Plaaswerkers kry swaar onder minimumloonverhoging
Na die reeks gewelddadige stakings in die Wes-Kaap aan die begin van 2013 het plaaswerkers hulle sin gekry met ‘n loonverhoging van 52% in Maart dieselfde jaar.
Boere het noodgedwonge op die verhoging gereageer deur verskeie strategieë te volg wat ’n ernstige invloed op die welstand van plaaswerkers tot gevolg gehad het.
Hierdie bevindinge is aan die lig gebring deur ’n omvattende studie wat die Internasionale Arbeidsorganisasie op die lewenstandaard en werksomstandighede van plaaswerkers gedoen het. Die verslag het bevind dat die meeste boere aan die minimumloon- en basieseregte-wetgewing vir werkers voldoen, maar ander maniere gevind het om hulle arbeidsrekeninge te besnoei.
Werkers is hard geslaan deur hierdie blootstelling aan die vryemarkstelsel deurdat permanente indiensnemingskontrakte opgeskort is, dienste uitgekontrakteer is, werksure verminder is, werkers van plase af gesit is en geld vir nie-loonvoordele soos behuising gehef is.
Oor die afgelope twee dekades ondervind boerdery ernstige geldelike spanning as gevolg van markderegulering, vermindering in handelstariefbeskerming en die oorheersing van die groot internasionale kleinhandelaars, wat boere se winste wegknaag. Boere moes dus op hulle beurt planne maak om hulle oorlewing te verseker en hierdie planne het die druk op werkers verhoog.
Stroomaf het hierdie veranderinge ‘n ernstige invloed op die lewensgehalte van plaaswerkers wat plase moes verlaat, wat nou rondom dorpe in informele nedersettings in haglike omstandighede moet woon. Munisipaliteite is nie in staat om die instroming van mense te hanteer nie en die gebrek aan basiese infrastruktuur soos behuising en sanitasie hou groot probleme in, soos rioolstorting in riviere.
Bron: Business Day