Categories: IrrigationPublished On: 21st January 2014

Rainmaker kruipspuit open nuwe opsies

By 2 min read
440 words

‘n Koninklike lewe wag op Stals König van Bandelierskop se groente en weiding nadat hy sy eie Rotrix Rainmaker – die koning van kruipspuite – in ProAgri se lesersopname gewen het.

Die Rainmaker is ‘n handige hupstoot in Stals se onstuitbare drang om te boer. Hy het sy loopbaan in die mynwese vir ‘n boerderybestaan verruil toe hy in Desember 2009 die plaas, Ontevreden, in die Bandelierkop-distrik noord van Pietersburg, gekoop het terwyl hy steeds by die Tshikondeni-steenkoolmyn buite die Pafuri-hek van die Kruger Wildtuin gewerk het.

“Ek is in Junie 2011 voltyds plaas toe en boer tans met beeste en plant aartappels en patats op klein skaal. Die plaas is 110 ha groot en ek bewerk my groente met die hand en verkies ook gewasse wat maklik hanteerbaar is,” sê hy.

Tobie van den Heever van Irrigation Unlimited, handelaar van Rotrix se produkte wens vir Stals geluk met sy prys. Tobie het die oorhandiging names Jasper Hewitt  van Rotrix waargeneem.

Stals was verheug toe hy Rotrix se Rainmaker as eerste prys in verlede jaar se ProAgri-lesersopname gewen het.

“Die spuit gaan nou ‘n reuse verskil op my plaas maak en vir my heelwat meer opsies gee. Nou kan ek meer en beter weiding aanplant en my drakrag op die plaas aansienlik vermeerder. Tans kan ek net 35 beeste aanhou, maar ek kan dit maklik verdubbel met die Rainmaker,” sê Stals.

Die streek waar hy woon is oor die algemeen droog, maar gelukkig het hy ‘n boorgat wat verlede jaar op 45 000 liter per uur getoets is. Die Rainmaker benodig ongeveer 35 000 liter en sal heerlik werk, selfs in moeilike droë tye.

“My toekomsplanne met die Rainmaker is om nog gewasse wat maklik verbou kan word, soos suikerbone, aan te plant en vir die beeste gaan ons mielies, rooisorghum en sonneblom aanplant. Die Rainmaker is lekker hoog so hy sal maklik oor die mielies en sonneblomme spuit.”

Stals se volgende stap is om nou ‘n moederlyn te lê sodat die Rainmaker op elke stukkie bewerkbare grond kan bykom. “Ek is ook besig om van die ou lande te ontbos om dit weer te benut. Ek kan nou met ander oë na my grond kyk met die potensiaal wat in die Rainmaker sit. Tans is die lande wat ek besproei onder druppers, maar die Rainmaker sal ‘n hele nuwe dimensie aan my boerdery gee,” sê hy.

Rotrix se Rainmaker kan ook vir jou boerdery nuwe, lonende opsies open. Kontak vir Jasper Hewitt by 023-342-3438, 082-773-7544 of rotrix@intekom.co.za

 

‘n Opgewonde en tevrede Stals König met sy Rainmaker-kruipspuit op pad plaas toe. Die spuit is deur Rotrix, as hoofborg van die ProAgri-lesersopname, geskenk.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0