verkleuring en slymerige mesokotiel wat wegkrimp
  • Buitenste wand van wortel is verrot terwyl binnekant geen simptome wys nie
  • Die korteks (buitenste laag) sal afkom as die wortel tussen jou vingers getrek word
  • Kan saadverrotting veroorsaak voor ontkieming, maar besmette saailinge meestal net na opkoms

Omgewing:

  • Koel nat gronde, veral laagliggende en swak gedreineerde gebiede
  • Kritiese faktor – oormaat vog (water), versuiptoestande ongeag die temperatuur

Fusarium – mielies

Simptome:

  • Rooibruin letsels op die worteltjies of mesokotiel
  • Mesokotiel krimp weg
  • Op ouer plantwortels is die letsels donkerder van kleur en wortels wat totaal wegvrot

Omgewing:

  • Fusarium kom voor onder ‘n wye spektrum van temperature en vogtoestande, maar plante moes ………
    • Stremming ondergaan het (kompaksie, koue, versuip)
    • Intensiteit van siekte verhoog soos wat stremmingtoestande toegeneem het
    • Insekvreetskade op die wortels veroorsaak dat die siekte op beweeg na die kroon en basis van die plant
    • Laat infeksie veroorsaak stamvrot na bestuiwing en graanvul

Rhizoctonia – mielies

Simptome:

  • Aanvanklike simptome sluit in bruin letsels op die wortels en mesokotiel
  • Versonke letsels en verotte wortels
  • Mees herkenbare simptome is rooibruin versonke kankers op die wortels, kroon en veral stutwortels van ouer plante
  • Plante mag verdwerg wees, maar meestal geen bo-grondse simptome sigbaar nie

Omgewing:

  • Siekte kom meer voor onder besproeiing
  • Kan wortels infekteer tussen 8-28⁰C
  • Volwasse plante kan omval as gevolg van swak of geen wortelontwikkeling

Pythium – sojabone

Simptome:

  • Pythium val saad aan voor en net na ontkieming
  • Sade is sag en verrot met gronddeeltjies wat aan die sade vasklou
  • Saailingverwelk word geassosieer met die hipokotiel wat vernou (wurg) en dan skerp afsterf
  • Tydens opkoms, vrek jong saailinge af voordat die eerste blare gevorm het
  • Pythium-plante trek maklik uit die grond uit, omdat al die worteltjies afgevrot het

Omgewing:

  • Verkies temperature laer as 15⁰C, op vroeë aanplantings dalk die eerste siekte wat sojabome sal besmet
  • Geenbewerkingslande met baie plantreste, verdigte gronde met vog en koel temperature sal heel moontlik Pythium-besmet wees.

Rhizoctonia – sojabone

Simptome:

  • Plante is verdwerg en oor tyd sterf dit bogronds af
  • Die simptome sluit in bruin letsels op die wortels en mesokotiel
  • Die versonke letsels lyk of die buitekant van die epidermis weg is, wat net die interne gedeelte van die stam of wortel blootstel

Omgewing:

  • Siekte kom meer voor veral op sandgrond en in hoë grondoppervlaktemperature
  • Kan wortels besmet tussen 8-28⁰C
  • Volwasse plante kan omval as gevolg van swak of geen wortelontwikkeling

Fusarium – sojabone

Simptome:

Saailinge

  • Swak ontkieming en swak groeikragtigheid
  • Meestal verdwergde plante

Wortels               

  • Wortels vertoon donker en rooi
  • Swak nodulasie

Fusarium verwelk

  • Boonste blare verdor, en val af
  • Bruin verkleuring van vaatbundels in die stamme
  • Verrotting van stamme is nie bo-gronds sigbaar nie

Beheermaatreëls:

  • Gewasrotasie
  • Genetika – daar bestaan nie totale weerstandbiedendheid nie, maar verdraagsaamheid verskil
  • Chemiese en biologiese beheer – saadtoegediende swamdoders, al is dit net vir die eerste paar weke
  • Bestuur voorkomend nie regstellend nie
  • Goed gedreineerde gronde

Bronne:

Verskeie artikels: Dr.B. Jansen van Rensburg, LNR – Graangewasse, Potchefstroom Pioneer Hi-Bred: Field Facts, Crop Insights, Crop Focus

Vir meer inligting gaan na www.pioneer.com/za of stuur ‘n e-pos na info.rsa@pioneer.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0