Plaasmoorde duur steeds voort

doringdraad
Februarie bly ‘n swart maand vir die landbou met die vlaag plaasaanvalle wat voortduur. Reaksie stroom in van burgerlike en landbou-organisasies, maar van regeringskant af heers daar stilte.
Die pa, ma, oupa en ouma van Balfour, wat verlede week vermoor is, het mense in erge skok gelaat en TLU SA het daarop reageer. Mnr Louis Meintjes, president van TLU SA, het president Jacob Zuma daarvan beskuldig dat sy regering nie die politieke wil het om na die boeregemeenskap se veiligheid om te sien nie.
Vroeg Sondagoggend (19 Februarie) het nog ‘n plaasaanval in Dullstroom plaasgevind. Robert Lynn en sy vrou Sue Howarth is in die Life MidMed-hospitaal in Middelburg opgeneem nadat hulle erg aangerand is. Robert en Sue het teen die pad gelê, waar baie karre verby hulle gery het en nie stilgehou het nie. Een van die verbygangers het hulp ingeroep. Die aanvallers het met kontant en die egpaar se Nissan Hi-Rider gevlug. Sue is later (21 Februarie) oorlede.
‘n Ander egpaar is albei oorlede na ‘n aanval op die Bend Country Estate op ‘n plaas in die Nottingham Road-omgewing op Vrydag (17 Februarie). Daar is ingebreek op die plaas en bloedvlekke was sigbaar op die vloer, maar die egpaar (Roger en Christine Solik) was nêrens te vinde nie. Christine se liggaam, met vasgebinde hande, is wel later die dag omtrent 70 km van die huis in ‘n rivier gevind. Roger se liggaam is eers Maandag 20 Februarie in dieselfde rivier gevind.
Lees ons vorige artikel oor plaasmoorde hier.