Ons praat oor kruisteling met Brahmane: Die koning van kruisteling

brahmane 1
Die Brahmanras het ontstaan deur die kombinasie van suiwer Zebutipes; spesifiek die Nelore, Guzerat en Gir het ’n belangrike rol gespeel. Reeds in 1924 is die Amerikaanse Brahman in die VSA erken, deur die naam Brahman amptelik te gebruik vir die eerste Zebu-ontwikkelde Bos Indicus-ras in die wêreld.
Die Zebu-samestelling onderskei die Brahman van Bos Taurus-rasse. Die genetiese verwyderdheid dra by tot die maksimale basterkrageffek wat verkry word wanneer Brahman-beeste met ander Europese en Britse beesrasse gekruis word.
In 1954 is Brahmane vir die eerste keer na Suidwes-Afrika (Namibië) ingevoer, en vandaar na Suid-Afrika. Die Brahman Beestelersgenootskap is in 1957 in Kroonstad gestig. Vanweë die Brahman-ras se genetiese uniekheid, is daar wêreldwyd reeds negentien sintetiese vleisbeesrasse uit Brahmane ontwikkel.
In Brasilië is 93% van die beesrasse Zebu-tipes, waarvan die Nelore die talrykste is met 190-miljoen beeste. In die suidelike deelstate van Amerika, Florida, Louisiana en Texas, is die Brahman oorheersend. In Australië was daar in 2000 sowat 3,2-miljoen suiwer Brahmane en 5,1-miljoen Brahmankruisings. Minstens 50% van die land se beeste op kommersiële plase het Brahmanbloed.
In Suid-Afrika het die Brahman ’n baie belangrike rol gespeel in die vestiging van ander rasse, soos:
- Brangus: Brahman x Angus
- Braford: Brahman x Hereford
- Simbra: Brahman x Simmentaler
- Charbray: Brahman x Charolais
- Beefmaster: Brahman x Korthoring
Brahman- en Brahman-kruiskoeie verteenwoordig bykans 20% van die totale koeikudde in Suider Afrika.
Eienskappe
Die Brahman se beste eienskappe is onder meer ’n lang reproduktiewe lewe, hoë melkproduksie van kruisgeteelde vroulike diere, aanpassing by die omgewing, maklike geboorte, en die vermoë om in warm, droë wêrelddele te gedy deur selfs blare te eet as dit nodig is. Die ras is hoogs gewild by opkomende boere in Suider-Afrika.
Produksie-eienskappe wat ’n regstreekse wins op ’n finansiële vlak wys is:
- Hoër speenmassa
- Hoër melkvloei by die F1- moederkoei.
- Meer lewenskragtigheid
- Beter aanpassingsvermoë by veranderende klimaatstoestande, soos droogtes of uitsonderlike subtropiese klimaatveranderings.
Kommersiële vleisbeesboere stem saam dat Brahmane om die volgende redes vir kruisteling gebruik word:
- Maksimale basterweelde, KRUISKRAG.
- Verbeterde moedereienskappe.
- Langslewenheid, regstreekse bydrae tot koeiproduktiwiteit.
- Hitte- en droogtebestandheid.
- Parasietweerstand, wat lei tot beter produksie (fisiese voorkoms).
- Maksimale benutting van groeipotensiaal, alle fases vanaf speen tot aan die haak, Brahman word optimaal benut.
Wetenskaplikes en dieregenetici is dit eens dat die Brahman F1-koei onoortreflik is in die spesifieke klimaatstreek waarin sy moet produseer. Llewellyn Labuschagne, een van die bekendste Brahmantelers in die land en voormalige voorsitter van die Brahman
Beestelersgenootskap van Suid-Afrika en van die Internasionale Brahmanfederasie, sê wanneer enige bees met ’n Brahman gekruis word, is die kalf in alle opsigte beter as die moeder.
Hy sê Brahmankruisings is onder meer teen hitte en siektes bestand, en het ’n lae geboortegewig. Volgens hom ding die Brahman nie met ander rasse mee nie, maar vul hulle eerder aan!
Vir meer inligting oor die ras en hoe om jou vleiskudde Brahmanbasterkrag te gee, praat met Sietze Smit van die Brahman Beestelersgenootskap.

