Categories: Boer slim!, NewsPublished On: 27th September 2022

Oakdale-bulle maak skoonskip in Europa

By 3 min read
618 words

wenspan

Die wenspan, van links: Wesley Barkhuizen, Tiaan Kok, Janco Olivier, Gideon Pretorius, Thys Lourens, Zack Kraukamp, Roedolf Robertson en NJ Tesner. Foto: Verskaf

deur Tisha Steyn

Die Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal se onder-18- toutrekspan het onlangs tydens internasionale wêreld-toutrekkampioenskappe in Nederland vir die vyfde keer met die louere weggestap.

Die seuns het op 11 September uit  Kaapstad vertrek om vir die tiende keer in die dorp Holten in Nederland deel te neem aan die Wêreld-toutrek ope klubkampioenskap, waaraan alle klubs mag deelneem, asook die Wêreld-toutrek geslote kampioenskap waaraan slegs nasionale kampioene mag deelneem. Om te kwalifiseer, moes die Bulle die SA Skole Toutrek-kampioenskap in die kategorie wen.

Hulle het op 15 September die ope-klubkampioenskap teen klubspanne deelgeneem en gewen. Op 17 September het hulle opnuut as oorwinnaars uit die stryd getree na hul deelname aan die geslote klubkampioenskap vir nasionale spanne.

Die span in hul SSK-hemde het die ope-klubkampioenskap gewen. Van links is Willem du Buisson (skoolhoof), Sebastiaan Lötter, Thys Lourens, Tiaan Kok, D’Neil de Wet, Sebastiaan Strydom, Zack Kroukamp, Roedolf Robertson, NJ Tesner, en Piet Lourens (afrigter). (Foto: Verskaf)

Volgens Piet was die skool se span laas in 2013 in Nederland, maar toe moes hulle met tweede plek tevrede wees.

In Holten het hulle teen spanne van Nederland, Engeland, Frankryk, Duitsland, Switserland, Thailand en die Chinese Taipei (Taiwan) te staan gekom.  “Ons span het ‘n goeie kans gestaan, maar ons was nie uit die staanspoor die gunstelinge nie,” sê Piet Lourens, die afrigter. “Ons het sterk weerstand van Chinese Taipei, Nederland en Switserland verwag.”

Die span het bestaan uit Piet se seun Thys ‘n gr 11-leerder, Tiaan Kok, ‘n gr 12-leerder van Swellendam, Sebastiaan Lötter, gr 11-leerder van George,  D’Niel de Wet, gr 11-leerder van Caledon, Zack Kroukamp, gr 12-leerder van Swellendam, Roedolf Robertson, gr 12-leerder van George, NJ Tesner, gr 11-leerder van Gouritsmond, Sebastiaan Strydom, gr 12-leerder van Oudtshoorn, Janco Olivier, gr 12-leerder van Swellendam, Gideon Pretorius, gr 12-leerder van Mosselbaai, Wesley Barkhuizen, gr 12-leerder van George. Afrigter Piet Lourens het op die veld as aanvoerder opgetree.

Buiten Piet Lourens, is die span vergesel deur Willem du Buisson, Oakdale se hoof en die span se bestuurder, assistent-bestuurder Abrie de Wet, en sewe ouers.

Die span in groen en goud het die geslote klubkampioenskap vir nasionale spanne gewen. Van links mnr Willem du Buisson, NJ Tesner, R Roelofse, Janco Olivier , Zack Kroukamp, Thys Lourens, mnr Piet Lourens, en links onder Gideon Pretorius en Tiaan Kok. (Foto: Verskaf)

Piet, wat op ‘n plaas langs Oakdale boer, rig Oakdale se toutrekspanne die afgelope 22 jaar af. Tussen 60 en 80 seuns neem aan die sportsoort toe wat in gewildheid toeneem. Die onder-18 span wat vanjaar met die louere in twee kompetisies weggestap het, trek al van gr 8 af saam.

Mnr du Buisson is vol lof vir die span. “Dis ‘n pragtige groep seuns wat ware ambassadeurs vir Oakdale was. Hulle het absolute toewyding en opofferinge, veral ten opsigte van teikengewig wat behaal moes word, was bewys daarvan: hulle moes tussen 5 kg en 10 kg per persoon verloor om die spanmassa van 560 kg te haal!”

Die hoofborge wat die span se deelname moontlik gemaak het, was Klein Karoo Saadproduksie en SSK, terwyl ‘n aantal kleiner borge soos Inteligro,  Rovic Leers en Wenkem ook hand in die sak gesteek het. Volgens Willem het van die ouers ook geld ingesamel om die seuns se deelname moontlik te maak.

Die laaste twee dae voor hul terugkeer op 22 September ‘n kort toer na Amsterdam onderneem.  “Terwyl ons die slag daar was het die span ‘n melkplaas besoek wat met robotte werk, wat baie interessant was,” sê Piet.  Amsterdam is ‘n wêreldstad en ek dink dit was nogal ‘n ‘eye opener’ vir die seuns! Dit is goed om die kinders se horisonne te verbreed, maar twee dae was genoeg!”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0