Categories: Artikels, WielePublished On: 27th May 2020

Nuwe Toyota Corolla Sedan -Die staatmaker nou nog beter

By 5 min read
1010 words
toyota corolla

COROLLA-SEDAN-CR4-benefit-283

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Die wêreld sonder ‘n Toyota Corolla is omtrent soos ‘n leefstyl sonder rugby en braaivleis, dit is nou in ‘n Suid Afrikaanse konteks. Meeste Corolla eienaars kan hul nie indink aan ‘n lewe sonder hul getroue Corolla nie.

Toyota het die Corolla in 1966 bekendgestel en die model het sedertdien wêreldwyd gegroei tot ‘n huishoudelike naam.

Met die nuwe Toyota Corolla, nou reeds die 12de generasie van hierdie legende in gesinsmotor, het Toyota ‘n nuwe ontwerprigting gekombineer met die suksesvehaal wat geskryf is oor meer as ‘n halwe eeu waar verkope 45 miljoen Corollas oorskry het.

Ontwerp en Voorkoms

Die nuweling het dieselfde voorkant-ontwerp as die luikrug wat laasjaar plaaslik bekendgestel is.

Die pylvormige LED hoofligte met dagryliggies geïntegreer, wys na die sentraal gemonteerde Toyota-embleem in die sierrooster en trek onmiddellik aandag.

Die nuweling, soos die luikrug wat laasjaar plaaslik gedebuteer het, vertoon modern en  sportief danksy ondermeer ‘n kort daklyn en skuins C-pilaar. Die agterste buffer dra by tot die sportief aggressiewe voorkoms met geïntegreerde vinne om die lugvloei van die wielboë te kanaliseer.

Modelle

Drie modelle is beskikbaar met twee afwerkingsvlakke naamlik XS en XR,  waar die XR as die vlagskipmodel dien. Die XR model word eksklusief met die nuwe 2.0 liter enjin toegerus en bied ‘n keuse van ‘n 6-spoed handratkas of 10-gang CVT.

Die 1.8L XS model is die intreemodel en kom standaard met 16” allooiwiele en 205-55-R16 bande.

Daarteenoor ry die XR modelle op stylvolle 18” allooiwiele met ‘n nuwe “turbiene”-ontwerp en 225-40-R18 bande.

Kajuit en Toerusting

Die nuwe Corolla se kajuit bied ‘n soortgelyke uitleg en ontwerp as die luikrug weergawe met ‘n ergonomies praktiese uitleg en moderne stilering.

Afwerking is met materiale van gehalte, terwyl harde plastiekoppervlaktes nou grootliks met ‘n sagte oppervlaktes vervang is, terwyl dowwe aluminium afwerkingstroke die moderne gevoel in die kajuit beklemtoon.

Die sedan bied ook blou kontrasterende stiksels wat goed kombineer met die blou agtergrond beligting rondom die skakelaars en in die instrumentepaneel.

‘n Nuwe ontwerp vir die skottelvormige voorste sitplekke, bekleë in ‘n moderne sintetiese materiaal genaamd “RezatecTM”, sorg vir ‘n luukse gevoel. Die luukser XR model bied kopers ‘n keuse van sportiewe blou of klassieke grys afwerking.

Met Apple CarPlay, Android Auto en ‘n volkleur raakskerm (4,2″ in die Xs en 7″ in die XR modelle) is kommunikasie, rit- en voertuiginligting asook die  klankstelsel, maklik toeganklik. Klimaatbeheer met ‘n “Eco”- opsie, tru-kamera, elektriese vensters, sleutellose toegang asook elektriese verstelling vir die voorsitplekke sorg dat daar heelwat geriefies vir insittendes is. 

Die bestuurder sal ook die  multifunksionele stuurwiel met skakelaars vir meeste geriefsfunksies gemaklik vind. Die stuurwiel kan op en af, sowel as teleskopies verstel word.

XR modelle bied boonop ‘n truspieël wat outomaties verdof.

Rit en Paddinamika

Die nuwe Corolla reeks beskik oor ‘n bewese voorste veerstelsel wat van MacPherson strutte voorsien is, terwyl ‘n veelskakel stelsel agter ingespan word. Nuut ontwerpte en spesifiek gespesifiseerde skokbrekers voor en agter word gebruik. Hierdie skokbrekers beskik oor nuwe kleptegnologie en word, tesame met doelgeboude kronkelvere ingespan wat spesifiek ontwerp is sodat die reaksies maksimaal reageer, ten einde die beste terugvoer van die stuurstelsel te kry wanneer die Corolla teen middelmatige tot hoëspoed deur draaie gelooi word.

Die resultaat is vinniger reaksies van die skokbrekers sodat die oordrag van skokke vanaf slegte padoppervlaktes, gouer te minimaliseer vir ‘n sagter rit. Uiteraard is die algehele resultaat beter hantering  en stabiliteit asook ‘n geriefliker rit.

Die Corolla se GA-C platform is ook spesifiek ontwerp om ratkasvibrasies te onderdruk. Tesame met die mildelike gebruik van hitte- en geraas-isolerende materiale in die enjinkompartement, word die instrumentepaneel van die nuwe Corolla ook uit drie lae isolerende materiaal vervaardig om enjin en ratkasklanke asook vibrasies te minimaliseer. Alles sodat die kajuit so stil moontlik kan wees tydens ‘n rit.

Enjin en Kraglewering

Toyota SA het die nuwe Corolla plaaslik aanvanklik net met twee enjinopsies beskikbaar gestel.

‘n Normaal geaspireerde 1.8-liter petrolenjin is net so oorgedra van die vorige model. Die enjin lewer 103kW en 171Nm en is gekoppel aan ‘n 7- gang “Shiftmatic” CVT ratkas wat met 7 vooraf-geprogrammeerde “ratte” krag na die voorwiele oordra.

Die tweede kragbron is ‘n nuwe toevoeging, naamlik ‘n 2.0-liter “Dynamic Force”’ TNGA enjin soos wat in die RAV4 beskikbaar is en in die nuwe Corolla groot klem plaas op brandstofbesparing. Ook sonder turbokrag lewer hierdie petrolenjin 125kW en 200Nm wat krag na die voorwiele dryf deur ‘n opsie van ‘n 6-gang handratkas of ‘n 10-spoed “Shiftmatic” CVT.

Amptelik word brandstofverbruik vir die nuwe Corolla aangegee as 6.2 l/100 km vir die 1.8-liter model, terwyl die 2.0-liter handrat 6.5L/100 km en die 2.0-liter CVT 6.0 l/100 km gebruik.

Veiligheid

Al die nuwe Corolla modelle kom standaard met sewe lugsakke, ISOFIX koppelpunte, aktiewe elektroniese veiligheidstelsels soos ABS, EBD, BAS, VSC, HAC asook ‘n impak-absorberende bakstruktuur.

Die topmodel XR word bykomend toegerus met Toyota se TSS stelsel (Toyota Safety Sense) wat ‘n omvattende stel bestuurderhulpmiddels insluit. TSS sluit onder meer in ‘n “Pre-collision system”, blindekol monitor, spoedbeheer en “Lane Trace Assist”. Die XR model kom ook standaard met Bi-LED hoofligte.

Vir die bakstruktuur word aluminium, hoë sterkte staal asook ander materiale ruimskoots aangewend, terwyl dunner panele vir die dak en deure gebruik word ten einde heelwat gewig in die nuweling te bespaar wat uiteindelik bydra tot beter brandstofverbruik.

Met die groter gebruik van sterker kleefmiddels en minder sweislaste het die nuwe Corolla ‘n 60% verbetering in bakrigiditeit bo die uitgaande model. Dit sorg dat hoëspoed stabiliteit, hantering en paddinamika, asook stuurgevoel en terugvoer grootliks verbeter.

Die enjin en die sitplekke is by die nuweling laer gemonteer en dra dit ook by dat die nuwe Corolla se sentrale gravitasiepunt 10 mm laer is as die vorige model. Dit sorg vir verbeterde stabiliteit en bestuursdinamika op die pad.

Modelle en Prys

Corolla 1.8 XS CVT – R 372 700

Corolla 2.0 XR 6MT – R 412 300

Corolla 2.0 XR CVT – R 425 200

Waarborg en Diens

Alle Corolla modelle word verkoop met ‘n 90 000 km/6 dienste diensplan met ‘n diensinterval van 15 000 km/12 maande. ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg is ook ingesluit. 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0