Categories: Magazine, Magazine (RSA)Published On: 7th July 2017

ProAgri 209 – Julie 2017

By 2 min read
303 words
ProAgri

0001 (7) kelin

Advokaat Gerrie Nel vertel dat hy as jong staatsaanklaer ’n mooi teestel as geskenk ontvang het nadat hy ’n saak vir ’n Sjinese gesin hanteer het. Die destydse prokureur-generaal, Klaus von Lieres und Wilkau, het hom verplig om die geskenk terug te gee al was die saak afgehandel, want enige geskenk kan gebruik word om in die toekoms ’n teenprestasie te verwag.

Gerrrie het by ’n filosofievereniging-byeenkoms verduidelik hoe broos die grens na korrupsie kan wees. In vergelyking met hierdie verhaaltjie is die ANC-regering en sy kaders die spreekwoordelike bul in die glaswarewinkel. Vir hulle is die grens na korrupsie so deursigtig dat dit net so wel nie kon bestaan nie.

Pas weer het president Jacob Zuma nóg ’n proklamasie goedgekeur sodat die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek kan instel na beweerde ongerymdhede, wanbestuur en onwettige optrede by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Verlede jaar is plase ter waarde van bykans R470-miljoen aan die Departement terugbesorg nadat dit uit korrupte hande teruggevat is. In dieselfde asem word daar besluit dat die pad vorentoe onteiening sonder vergoeding moet wees. Wat help dit om korrupsie te probeer ondersoek as diefstal oop en bloot goedgekeur en aangemoedig word?

Wie kan boere kwalik neem as hulle al hoe meer begin kyk na moontlikhede om elders ook te boer? Die een troos is dat mense moet eet en hoe meer mense daar is, hoe groter is die behoefte aan kos. Kosproduksie kan nie uit die mode uit raak nie en al wat ons kan doen, is om te sorg dat kos so kostedoeltreffend en produktief as moontlik geproduseer word.

In hierdie uitgawe is nog NAMPO-nuus en loer gerus ook na Kragdag se wenke vir selfstandigheid.

Boer slim!

Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za

Laai ProAgri 209 hier af:

0
Views: 341Comments Off on ProAgri 209 – Julie 2017
Tags:

Deel hierdie artikel.

0