Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 25th June 2018

Presisieboerdery is die énigste pad vorentoe

By 6 min read
1117 words

presisie 1

Senwes het saam met sy verskaffers soos John Deere en JCB luister verleen aan die Groenpunt Plantproduksiedag.

“By Groenpunt glo ons daaraan om ’n blywende nalatenskap agter te laat, om op verantwoordelikheid te fokus en om die toekomskoers te rig. Ook met betrekking tot ons boerdery wil ons deel wees van die nuwe ontwikkelings om landbou tot ’n volgende vlak te neem,” sê mnr LM Kau, gebiedskoördineerder, Ontwikkeling en Sorg, van Korrektiewe Dienste.

Die verfrissend positiewe strewe is uitgespreek op ’n ewe verrassend, suksesvolle presisieboeredag wat by die Groenpunt Gevangenis aangebied is. Met sowat 2 400 mense wat elke dag net by die gevangenis gevoed moet word, is dit duidelik dat die 450 bewerkbare hektaar en die bestaande melkery ten volle benut moet word.

Saam met die behoefte aan voedselvoorsiening is daar ook ’n behoefte aan die opleiding van gevangenes om toepaslike vaardighede te ontwikkel sodat hulle na vrylating ’n produktiewe rol in die samelewing kan speel en nie terugval in ’n lewe van misdaad nie.

Die Groenpunt Plantproduksiedag is ondersteun deur ’n keur van maatskappye wat almal topgehalte voorleggings oor die gebruik van tegnologie in landbou gelewer het.

Waar ’n wil is, is ’n weg

Die man wat die reusetaak aangepak het om al die rolspelers bymekaar te kry is Anton Smith.

Die maatskappye en besluitnemers in Korrektiewe Dienste is almal bymekaar gebring deur Anton Smith, wat vir die afgelope twee jaar intensief betrokke geraak het by die boerdery op die terrein. Anton is self ’n gevangene en sonder selfoon of e-pos, maar met die ondersteuning van die personeel en Jacob Mazibuko, waarnemende landbouhoof by Groenpunt, het hy die rolspelers in die landbougemeenskap begeester om hulle hande uit te steek en hulp aan te bied.

Dit is noodsaaklik dat daar nuwe trekkers en toerusting vir die plaas aangekoop word, maar daarmee saam het die maatskappye ook hulle kundigheid en ondersteuning aangebied.

Senwes, as die grootste verskaffer van toerusting in die gebied, het reeds ’n hele paar ontledings van die plaas en die potensiaal vir beter produksie gedoen en het ook hulle verskaffers saamgebring om te demonstreer watter verskil die regte tegnologie kan maak.

Japie Fransman, Korporatiewe Verhoudings, het die Senwes-span se voorleggings ingelei en gesê die groot afvaardiging van Senwes-mense by die geleentheid is ’n bewys van die waarde wat die maatskappy aan die vennootskap heg en die respek wat hulle vir die inisiatief het.

Ramondé Odendaal, landboukundige van Senwes, sê jy benodig die regte insette op die regte plek en regte tyd met die regte toerusting om jou opbrengs te verhoog en jou risiko te verlaag.

Ramondé Odendaal, landboukundige van Senwes, het verduidelik dat tegnologie en verbeterde praktyke daartoe gelei het dat die gemiddelde mielie-opbrengs van 0,3 ton per hektaar in die eerste helfte van die vorige eeu tot 6,3 ton deesdae kon styg. Sy sê in die Bybel, in Prediker, staan daar dat daar ’n tyd vir alles is en dit is ook die beste definisie vir presisieboerdery. Jy benodig die regte insette, op die regte plek en tyd met die regte toerusting om jou opbrengs te verhoog en jou risiko te verlaag.

Sy het die Groenpunt-melkery as voorbeeld gebruik. Tans lewer die 50 koeie ongeveer 560 liter melk per dag en daar moet melk ingekoop word. Indien die stal met goeie genetika tot 70 koeie uitgebrei word, die standaarde van die melkproses self verbeter word en daar meer aandag aan die produksie van goeie voer gegee word, kan die melkery elke dag vir 4 000 mense elk 350 ml melk gee.

Dit sou beteken daar 55 hektaar met mielies vir die koeie beplant moet word en dat die opbrengs 5 ton/ha moet wees. Dit is waarvoor meganisasie en presisieboerdery nodig is.

Etienne Nel, presisiespesialis van John Deere Toerusting, het vertel hoe nuttig JD Link vir Groenpunt kan wees met byvoorbeeld foutboodskappe wat regstreeks na die werkswinkel gestuur kan word, beperkings wat op die beweging van trekkers geplaas kan word en hoe die produktiwiteit van selfs ongeskoolde werkers verhoog kan word.

Ander toerustingmaatskappye wat ook hulle werktuie in die demonstrasieland vertoon het, was JCB met hulle materiaalhanteringsoplossings en grondverskuiwingsmasjiene, Orthman wat gewys het hoe strookbewerking grondherstel kan aanhelp en LEMKEN wat die beginsel van die terugplasing van biologiese materiaal in die bolaag bevorder.

Omnia wys wat die verskil is tussen hulle kunsmis en gewone massamengsels. Agter is die program van die dag, wat deur ProAgri opgemaak en deur Soygro geborg is.

Aan die bemestingskant het Ronney Tshabala van Omnia verduidelik wat die verskil is tussen Omnia se saamgestelde kunsmis en ander maatskappye wat van massavermenging gebruik maak. By Omnia het elke korrel alles wat nodig is met betrekking tot makro- en mikro-elemente.

Pieter Snyman, ’n grondspesialis van die Axioteq-afdeling van Omnia, sê behoorlike grondontleding is die beginpunt van die inligting wat uiteindelik opbrengs kan verbeter.

Pieter Snyman, ’n grondspesialis van die Axioteq-afdeling van Omnia, sê presisieboerdery is totaal afhanklik van behoorlike grondontleding. Dit is die beginpunt van die inligting wat uiteindelik opbrengs kan verbeter. Op hulle DigiAg-platform word al die data op een skerm geïntegreer.

Johan Kriel van Graan SA het die geleentheid gekry om te vertel hoe hulle hulpprogram vir kleinboere vorder. Daar is tans 151 boere in die program en daar is al meer as 3 000 mense opgelei. Hulle help mense om een hektaar per huishouding te verander in ’n behoorlike inkomste. Hy het ’n hele paar suksesverhale en staaltjies vertel soos van die een boer wat sy eenryplanter met sy Toyota Corolla gesleep het en uiteindelik meer as 5 ton/ha geoes het.

Philip Fourie, ’n landboukundige van Pioneer Saad, het ook gewaarsku dat al die tegnologie se sukses in die finale instansie afhang van die boer. “Ons verskaf die tegnologie, maar jy is die een wat dit moet laat werk. Ons verskaf die potensiaal vir ’n 16 t/ha oes in ’n sak, maar ons gee nie die 16 t/ha nie.”

Kundiges van maatskappye soos Vantage SSA, Stoller, AGT Foods Africa, Arysta Life Science, Laeveld Agrochem en AgricultSURE het almal oor die waarde van tegnologie binne hulle eie kennisvelde gepraat. Die gebruik van inligtingstegnologie vir spesifieke oplossings, die versigtige gebruik van chemikalieë en ’n terugkeer na die natuur en biologiese middels het soos ’n goue draad deur die voorleggings geloop.

Die voorlegging deur ’n boer en bewaringslandbouspesialis van Viljoenskroon, Cobus van Coller, het ook groot byval gevind. Hy het die waarde van groenbemesting, minimum versteuring van die grond en die integrasie van vee in die stelsel bespreek.

Die Boeredag was net die begin van die harde werk om Groenpunt se plaas deel te maak van die tegnologierewolusie. Anton sê dit is sy droom om die plaas in ’n spogplaas vir die toekoms te ontwikkel. “Ek hoop ook dat die kennisoordrag gevangenes sal motiveer en sal help om selfwaarde te ontwikkel om ’n positiewe rol in die samelewing te speel.”

Brian Niewoudt verduidelik hoe strookbewerking met ’n Orthman tot grondherstel kan lei.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0