Runderpes–virus-is-uitgewis-sê-wêreldliggaam
![]() |
Die gevreesde Runderpes is nie meer nie. Volgens ‘n amptelike aankondiging wat Dinsdag deur die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid gemaak is, is die siekete wat veeboere in Europa, Asië en Afrika deur die loop van eeue geteister het, uitgewis. Dit is die eerste dieresiekte wat deur menslike toedoen uitgewis is, het Bernard Vallat van dié organisasie gesê.
Runderpes was ‘n hoogs besmetlike siekte by beeste, maar ook by skape, bokke en wild. Dit het oor die verloop van honderde jare onberekenbare skade aangerig. Vernietigende ekonomiese verliese as gevolg van Runderpes het soms tot hongersnood en opstande gelei.
Aan die einde van die 19de eeu het die siekte sub-Sahara Afrika bereik en 80 tot 90 persent van die gebied se beeste laat vrek.
In Suid-Afrika
In 1893 het die siekte tot by Mafeking versprei en terselfdertyd die Limpoporivier oorgesteek. Byna die hele Transvaal se beesbevolking het gevrek. Die Kaapse regering het te vergeefs gepoog om te verhoed dat die siekte verder suid versprei. In Oktober het die siekte tot in Kimberley gevorder.
Die regering het sy bes gedoen om die siekte teen die Oranjerivier te stuit. ‘n Duisend kilometer lange doringdraadheining is opgerig en deur die polisie gepatrolleer. Dié steng maatreëls het Runderpes se pad van verwoesting tydelik teegehou, maar op 24 Maart 1897 het dit onverwags suid van die draad uitgebreek.
Die Kaapse owehede het toe besluit om diere in te ent en nadat meer as twee miljoen beeste ingeënt is, het hulle daarin geslaag om die siekte onder beheer te bring.
Die verlies aan beeste weens Runderpes word op meer as twee en ‘n half miljoen geraam. Miljoene wildvrektes moes ook voorgekom het.
In 1901 het Runderpes weer uitgebreek maar het nie weer die groot skaalse verwoeting van 1896 gesaai nie. Teen 1903 is die siekte in die Kaap-provinsie uitgeroei en nie lank daarna nie uit die hele land uit, om nooit weer terug te keer nie.
Die wêreld staan saam teen Runderpes
Nieteenstaande die goeie vordering wat sommige lande gemaak het om die siekte op hulle eie te beveg, het dit steeds in ander lande floreer of ten minste oorleef. Hierdie gebiede het as reservoirs vir die siekte gedien wat steeds tot gereelde uitbrake gelei het.
Na 1960 het moedige pogings met ‘n nuwe entstof in verskeie wêrelddele goeie vordering teen die siekte gemaak. Dié programme is egter te gou gestaak en Runderpes het elke slag ‘n dramatiese terugkeer gemaak.
In die laat 1980s het die Voedsel en Landbou Organisasie op ‘n gereelde grondslag met ander internasionale rolspelers vergader. Dit was tydens dié gesprekke wat hulle daaraan begin dink het om die siekte vir eens en altyd uit te roei.
Met die doel voor oë is GREP (Global Rinderpest Eradication Programme) in 1994 gestig. Met die hulp van kundiges van reg oor die wêreld het GREP ‘n strategie beraam om die siekte stelselmatig en gekoördineerd te beveg. Met die samewerking van ‘n groot aantal regerings en organisasies het hulle aanvanklik daarop klem gelê om die ware verspreiding van die siekte te ondersoek. Hulle het ook lande bygestaan om uitbrake onder beheer te bring.
Daarna is grootskaalse tegniese kundigheid op die plaaslike vlak ontploei. Nuwe metodes om die siekte te diagnoseer het daartoe bygedra dat die siekte stelselmatig teruggedruk is.
Steeds later is die veeleisende taak aangepak om te bevestig dat die virus nie meer in lande en streke se dierebevolking voorkom nie.
Teen die jaar 2000 was die Runderpes beperk tot Somalië en gedeeltes van Etiopië en Kenia.
Intussen is al 198 lande met vatbare diere as Runderpesvry gesertifiseer.
Bron vir Runderpes in Suid-Afrika: http://www.nda.agric.za