Pierre Burger Boerdery

pbb
Burger Boerdery het in 1981 sy eerste Bonsmarakoeie aangekoop, met ‘n visie van vrugbaarheid en ‘n hoë melkproduksie.
Vaars met baie melk, goeie reproduksie en groot skrotum omvang, met die doel om vrugbare verse te teel, was ‘n prioriteit. Die bulle se moeders moes reeds 7 tot 10 kalwers gehad het met baie melk.
Oor die jare is net die beste bulle gekoop. Dieselfde seleksie op die aankoop van ons bulle is toegepas, naamlik goeie reproduksie, moeders met baie melk wat elke jaar ‘n kalf lewer en ook vroeg kalf. Die bulle moet ‘n groot skrotum omvang hê met bo-normale voeromset en GDT.
Ons het die hele kommersiële Bonsmara kudde van Andrew Mc Kechnie oorgekoop, nadat hy sy boerdery gestaak het. Goue meriete bulle oor ‘n wye genepoel is aangekoop van onder andere Dr. Piet Naudé en Gavin Bristow, wat ons altyd net voorsien het van die beste raad, asook Oom Koos en Wouter van Amstel. Ons het ook bulle aangekoop van Mc Donald, Atherstone, Roy Baragwanath, Peter Beith, John Lichie, Ivy en Louis Van der Walt, by wie ons verlede jaar 5 bulle gekoop het en in 2017, 4 bulle. Verder het ons ook Arthur de Villiers bloed in ons kudde en nog vele meer.
Ons streef steeds na reproduksie as eerste prioriteit, dit wil sê, moeders wat vroeg kalf, baie melk het en swaar kalwers speen.
Ons verse word na speen op natuurlike weiding en lekke groot. Ons inentingsprogram is in plek. Diere wat nie voor 30 maande kalf nie word uitgeskop.