Roadmaster haal die wip en swaai uit jou bakkie se stert

New RAS easy Fit out the Box
Roadmaster se produk
’n Haastige boer weet dat dit baie maklik is om ’n bakkie op los gruis of ’n kronkel grondpad om te gooi. Wanneer daar boonop ’n swaar vrag vervoer word, maak dit die voertuig se swaartepunt gevaarlik hoog en verg dit vernuf en konsentrasie om ongedeerd by die bestemming uit te kom.
Sinkplaatpad en slaggate plaas ook baie stremming op die veerstelsel, bande en onderstel van ’n plaasbakkie en wanneer ’n vuurvegter met ’n halfton water agter op oor ruwe terrein begin skud, moet ’n boer sy bestuur ken. ’n Swaargelaaide sleepwa het ook die vermoë om jou bakkie se neus ongerieflik hoog te lig en die stert in die grond te druk.
Die agterste vering van ’n bakkie moet veral geweldig baie skok absorbeer wanneer boerdery ernstig raak.
’n Ondernemer in Oos-Londen, Bill Spencer, het in 1994 die briljante idee gekry om heelwat van die bogenoemde probleme drasties te verminder deur ’n eenvoudige spiraalveer bo-oor die bladveer te installeer. Sedertdien is sy ontwerp Amerika toe en in die land waar boere nie skaam is oor die grootte en hoogte van hulle bakkies nie, is die produk weergaloos.
Johan Lombard van Roadmaster Suspension het twee jaar gelede die onderneming oorgeneem en ’n jaar gelede weer ernstig begin om die produk te bemark. Hy beskryf die Roadmaster-spiraalveerstelsel so: “Die Roadmaster is ’n hulpveerstelsel waarvan die kernelement ’n spiraalveer is wat horisontaal bo die voertuig se bladvere hang en in posisie gehou word deur die spanning wat daarop geplaas word. Die spanning word geskep deur die spiraalveer aan die bladveer se agterste veerstrop te anker en aan die voorkant van die agteras vas te maak. Die Roadmasterspiraalveer hou die bladvere in hulle oorspronklike geboë vorm en wanneer die voertuig se vrag die bladvere afdruk, trek dit outomaties ook teen die spiraalveer om bykomende weerstand te bied.”
Behalwe dat die Roadmaster ’n handige bykomende dravermoë gee, werk dit soos ’n teenkantelstaaf wanneer ’n voertuig na ’n kant toe rol spesifiek vanweë die posisionering op die agterste helfte van die bladveer. Jou vier bande het dus beter kontak met die pad en die verbeterde stabiliteit en beheer beteken die bestuurder word minder vermoei.
Die stelsel kan self en binne ’n uur installeer word en geen instandhouding is nodig nie. Dit pas op die meeste bakkies wat geboë bladvere het.
“Kliënte wat hulle voertuie al etlike jare gelede met die produk toegerus het, vertel my dat hulle dit afgehaal en op hulle nuwe voertuie gesit het as die ou een verkoop is, en dit werk vandag nog net so doeltreffend. Boonop het geen kliënt oor die afgelope twaalf maande van ons 30-dae-geld-terugwaarborg gebruik gemaak nie, wat getuig van die tevredenheid onder ons kliënte.”
Om die wip en swaai uit jou bakkie se stert te haal, kontak gerus vir Johan Lombard by 021-511-1888, 082-780-3902 of info@roadmastersuspension.co.za