Regering moet eerder leer aanpas

droogtemielies
TLU SA is erg ontsteld oor die minister van Waterwese en Sanitasie se ongeërgdheid oor die krisis van die boere in die huidige droogte. Haar uitlatings is as arrogant en uittartend beskryf.
Die minister het gesê dat sy geen droogtehulp aan boere wil gee nie en dat hulle moet maar leer aanpas.
TLU SA se president, mnr Louis Meintjes, het die minister se uitlating as arrogant en uittartend beskryf, gegrond op haar onkunde van die landbou. Hy het aan die ander kant sy waardering uitgespreek teenoor die Nasionale Raad van Provinsies wat aanbeveel het dat die regering wel droogtehulp aan boere moet gee.
Mnr Meintjes sê dat sy as Minister van Waterwese en Sanitasie haar moet hou by haar prioriteite, in plaas van opmerkings te maak buite haar portefeulje. Haar taak is om toe te sien dat daar kwaliteit en bruikbare water is vir die ekologie van die land, vir drinkwater en vir landbou sodat daar kos op almal se tafel kan wees. “Sekere water is egter deur haar departement se toedoen al so besoedel en onbruikbaar, dat dit selfs nie eens geskik is vir kragopwekking nie as gevolg van te veel soute daarin,” sê mnr Meintjes.
“Die boere is klaar aangepas. Hoe dink die minister sou hulle dit anders reggekry het om al meer as drie eeue in hierdie land te bly boer? Dalk moet sy in die opsig ook aandag gee aan die bestaans- en opkomende boere. Hoe doeltreffend is hulle watergebruik en tot welke mate het hulle al aangepas?”
Hy sê hy hoop dat die land en die regering ook sal aanpas as hulle besef dat daar nie meer kos gaan wees nie en gevolglik ook minder inkomste vir die staat.