Ontmoet die bieliemielie: Oes meer met Pioneer se nuwe blitsige baster: die P1197-platform

pioneer 1
deur AJ Steyn, veldagronoom, Pioneer SA
Pioneer luister graag na sy boere en een van die duidelike boodskappe is dat boere hulle opbrengs wil verhoog, maar terselfdertyd risiko wil verlaag met vinnige groeiers. Die ultra-vinnige geel besproeiingsbaster P1197YHR, asook sy P1197R-variant en konvensionele boetie, P1197, is die afgelope seisoen vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeplant nadat indrukwekkende prestasies in Amerikaanse opbrengskompetisies behaal is met tot 33 ton/ha.
Die geskiedenis het al bewys dat kultivars van elders nie altyd hier dieselfde prestasie handhaaf nie, as gevolg van geografiese voorkeure vir grond- en klimaatstoestande.
Met strooptyd was die verrassing dus aangenaam toe die kultivar wel uitstekend presteer het in vergelyking met bewese bestaande kultivars in Suid-Afrika. Dit is ook redelik wyd in die besproeiingsgebiede geplaas en het oor ’n wye reeks grondsoorte konstant presteer.
Plantestand en plantgrootte
Omdat die kultivar as ’n ultra-kort groeier beskou word, is dit aangeplant teen tussen 90 000 en 100 000 plante per hektaar. Die kultivar presteer hier geweldig goed onder besproeiing en ook teen hierdie stand. Plantestand sal die komende seisoen meer breedvoerig ondersoek word. Die plantgrootte is medium en die kop-tot-plantverhouding is ± 40%. Die plant droog egter aan die einde baie vinnig af en krimp baie ineen. Dit is hier waar die kultivar se spoed eintlik tot sy reg kom.
Die afgedroogde plante is relatief klein en verloor baie plantmateriaal bokant die koppe teen strooptyd. Die kultivar moet dus betyds gestroop word om te verhoed dat die plant te droog word, degenereer en koppe verloor. Omdat die algemene rywydte onder besproeiing 0,75 m is, sal ’n stand van 95 000 ideaal wees. Met rywydtes van 0,91 m kan 90 000 plante per hektaar aangeplant word. Die stand onder vol besproeiing moet nie laer as 90 000 wees nie, anders kan opbrengs afneem omdat daar minder kompensasie op kopgrootte by P1197-platform voorkom as by ander kultivars soos 31D22YR.

Opbrengspotensiaal
Tydens die 2018/19-seisoen is P1197YHR ingesluit by ’n redelike aantal proewe in die Noord-Kaapbesproeiingsgebied. Die opbrengsdata het sy prestasie bevestig deurdat die kultivar bykans al die proewe gewen of baie naby aan die wenkultivar presteer het. Sien Figuur 1.
Staygreen
P1197-platform het ’n baie goeie staygreen-eienskap wat verseker dat fotosintaat vir ’n langer tydperk na die pitte gekanaliseer word. Die baster moet bestuur word, byvoorbeeld deur rooi-spinmyt so goed moontlik te beheer, om die volle opbrengspotensiaal te verseker.

Stamsterkte
Kultivareienskappe word op ’n skaal van 1 tot 9 beoordeel waar 1 swak of min is en 9 goed of baie. Vir stamsterkte asook staanvermoë word 8 toegeken wat dit twee baie positiewe eienskappe vir ’n besproeiingsbaster maak. Soos reeds genoem, word die kop nie te hoog gedra nie, wat omvalrisiko baie klein maak.
Afdroging
In vergelyking met huidige besproeiingskultivars, droog die P1197YHR besonder vinnig af. Hiervoor word ’n 8-syfer toegeken, wat die kultivar by uitstek gepas maak vir aanplanting na koring. Dit is 0,6% droër by stroop (oor 10 vergelykings) as byvoorbeeld P1184YR wat tot dusver die vinnigste geel kultivar by Pioneer was.
Siektepakket
Omdat hierdie ’n tipiese vinnige mieliegordelbaster is, sal dit in hoësiektedrukgebiede voorkomend bespuit moet word teen blaarsiektes. Soos verwag; word syfer 5 vir noordelike blaarskroei, 3 vir grysblaarvlek en 5 vir bruinroes toegeken. Die kultivar se kop-en-pluimbrandverdraagsaamheid is aanvaarbaar.
Graangehalte
P1197-platform lewer baie mooi graan en ’n pitgewig wat bydra tot die goeie opbrengste. In al die proewe was graangehalte uitstekend.
Opsomming
P1197-platform is ’n bestuursbaster waarmee ’n boer uitstekende opbrengste kan behaal. Wanneer jy ’n beperkende faktor soos te min water of katioonwanbalanse in die grond het, is dit waarskynlik nie die regte baster vir jou nie.
Die baster sal sy plek volstaan in presisieboerdery en as jy die beperkende faktore regstel, sal sy opbrengs jou nie teleurstel nie.
Vir meer inligting kontak 012-683-5721 of info.rsa@pioneer.com.