Richard Armstrong: 2025 Skaapboer van die Jaar ’n Dohne-Merino-leier

richard 10
Richard Armstrong van die plaas Tweeddale naby Cathcart in die Oos-Kaap is op 12 November 2025 aangewys as Voermol se Skaapboer van die Jaar.
Tisha Steyn het met hom gesels oor die pad wat hy geloop het om hier te kom.
Richard is die derde geslag wat op Tweeddale, ’n plaas wat sy oupa in 1937 gekoop het, boer. “Ons was gelukkig om deur die jare die boerdery te kon uitbrei,” vertel hy.
Richard, wat op Tweeddale grootgeword het, het in 1989 by Queen’s College in Queenstown (nou Komani) gematrikuleer. Na sy nasionale diensplig het hy twee jaar aan die Cedara Landboukollege in Hilton, KwaZulu-Natal, studeer, voordat hy in die Verenigde Koninkryk en veral in Skotland op plase gaan werk het. In Desember 1995 is hy terug plaas toe om saam met sy pa, Barry, te gaan boer.
“Ek en my pa het ’n ongelooflike verhouding gehad en hy was my belangrikste rolmodel en mentor. Hy het die ondervinding gehad en ek die energie, en ons was ’n fenomenale span. Ek is baie gelukkig om in ’n hegte landbougemeenskap te wees waar ons saam werk en mekaar help en inspireer.”
Richard is getroud met Mandy, wat ’n belangrike rol in die boerdery-onderneming speel. “Sy is lief daarvoor om die stoet en finansiële rekords op datum te hou. Ons terg altyd dat sy baie rolle vertolk, van huishouding tot menslike hulpbronne en hoof- finansiële beampte, maar veral liefdevolle vrou en ma van ons twee kinders Ben en Jodi ”.
Ben (20) studeer aan die Universiteit Stellenbosch en Jodi (15)is volgende jaar in gr. 10 by Kingswood College in Makhanda (voorheen Grahamstad).
- Woolworths het ’n kontrak aangegaan met Tweeddale vanweë die hoëgehalte karkasse van die Dohne-Merino-lammers.
Tweeddale
Tweeddale lê 1 500 m bo seespieël en kry gemiddeld 530 mm per jaar, hoofsaaklik gedurende die somer. Die winters is koud en soggens is die temperature dikwels onder vriespunt. Vroeër jare het dit gesneeu op die plaas, maar dit gebeur nie meer so dikwels nie.
Die veld word getipeer as Dohne-suurveld en die drakrag is 4 ha per grootvee-eenheid. “Ons boer tans op 11 000 ha, waarvan 150 ha onder aangeplante droëlandweiding. Lamtyd vind gedurende die laat winter en vroeë lente plaas.”
- ‘n Jong ram.
Lamsiklus
Richard volg ’n goedbeplande lamsiklus om gunstige klimaatstoetande en die beskikbare weiding ten volle te benut.
Hy het drie ooigroepe wat op verskillende tye lam. In April lam die 350 gesinchroniseerde ooie almal binne drie dae in klein kampe op hawerlande.
In Augustus lam die laparoskopie- en stoetooie in klein kampe op hawerlande, voordat hulle na natuurlike veld verskuif word. “Daar is tans 550 stoetooie en ons lam ook 550 uit die kommersiële kudde. Die lampersentasie is 125% en die speenpersentasie 110%,”sê Richard.
In November lam die kommersiele ooie, wat tussen 4 000 en 5 000 lammertjies kan lewer, op natuurlike veld.
Tweeddale Dohne-Merino
“My pa het ’n kommersiële Dohne-kudde in die 1970’s begin opbou. In 1980 het sy goeie vriend Cameron McMaster, wat toe die bestuurder by die Dohnevereniging se kantoor was, my pa oorreed om ’n groepteelskema vir Dohne Merino-stoettelers te bestuur.
“Dit was vir hom ’n baie opwindende tyd wat tot sowat die jaar 2000 voortgeduur het toe die studiegroep om verskeie redes tot niet gegaan het. Ek het toe die stoet onder die naam Tweeddale Dohne-Merino onder my naam geregistreer.”
Een van Tweeddale se hoogtepunte was die uitvoer van die heel eerste embrio’s na Australië in 1997.
“As gevolg daarvan het ons talle wonderlike boere van regoor die wêreld ontmoet. Ek het die eerste Dohne-Merino-wêreldkongres in 2016 in Australië bygewoon.
“Die Dohne-Merino-telersgenootskap is opgewonde om die derde kongres van sy soort in Oktober volgende jaar in Hermanus in die Wes-Kaap aan te bied. Dit val saam met die 60ste herdenking van die ontstaan van die genootskap en die lede sien uit om mede-telers van regoor die wêreld te ontmoet. Dit is een van die voordele van stoetteling: ’n Mens ontmoet baie boere plaaslik en nou ook internasionaal.”
Die Dohne-Merino is ’n meerdoelige, geharde ras, en kan ’n lam op die veld speen. Speenlammers doen ook goed in die voerkraal. “Een van die redes waarom die Dohne ontwikkel is, was om in ’n gebied met hoër reënval op suurveld te floreer. Om aan te pas het hulle minder wol maar ‘n hoër liggaamsmassa. Al het hulle minder wol, is dit steeds van ’n hoë gehalte.”
- ’n Trop ooie op suurveld. Die Dohne-Merinos is geteel om op hierdie tipe grasveld te floreer.
- ’n Kudde-ooie in die sneeu.
Grootste uitdagings
Biosekerheid en bek-en-klouseer is tans die grootste uitdagings op Tweeddale, veral vir die Andersons se Fenfield Reds-beeskudde. “Die klimaat en droogtes is ook ’n bedreiging, maar ons is al gewoond daaraan om droë tye te oorleef. Ons oop grasveld is ook baie kwesbaar vir veldbrande en ons het die laaste paar jaar verskeie verwoestende brande beleef.”
Beste waarde vir lammers
Hul oorskot hamellammers word in die voerkraal op die plaas vetgemaak. “Ek glo dit voeg waarde tot ons produk by. Ons het al lammers met behulp van ’n agent na die Verenigde Arabiese Emirate uitgevoer en is altyd op die uitkyk vir plaaslike kontrakte, soos die met Woolworths, om die beste waarde vir ons lammers te kry.”
Opkomende boere baat by produksieveiling
Richard sê: “Ons jaarlikse produksieveiling vind op die eerste Dinsdag in Maart plaas, waartydens ons sowat 70 ramme aan kommersiële boere verkoop.
“Ons verkoop ook oorskot ooie op die veiling. Oorskot ramme en B-graad-ooie word ook aan opkomende boere in die voormalige Transkei en Ciskei verkoop. Die verkoop van die ramme het daartoe gelei dat ek van tyd tot tyd na hulle skeerkrale/skeerskure genooi word om hul ooie in kuddekompetisies te beoordeel.
“Ek dink dit is belangrik om tegnologie te gebruik, om innoverend te wees en presisieboerderypraktyke toe te pas. Ek wil my plaas en die skape in ’n beter toestand nalaat. Ek dink ons slaag daarin omdat ons beste praktyke toepas.”

Buiten die skaapboerdery, is daar ook ’n Fenfield Reds-beeskudde.
Top tien-wol
“Ons wol word deur BKB se veilingstelsel in Port Elizabeth bemark. Omdat ons klimaat gunstig is en ons goeie grasveld het, lewer ons sowat 73% skoon wol van gemiddeld ongeveer 19 mikron. Ons jong skape (tussen een en twee jaar oud) se wol is sowat 16 mikron,” sê Richard.
“Ons kry dikwels een of twee lyne wat onder die top 10 by die veiling val. Ons is opgewonde daaroor dat ons vanjaar ’n topprys van R214,60 per kg gekry het – ’n welkome styging van 27%.”
- Omdat die klimaat in die Cathcart-omgewing gunstig is en daar goeie grasveld is, lewer Tweeddale sowat 73% skoon wol van gemiddeld ongeveer 19 mikron.
- Meting en rekordhouding is nood-saaklik, en dit is Mandy se taak om seker te maak die besonderhede word sorgvuldig aangeteken.
Georganiseerde landbou
“Ek dink dit is belangrik om by georganiseerde landbou betrokke te wees en ek is tans visevoorsitter van ons boerevereniging,” vertel Richard. “Ek is baie dankbaar vir mede-boere wat tyd maak om op die verskillende bedryfsorganisasies soos die RPO en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), Agri OK en Agri SA te dien. “
“Ek dien ook op die Dohne Merino-raad wat vanjaar sy 60ste herdenking vier.”

Dié ramme is gereed vir Maart 2026 se produksieveiling.
Kontakbesonderhede
Kontak Richard Armstrong by 082-414-1605 of stuur ’n e-pos na armstrong@nokwi.co.za







