Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

RFID help boere om slim te boer met data

By 4 min read
704 words

“Boere versamel vragte vol data oor hulle stoetvee en kuddes, maar al die inligting beteken niks as dit nie gebruik word om die genetiese potensiaal van elke individuele dier te ontsluit nie,” sê Willem Grobbelaar van Trompsburg.

Voermol het Willem en sy skoonpa, PD Jacobs, van Pdrino Merino Fynwolstoet, verlede jaar aangewys as Skaapboer van die Jaar, en daar is spesiaal melding gemaak van hulle noukeurige rekordhouding en netjiese, funksionele hanteringsgeriewe.

 Een van die bestuurshulpmiddels wat Willem baie nuttig vind, is die geïntegreerde oplossing wat RFID Experts Africa bied.

 Die gebruikersvriendelike stelsel bestaan uit ’n paar komponente wat almal saamwerk om presisie-inligting in die kraal prakties te gebruik.

Dit begin by ’n elektroniese oorplaatjie wat elke dier met ’n unieke nommer identifiseer. Elke dier se individuele en prestasie data word dan teenoor die unieke nommer in die databasis van ’n elektroniese leser, die APR 500 gestoor.

Die APR 500 wat in die boer se handpalm pas, word gebruik om die elektroniese oorplaatjie te lees en ook om ander kritiese data oor elke dier vas te vang. Hierdie data word dan na ’n rekenaarprogram bv Excel of direk na ’n bestuursprogram, soos BenguFarm Sheep in Willem se geval, oorgetrek. Die data oordrag gebeur in ’n oogwink. Die groot voordeel van hierdie papierlose stelsel is dat dit baie tyd bespaar en akkuraatheid vehoog. Boere kan nou meer tyd bestee op besluitneming aangesien die data feitlik onmiddellik beskikbaar is vir ontleding.             

In die kraal is daar ’n elektroniese skaal wat outomaties inligting oor gewig en die aantal diere insamel.   Die skaal se ingeboude leser lees en identifiseer elke dier waarna die outo-matiese sorteerhekke elke dier in die regte kamp sorteer na gelang van die opdrag wat op die skaal se elektroniese skerm geselekteer is. Die meeste boere gebruik ’n driehekstelsel, maar die stelsel kan uitgebrei word om in meer rigtings te sorteer.

Willem verduidelik dit so: “Ons wil graag op grond van inligting soos die dier se gewig, vrugbaarheid, wollengte, hoeveelheid wol en mikron sorteer of net uitkeer in groepe. Ek kan nou vir die stelsel opdrag gee om die diere met wol van 18 mikron en hoër links uit te keer, die 17- tot 17,9-mikrondiere in die middel en die fynwolgroep van 16,9 mikron en onder na die regterkantste kamp te stuur voor ons skeer.”

Maklike seleksie

Hy sê as dit by keuse van teelooie kom, kan hy byvoorbeeld die groep met die gewenste mikron wol weer deurstuur en vra dat die ooie wat elke jaar tweelinglammers speen eenkant toe uitgekeer moet word.

“Vroeër was die uitkeerprosesse, individuele paring, skandering en geboorteregistrasie asook die insameling en aantekening van prestasietoets-data ’n gesukkel met papiere wat wegwaai in die wind, oorplaatjies se nommers wat verkeerd gelees word en daar was maar foute wat ingesluip het om nie eers te praat van die papier-oorlog nie.” vertel Willem.

Nou kry die lammers in die lamhok dadelik hulle elektoniese oorplaatjies en hulle word elektronies gekoppel aan pa en ma sodat almal se prestasies gemeet en vergelyk kan word.

Die lammers kan ook maklik in verskillende gewigsgroepe ingedeel word met die oog op voedingvereistes, en gewigstoename kan presies gemeet word vir latere seleksie.

Met al die meer akkurate bestuur van data deur middel van elektroniese seleksie is die ontsluiting van die genetiese potensiaal van elke individu meer haalbaar, wat lei tot meer doeltreffende en winsgewende boerdery.

Willem is ook baie tevrede met die gehalte en maklike werking van die stelsel. Hy sê die skaal word in Suid-Afrika deur RFID Experts Africa gebou vir plaaslike omstandighede.  Die oorplaatjie-lesers asook die oorplaatjies is in Duitsland ontwikkel en die Tru-Test XR5000 skaal indikator is afkomstig vanaf Nieu-Seeland. RFID Experts het al die komponente bymekaargesit en ’n stelsel ontwikkel wat presisieveeboerdery papiervry en maklik maak.

Die stelsel is ook nie net geskik vir skaapboere nie. Schalk van RFID sê beesboere, voerkrale, melkerye, varkboere en selfs wildsplase kan daarby baat vind. Dit maak nie saak of jou boerdery ekstensief of intensief is nie – vir al die diere is daar spesifieke doelgemaakte toerusting beskikbaar.

Benut jou inligting sinvol. Vir meer inligting oor die geïntegreerde oplossings van RFID Experts Africa, besoek www.rfid-experts.co.za of kontak Schalk de Villiers by 021-556-0003, 083-255-5110 of info@rfid-experts.co.za.  

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0