Rovic: Syncroseed maak fynsaadsaai maklik
‘n Skitterende staatmaker vir koringbore is Rovic se Syncroseed-kleingraanplanter. Philip Oosthuizen van Rovic se kantoor in Kaapstad het dié voortreflike kleingraanplanter tydens vanjaar se NAMPO by Bothaville in die Vrystaat bekendgestel.
Volgens Philip gebruik boere die werktuig in die Wes-Kaap en veral in die Swartland vir die saai van kleingraangewasse soos koring, gars, hawer en kanola.
Die planter is toegerus met ‘n fynsaadbak wat hoofsaaklik bedoel is vir lusern en kanola. Dan is daar die groter bakke met ‘n inhoudsmaat van 2 350 liter en twee kleiner bakke van 1 800 liter elk. Aan die agterkant is ‘n bak vir vloeistof vir die spuit, of vir boere wat mikro-elemente saam met die tand begin toedien.
Al die aandrywers van die uitmeters is nou hidroulies beskikbaar – daar is nie meer ‘n grondwiel of ‘n meganiese aandrywer nie. Dit maak die masjien kompak en oper, want daar is nie onnodige kettings en goed wat in die pad is nie: jy kan presisie gaan met die planter!
Dit is toegerus met ‘n handewastenkie, asook ‘n seephouer. Langsaan ‘n gereedskapkis gemonteer.
Volgens Philip is die saadplaasmeganisme en die tand die belangrikste komponente van ‘n planter.
Rovic se Syncroseed-kleingraanplanter is perfek vir presisieboerdery. Die enigste ding wat meganies aangedryf word, is die pompie vir die spuit, maar dit kan ook hidroulies aangedryf word indien die kliënt dit sou verkies.
Die planter se uitmeters is uiters akkuraat.
So werk dit: ‘n Tand maak die plantvoor oop. Aan die voorkant van die tand is wolfram wat slytasie verminder en lank hou. Reg agter die tand is die buis waardeur die kunsmis geplaas word. Daarna volg die dubbelsaadlepel-beginsel waarmee die saad teen die kante van die walletjies geplaas word. Die saad word met die V-vormige drukwiel teen die rante van die slootjie vasgedruk om behoorlike grondkontak te maak. Dit verseker dat die saad gou ontkiem en die plantjies behoorlik opkom.
Die saad en kunsmis word met stewige gemonteerde pype van die verdeelkoppe af vervoer; net die onderste gedeelte van die pype beweeg, wat verseker dat hulle nie sommer verstop raak nie.
Hierdie planter is perfek vir boere wat in die Suid-Kaap kanola plant en terselfdertyd slakpilletjies wil toedien. Die kanolasaad word in die voorste saadbak en die slakpilletjies in een van die kleiner saadbakke geplaas en albei word met die spatplate versprei.
Nog ‘n pluspunt van die planter is die eweredige balansstelsel . Wanneer jy die planter oopvou en die vlerke oopmaak, word die druk steeds op die opvousilinder toegepas wat die druk eweredig oor al vier die planter se wiele versprei.
Waar daar meestal reguit lyne is, word pype van vlekvryestaal vir die saad en kunsmis gebruik. Waar ‘n pyp soos op ‘n vlerk moet knak, word plastiekpyp gebruik om die buigaksie te kan hanteer.
Die raam is ontwerp vir ‘n rywydte van 285 mm, maar dieselfde raam kan ook ‘n rywydte van 300 mm hanteer.
Agter is die tande op akkumulators sodat die druk verstel kan word om ‘n konstante werkdiepte en werkverrigting te bewerkstellig.
Die kleinste model is ‘n 21-tand met opvouvlerke, En die grootste ‘n 43 tand met verskeie modelle en konfigurasies tussenin. Groter en wyer Syncroseed modelle word binnekort bekendgestel.
Besoek Rovic se webtuiste by www.rovic.com vir meer inligting.