Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 3rd April 2024

Nuwe teler raap duurste boerbokke ooit op

By 6 min read
1212 words

VEA 3

Die beste pryse ooit vir boerbokke is tydens die pas afgelope Black Tie Blue Blood-veiling behaal. VEA Stud Breeders van Bonnievale het die duurste boerbokram en die twee duurste boerbokooie gekoop.

Black Tie Blue Blood

Die spoggeleentheid waaraan slegs die room van Suid-Afrika se boerboktelers mag deelneem, is by Be Human-lokaal / plaas buite Bloemfontein aangebied. Altesaam 150 diere is aangebied wat deur plaaslike en buitelandse kopers teen rekordpryse opgeraap is.

Die Black Tie Blue Blood-veiling is ‘n inisiatief van die Wes-Kaap Boerboktelers. Slegs tien telers wie se bokke die beste op die Boerbok-wêreldskou gevaar het, en die vyf telers wie se diere die hoogste gemiddelde puntetoekenning op die jaarlikse nasionale veiling gekry het, mag aan die prestige veiling deelneem. Die veiling is onder die vaandel van Vleissentraal Port Elizabeth deur Meerkat Online Auctions op laasgenoemde aanlyn platvorm aangebied.

Die duurste boerbokram is vir R300 000 deur Lukas Burger Boer Goats aan William Smit van VEA Stud Breeders van Bonnievale verkoop. VEA Stud Breeders het ook die duurste boerbokooi vir  R260 000 van Salmon van Huyssteen Boer Goats, en die tweede duurste boerbokooi vir R225 000 by Gerrie Ferreira van Karoo Live Exports gekoop.

Gerrie en William saam met die twee duurste Boerbokooie op die Black Tie Blue Blood Veiling. VAE Stud Breeders het albei ooie gekoop. Die linkerkantste ooi van Salmon van Huyssteen is vir R260 000 verkoop, terwyl die ooi aan die regterkant van Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Boerbokstoet vir R225 000 aan VAE verkoop is. (Bron: Karoo Livestock Exports).

VEA Stud Breeders

VEA Stud Breeders, wat aan VEA Group Holdings (Edms) Bpk behoort,  is ‘n nuwe toetreder tot die boerbokbedryf. Die maatskappy het sowat tien jaar gelede tot stand gekom, maar die boerbokke is ‘n nuwe onderneming wat die groep aanpak.

William Smit, VEA Stud Breeders se finansiële ghoeroe en woordvoerder, het rekordpryse vir die duurste boerbokke op die veiling betaal. Die tien boerbokke – een ram en nege ooie – sluit Coke (Lot 63) van Lukas Burger in wat vir R300 000. VEA het ook die duurste boerbokooi (Lot 91) by Salmon van Huyssteen vir R260 000 gekoop, asook die tweede duurste ooi (Lot 57) vir R225 000 van Karoo Livestock Exports.

Ander vroulike diere sluit in ‘n ooi van Hein Booysen (Lot 99) vir R150 000; Tekoa (Lot 6) van Andries Volgraaff vir R120 000; ‘n ooi (Lot 58) van Karoo Livestock Exports vir R70 000, ‘n Lukas Burger- ooi (Lot 119) vir R55 000; nog ‘n Karoo Livestock Exports ooi (Lot 117) vir R47 000; ‘n Lukas Burger-ooi (Lot 122) ook vir R74 000 en nog een (Lot 123) vir R42 000.

Wie VEA Stud Breeders?

VEA Group Holdings se boerdery is ‘n plaas tussen Bonnievale en Stormsvlei op die N2 tussen Riviersonderend en Swellendam geleë.

Die plaas bestaan uit 1 665 ha, waarvan sowat 500 ha ou lande is wat voortaan gebruik sal word vir die saai en baal van lusern, hawer, bitterlupine en droëland-lusern as voer vir die bokke.

Die stoet sal semi-intensief en die kommersiële boerdery meer ekstensief bedryf word. `

“Die suidelike deel sal omskep word in ‘n toeristebestemming met luukse verbly wat uitkyk oor die pragtige valleie,” verduidelik William.

Volgens William, wat ‘n sterk finansiële agtergrond het, is sy rol by VEA Agri om die besigheid uit ‘n finansiële en operasionele oogpunt op ‘n gesonde wyse te bestuur. “Ek wil seker maak ons bekom die korrekte bloed lyne en stig verhoudinge met ander telers en buitelandse kliënte.

“VEA Stud Breeders staan vir die kweek van uitnemendheid. Ons visie is om een van die beste stoettelers te wees wat topklas diere teel wat oral in die wêreld onder toptelers in aanvraag is. Ek glo ons gaan binne die volgende jaar of twee ‘n pragtige stoet van sowat 500 ooie het, maar ons wil ook bekend wees vir ons uitstekende ramme.”

Die kommersiële been sal met meer as 2000 ooie boer wat vleis aan die plaaslike mark sal lewer, maar die uiteindelike doel is om die meeste van die kommersiële diere aan die buitelandse mark te lewer.

“Daar is tans ‘n groot tekort in die vleismark reg oor die wêreld en ons as VEA Stud Breeders voel ons kan ‘n verskil maak met die diere van hoë standaard wat ons gaan teel. SA Boerbokvleis is die gesondste rooi vleis wat daar tans in die mark is en ons sien die geleentheid om by te dra toet die mark aanvraag.”

Maar dit gaan nie net by boerbokke bly nie. “Ons werk tans ook saam met skaapboere om hulle lammers na die Ooste uit te voer. Ons beplan om ons eie kwarantyngebied te skep en ons besigheid uit te brei as VEA Stud Breeders and Exporters.”

As die besigheidsplan klink na Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Exports s’n is die aanname korrek, want Gerrie en sy span het uit die staanspoor ‘n belangrike mentorskaprol in VEA se besluitneming gespeel.

“Ons het Gerrie die eerste keer verlede jaar by Nampo op Bredasdorp ontmoet,” vertel William. “Hy het van sy mooiste diere daar kom wys en dit het dadelik ons oog gevang. Ons het met Ockie Nel, Gerrie se skoonseun begin gesels.”

Vroeër vanjaar het hulle Karoo Livestock Exports op Chandelier sowat 10 km buite Oudtshoorn besoek. “Gerrie het ons op ‘n toer deur sy besigheid gevat en gewys hoe hulle dinge doen. Hy deel letterlik al sy kennis met ons,” sê William. “Daar is baie raakpunte tussen wat hy doen en wat ons beplan. Hy het ons ook op die plaas  besoek en oor verskeie aspekte raad gegee.”

William en Kobus van der Merwe, VEA se plaasbestuurder, het ook die eerste Junior Boerbokkursus van die jaar op Chandelier bygewoon.

Op die vraag wat William-hulle  alles by die kursus geleer het, antwoord hy: “Ek dink die vraag moet eerder wees:  wat het ons nie geleer nie! Gerrie en Ockie het regtig uit hulle pad gegaan om in die drie dae soveel moontlik inligting vir ons deur te gee. Hulle het ook baie moeite gedoen met die praktiese kant van die kursus en vir ons ‘n klomp moontlike voorbeelde gewys. Na afloop van die kursus stap mens regtig daar weg met groot opgewondenheid, ‘n tevrede hart en ‘n geheue met ongelooflike kennis. Ons het nog baie om by hom en by ander telers te leer.”

Gerrie hou van VEA se benadering. “Ek is in die boerbok- en uitvoerbedryf, asook in die wild- en toerismebedryf en kan uit ondervinding vir hulle raad gee. Hulle is gereed om met diere van hoe gehalte te boer en ek sal ‘n pad saam met hulle stap solank as wat dit vir hulle nodig is.”

Gerrie, wat ‘n geakkrediteerde beoordelaar by die SA Boerbokvereniging is en gekwalifiseer is om die kursus aan te bied, sê Kobus was die Dux-student by die Junior-kursus. “Dit is net nog ‘n bewys van die VEA-groep se toewyding tot die boerbokbedryf.”

Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Boerbok Stoet en William Smit van VEA Stud Breeders bespreek die top genetika wat VEA tydens die Black Tie Blue Blood Veiling gekoop het. (Bron: Karoo Livestock Exports)

Kontakbesonderhede

Gerrie Ferreira by Karoo Livestock Exports  info@starsouth.co.za of besoek die webtuiste by https://www.karooexports.com/ of op Facebook by https://www.facebook.com/karoolivestockexports

Kontak William Smit by 082-374-8811 of william@veagroup.co.za

Bronverwysings

Veilingsverslag: Boerbokooi vir nuwe rekordprys opgeveil. (2022) Netwerk24

https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/veilingsverslag-boerbokooi-vir-nuwe-rekordprys-opgeveil-20220414

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0