Nuwe boek help groenteboere om geld te maak

cover.ch.17.06.27
Moenie daaraan dink om met groente te begin boer, as jy nie Piet Stork se nuwe omvattende groenteboerderyhandboek op jou tafel het nie. Die boek, The Vegetable Producer’s Manual, A practical guide for cultivating vegetables profitably, is pas deur Kejafa Knowledge Works vrygestel.
Die boek bevat ‘n leeftyd se kennis wat deur die skrywer opgebou is as saadinspekteur by die Departement van Landbou en as navorser by die Landbounavorsingsraad. Piet het dekades se ondervinding met betrekking tot die opleiding van boere, die oprigting van hidroponiese stelsels, die ontwikkeling en vermeerdering van saad en enige vorm van groenteboerdery.
Hy sê hy is omtrent al 20 jaar lank besig om die boek te skryf en dit was op die ou end ‘n familie-poging om al die materiaal bymekaar te kry in ‘n bruikbare formaat. Met Johan Olivier en die span van Kejafa se toetrede, het die projek uiteindelik uitgeloop op ‘n netjiese 400-bladsy A4-boek.
Piet sê sy doel is om mense te help om suksesvol en winsgewend met groente te boer. Hy het deur die jare gesien hoeveel groenteboere die onderspit delf, net omdat hulle nie behoorlik beplan het of genoeg inligting het nie.
Anders as die meeste groentehandleidings wat net op die verbouingstegnieke van verskillende groentesoorte konsentreer, bespreek Piet alle fasette van groenteboerdery, van die beplanning van jou plaas se infrastruktuur, deur die hantering van saad, saailinge, bemesting en peste tot by beraamde produksiekoste en wins.
Die boek is in Engels geskryf sodat mense in ander wêrelddele dit ook kan gebruik. Johan van Kejafa sê daar is alreeds navrae ontvang vanuit Amerika, Australië en verskeie Afrikalande.
Piet vertel dat mense dikwels oor die eenvoudigste struikelblokke neerslaan soos om voor die tyd uit te werk hoe jy ‘n hektaar se pampoene gaan aanry mark toe met jou eentonner-bakkie. Veral as jy daarin slaag om so 60 ton se pampoene skuins duskant Koekenaap te produseer…
Die eerste sin van die boek bevat seker die beste raad wat enige voornemende groenteboer kan ontvang: “When producing vegetable crops it is necessary to keep in mind that production begins at the market (the markets need to be identified) and also ends at the markets (supplying produce to these markets).”
Die eerste deel van die boek bevat algemene riglyne soos beplanning, arbeid, klimaat, grondvoorbereiding, bemesting, besproeiing, insekbeheer, organiese boerdery, tonnelverbouing, oesmetodes en hantering van die oes. Die tweede deel van die boek hanteer produksieriglyne vir verskillende soorte groente. Van tamaties regdeur tot knoffel. Piet het juis gesorg dat boere in Suid-Afrika goed geld kan maak uit knoffel met die ontwikkeling van ‘n spesiale kultivar vir plaaslike omstandighede.
‘n Hele aantal maatskappye het die projek finansieel ondersteun en boere kan hulle gerus kontak om as verskaffers van saad, kunsmis en ander hulpmiddels op te tree.
The Vegetable Producer’s Manual sal by die meeste bekende boekwinkels beskikbaar wees, maar kan ook regstreeks by Kejafa Knowledge Works bestel word by 014-577-8006 of kejafa@mweb.co.za.
ISBN: 978-0-620-72378-7

Die seël op ‘n leeftyd se kennis en harde werk, die eerste gedrukte uitgawe van The Vegetable Producer’s Manual, A practical guide for cultivating vegetables profitably, word deur Johan Olivier (regs) van Kejafa-uitgewers aan die skrywer, Piet Stork, oorhandig.