Categories: NewsPublished On: 20th June 2016

Nuwe HILUX dubbelkajuit: Toyota verbeter wenresep

By 5 min read

1

In die sestigers toe die eerste Toyopet bakkies en later Toyota Stout’s hier plaaslik geland het, het die plaaslike manne die gedoentes uit die Verre ooste maar skepties bekyk. Jy sien Ford F100 en Chev C10 was die plaasbakkies en Ranchero’s en El Camino’s was die dorpjapies se rygoed. Gou-gou is daar gepraat van “jap-crap” en “Tonne Ou Yster Op Twee Aste”. In 1969 het die Hilux as eentonner met 1,5 liter petrolenjin sy verskyning gemaak. Die Stout het by daardie tyd al respek met sy taaiheid en robuuste werkverrigting gewys. Wie sou daardie tyd kon voorspel dat die einste Hilux baie jare later jaar vir jaar Suid-Afrika se topvekoper voertuig sou word. Onder Toyota se gedugte bestuurspan van Albert Wessels, Brand Pretorius en slim advertensie ghoeroe Colin Adcock het die tagtigerjare se advertensieklingel “Alles loop reg, altyd reg, Toyota!” so inslag gevind, dat die waarde van daardie slagspreuk vandag nog Toyota se reputasie as taai, betroubare voertuie onderbou.

Sedert daardie eerste Hilux het vyf generasies gevolg – elke keer ‘n verbetering en elke keer ‘n reuse sukses by die verkooplokaal, met die sesde generasie sekerlik die mees gewilde model. Met die “Legend”- modelle en later ook Toyota wat hulde gebring het aan sy woestynrensukses met die “Dakar” weergawes,  was dit haas ondenkbaar dat Toyota kan verbeter op die Hilux wat plaaslik en internasionaal markte oorrompel het.

Die 7de generasie is hier en ons het die 2016 Hilux dubbelkajuit 4×4 in beide 6-spoed handrat en outomaties onder hande gehad.

Na ‘n week in beide is ons gunsteling teen alle verwagting in, die 6-spoed outomaties en kan ons onomwonde verklaar dat die 2016 model in alle opsigte (behalwe dalk voorkoms – daai neus, daai neus) ‘n oortuigende en indrukwekkende verbetering op die vorige model is.

Dubbelkajuitbakkies is lank reeds nie meer net die keuse van die werkende man, boer of avontuurliefhebber nie. Dit is deesdae baie gewild onder stedelinge wie nie die veel duurder sportsnuts kan bekostig nie, maar steeds ‘n buitelug leefstylvoertuig as die gesin se ryding wil hê. Gevolglik moet dubbelkajuite dan ook al meer luuks en gerieflik wees en ook gemaklik kan bestuur as moeder die kinders en inkopies moet rondkarwei. Vandaar dan ook die outokas.

Die 2016 Hilux dubbelkajuit voldoen aan al daardie vereistes. Die nuwe bakkie is binnekant ruim, goed afgewerk met kwaliteit materiale en in die topmodelle, bied ook al die geriefies wat deesdae standaard in die luukse sedanmotors te kry is.

Ons toetsmodelle was 2,8GD-6 Raider 4×4’s met die een ‘n 6-spoed outomaties en die ander ‘n 6-spoed handratweergawe.

Die kajuit is ruimer as die vorige model en die gerieflike sitplekke beklee met ‘n duursame materiaal. Die voorpaneel was vir my persoonlik nie so mooi soos die nuwe Ranger nie, maar steeds modern en intuitief uitgelê. Die kompakte raakskerm is middel bo in die voorpaneel waar die klank-, telekommunikasie- en voertuiginligting maklik gekry kan word. Dit gee ook die hoëdefinisie beeld van die tru-kamera wanneer jy in tru-rat is.

2

Daar is Bluetooth-koppeling vir die telefoon asook USB asook 12V-sokke maklik bereikbaar onder in die voorpaneel. Die praktiese nuwe draaiknop waar 2-wiel, 4-wiel en laestrek gekies kan word is ook binne bereik onder links langs die stuurwiel geplaas. Die stuurwiel met beheerskakelaars vir die klank, telefoon en ritrekenaar is hoogte en reik verstelbaar en die instrumente agter die stuurwiel is goed uitgelê en maklik leesbaar. ‘n Ritrekenaar is ook tussen die toereteller en spoedmeter geplaas met die skakelaar vir die verskillende programme daarvoor op die stuurwiel. Daar is elektries verstelbare kantspieëls en vensters asook spoedkontrole en lugversorging met klimaatbeheer.

Ritgehalte is merkbaar verbeter met die nuwe model. Die Hilux ry en hanteer nou meer soos ‘n motor.

Ek het die wiele se bandruk tot 1,85 bar verminder, 4H geselekteer en ‘n lekker stuk sinkplaat grondpad gekies. Selfs teen 100km/u het die nuwe Hilux se ritgehalte, kajuitgemak en hantering beïndruk. Daarna het ek ‘n stuk uitdagende vars geploegde Sandveld landery gaan aanvat. Die gemak waarmee die nuwe Hilux (veral met die outokas) se baie wringkrag teen lae toere die dik los sand baasgeraak het, maak dit my nr 1 keuse bakkie vir sandry.

Vir rowwe en rotsagtige terrein sal ek persoonlik egter steeds die Ranger kies.

Ons outomatiese bakkie was nie met ‘n sleepstang toegerus nie so ons kon nie die dinamika en sleepvermoë beoordeel nie, maar die handratweergawe het gemaklik met die bykans 3 ton vrag agter op ‘n sleepwa gehanteer-  selfs teen 100km/u op die ooppad. Wegtrek teen ‘n heuwel in 4H het oënskynlik sonder spanning op die koppellaar gevoel, terwyl die remme uitstekend gewerk het afdraend teen ‘n steil heuwel.

Ons brandstofverbruik gemeet oor ons gemiddelde afstand van rondom 1000 km afgelê oor ons weeklange toetsperode was so 9,6l/100 km  vir die outomaties en 10,4l/100 km vir die handrat, maar dan het die handrat ‘n stewige sleepsessie geslaag wat die outomaties nie kon doen nie. Die brandstoftenk kan 80 liter diesel neem.

Die 2016 Toyota Hilux dubbelkajuit sal ongetwyfeld voortbou op die suksesverhaal wat die ses vorige generasies geskryf het en sal sekerlik weer die titel dra as topverkoper voertuig in Suid- Afrika. Dis ongetwyfeld ‘n uitstekende bakkie vir die buitelug en ‘n ook ‘n heerlik gerieflike ryding  vir die gesin.

Prys

Toyota Hilux 2,8 GD-6 Dubbelkajuit 4×4 Raider handrat – R529,900

Toyota Hilux 2,8 GD-6 Dubbelkajuit 4×4 Raider outomaties – R547,900

Die 2016 Hilux kom standaard met ‘n 5jaar/90,000km diensplan.

Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimate drive

Ultimate-Drive

3

4

5

6

7

8

 

 

0
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0
0