Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 13th December 2024

Rooibos: Nuwe verwerkingsaanleg vir saad open

By 6 min read
1153 words

1

Die rooibosteebedryf het onlangs ՚n groot hupstoot gekry met die ingebruikneming van aanleg waar rooibosteesaad verwerk word. Wanneer ՚n mens aan ՚n koppie rooibostee dink, wat wêreldwyd ՚n geliefde, gesonde warm of koue drankie is, is jou gedagtes ver van die saad van die plant Aspalathus lineari.

“Cape Natural Agri Services, wat ՚n 100%-belang in Cape Natural Tea Products het, het op 19 November hulle eerste, eie verwerkingsaanleg vir die saad van die rooibosteeplant geopen,” berig ՚n verklaring van Cape Natural Tea Products (CNTP).

“Hierdie mylpaal is ՚n teken van ons verbintenis tot en betrokkenheid by ons rooibosteeprodusente om heeltyd te groei en ondersteuning te bied, aangesien die bedryf ons passie is.”

Cape Natural Tea Products is die afgelope 26 jaar een van die grootste verskaffers van rooibostee, roosbottel (rosehips), heuningbostee en ander plantaardige produkte aan lande wêreldwyd. “Cape Natrural Agri Services is die agri-afdeling wat onder meer die aankope van die grondstowwe hanteer, tegniese advies en hulp aan ons produsente verleen op die plase en verwerkingsfasiliteite hanteer,” verduidelik Adel Brand van CNTP.

Rooibostees saadjies word in kwekerye gesaai. Die saailinge groei drie tot vier maande lank in die kwekery voordat dit in die landerye oorgeplant word. Na twaalf maande word die boonste takkies geoes, en na agttien maande word die eerste volledige oes gesny. Daarna kan die bos vir die volgende vier tot ses jaar geoes word. (Bron:https://www.rooibostea.co.za/)

Verwerkingsaanleg
Die aanleg is op Graafwater langs die Kaapse Weskus, een van die groot ontvangsgebiede waar CNTP ook ՚n
depot en droogbane het. Produsente tel merendeels hulle eie saad op die plase op, maar verkoop ook saad aan mekaar. By die aanleg word die saad behandel vir konvensionele kommersiële verbouing.

Die aanleg hanteer:

• ՚n skoonmaakproses waartydens die sade gesuiwer word van siekes of swamme waarmee die sade in die grond in kontak was;
• ՚n siftingsproses waartydens verseker word al die sade is gesond;
• ՚n skuurproses wat verseker die wande van die sade word effens dunner geskuur sodat dit water kan absorbeer om te kan ontkiem;
• ՚n chemiese proses wat verseker die sade word nie deur swamme of bakterieë aangeval voordat dit kan ontkiem nie.

“Produsente sal in Februarie volgende jaar reeds begin om die saad in kwekerye te saai met die oog daarop om die saailinge te ontwikkel en te laat groei vir die planttyd in die winter,” sê Adel.

Die volgende dienste word aangebied:

•organiese en konvensionele skuur (abrasion) van rooibosteesaad;
•swamdoder- en insekbehandeling van saad;
•saadstimulasie vir beter groei;
•individuele saadbehandeling, dus geen poelmetode; en
•՚n 14-dae omkeertyd vir behandeling.

Organiese en konvensionele skuur van saad

Organiese en konvensionele skuur van rooibostee se saad kom daarop neer dat die sade geskuur en met swamdoder behandel word om te verseker dit is gereed om in die grond geplant te word. Organiese behandeling beteken die sade word geskuur, maar nie met swamdoder behandel word nie. Die sade sal wel ՚n hupstoot kry om dit ՚n beter kans op oorlewing in die grond te gee. Die skuur van die saad is belangrik om te verseker die sade absorbeer water sodat dit kan ontkiem.

“Die chemiese behandeling is belangrik om te verseker die plantjie wat opkom word nie deur die siektes aangeval nie. Dit is veral belangrik omdat ons gronde bietjie meer siektes bevat en dus ‘ongesond’ is,” verduidelik sy.

Swamdoder en insekbehandeling van saad

Die meeste swamme wat rooibosteesaad kan besmet is in die grond gesetel en swamdoder teiken hulle, insluitend Botritis cineriae, Pythium, Phytophthora spp. en ander. Die middels is geregistreer en internasionaal aanvaarbaar.

Saadstimulasie vir beter groei

Die saad word deur die rooibostee-boere se werkers onder die rooibos-plante opgetel en gesif voordat dit na die aanleg gestuur gebring word om geskuur te word. “Sonder die skuur- proses sal die sade baie lank vat om te ontkiem of selfs glad nie ontkiem nie.”

Individuele saadbehandeling, dus geen poelmetode

Elke omgewing waar rooibostee verbou word, bied iets anders. Sade van plante in ՚n spesifieke omgewing verskaf sade met dieselfde gene, wat plante van dieselfde gehalte voortbring. As boere hulle eie saad versamel, kan dit hulle help om plante van dieselfde standaard as die ouerplant te kweek.

“Dit laat die boere toe om beter plante se sade te versamel ten einde ՚n beter opbrengs te kry – hulle kan dus die saad evalueer. Die kind is net so goed soos die ouers wat hom groot maak – dieselfde konsep geld hier: Beter ouerplante lewer ՚n beter nageslag.”

14 dae omkeertyd vir behandeling

“Ons doen intern gehalte- en ontkie-mingstoetse om te sien of die sade gaan ontkiem en stel die uitslae van die toetse tot die boer se beskikking.

“Met ՚n kapasiteit van 50 kg saad per dag is ons heeltemal in staat om gemaklik en doeltreffend in die boere se behoefte vir saadvoorbereiding te voldoen.”

CNTP doen intern gehalte- en ontkiemingstoetse om te sien of die sade gaan ontkiem en stel die uitslae van die toetse tot die boer se beskikking. (Bron: https://www.rooibostea.co.za/)

Verkoop van saad

Rooibosteeboere tel gewoonlik hulle eie saad op die plase op, maar ver-koop ook saad aan mekaar. Dié saad word behandel vir konvensionele kommersiële verbouing en dit is waar die aanleg nou ՚n rol speel. “Produsente sal in Februarie volgende jaar reeds begin om die saad in kwekerye te saai met die oog daarop om die saailinge te ontwikkel en te laat groei vir die planttyd in die winter.”

CNTP verkoop nie tans rooibostee-saad nie, maar dit kan dalk in die toe-koms gebeur. “Rooibostee word slegs in die Cederberge verbou en nêrens elders in die wêreld nie. Rooibostee mag dalk in die toekoms in ander ge-biede gesaai word, maar omdat rooibos ՚n GI (Geographic Indication) agter sy naam het, kan dit nie as rooibos klas-sifiseer word nie.”

Plantproses

Saadjies word in kwekerye gesaai. Die saailinge groei drie tot vier maande lank in die kwekery voordat dit in die landerye oorgeplant word. Na twaalf maande word die boonste takkies geoes en na agttien maande word die eerste volledige oes gesny. Daarna kan die bos vir die volgende vier tot ses jaar geoes word. Rooibossaad word in Februarie en Maart in kwekerye ontkiem. Van Junie tot Augustus word saailinge in die landerye uitgeplant. Wanneer die standaard van die rooibosplante begin afneem, word die landerye twee jaar lank met ander gewasse soos hawer, korog, peulgewasse, en dies meer beplant wat as dekgewasse dien. In dié tydperk kry die landerye kans om te rus en te herstel, terwyl die wisselbougewasse die grond van noodsaaklike voedingstowwe voorsien.

“Ons is opgewonde oor hierdie toevoeging tot ons dienste en is dankbaar vir al die saad wat ons reeds ontvang het sedert die aanleg geopen het. Ons is dankbaar vir die vertroue en ondersteuning.”

Vir meer besonderhede of om rooibosteesaad te behandel, kontak Chanté per e-pos chante@rooibostea.co.za of stuur ՚n WhatsApp tydens besigheidsure na (+27)73-505-7124 of besoek die webtuiste by https://www.rooibostea.co.za/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0