SA boere kan moontlik droogtehulp van die buiteland ontvang

droogte
Suid-Afrikaanse boere wat swaarkry as gevolg van die droogte, kan moontlik geld vanaf die buiteland ontvang wat hulle kan help om kop bo water te hou.
Die groep Global Association of Billionaires and Millionaires (GABM) sê hulle het $70 miljoen wat sowat R1-miljard in Suid-Afrikaanse rand is, as droogtehulp ingesamel. Hulle wil graag kommersiële plaaslike boere teen 17 Augustus vanjaar help. Die GABM het Agri SA en die Departement van Landbou genader met die SA Drought Relief Project.
Daar is egter sekere voorwaardes en indien dit nie nagekom word nie sal die geld nie beskikbaar gemaak word vir die boere nie. Een van die voorwaardes is dat die Suid-Afrikaanse Regering teen die einde van die werksdag van 6 Julie vanjaar ‘n amptelike brief van bevestiging aan die GABM moet verskaf.
Daarin moet die Regering erken om die SA Drought Relief Project ten volle te ondersteun en hulle voorwaardes te aanvaar. Ook die SA Inkomstediens moet erken dat die skenking van nie-Suid-Afrikaanse burgers afkomstig is, dus moet dit belastingvry wees vir die skenkers.
Agri SA moet ook teen die einde van die werksdag van 6 Julie vanjaar ‘n amptelike brief van bevestiging aan die GABM verskaf waarin hy onder meer aandui dat hy die GABM se voorwaardes ook aanvaar.
Agri SA het op sy beurt in ‘n verklaring bevestig dat hulle ook ‘n droogteramphulpfonds het en verskeie groot maatskappye het reeds skenkings aan hierdie fonds gemaak. “Die Global Association of Billionaires and Millionaires is welkom om ook enige fondse vir die droogte in hierdie fonds in te betaal,” het Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA in Pretoria gesê.
Agri SA se werkswyse in die verband is dat waar organisasies voorwaardes vir skenkings stel, word daar in gesprek getree en ooreenkomste gesluit. “Agri SA kan nie reageer op berigte in die sosiale media of voorwaardes nakom waaroor daar nie onderhandel is nie,” het Christo bygevoeg.
Die GABM voel sterk daaroor dat die geld spesifiek vir die boere moet gaan en geen organisasie of regering nie.
Die doelwitte wat die GABM het, is om vier tot ses maande se voer, vervoerkostes en boerderybedrywighede te dek. Verder om saad, bemesting en ander hulpmiddels vir die volgende seisoen aan te koop, assok om plaaswerkers te kan betaal en belangrike bedryfskoste vir boerderybedrywighede te finansier. Verder moet die boer aan die lewe kan bly en vir sy gesin kan sorg.
Lees meer oor hierdie saak in die brief wat op LinkedIn geplaas is.