Categories: Artikels, NuusPublished On: 23rd January 2023

Nuutste landboutegnologie: Die jongste tegnologienuus van regoor die wêreld

By 6 min read
1208 words

Picture1

LEMKEN koop Equalizer

՚n Groot hupstoot vir Equalizer, die plantervervaardiger van Kaapstad, was onderhandelinge wat daarop uitgeloop het dat LEMKEN die maatskappy koop. Equalizer vervaardig fynsaadplanters met ՚n werkwydte van tot 24 m en presisieplanters van tot 36 rye.

Equalizer is soos LEMKEN ՚n familiesaak. Dit is in 2000 gestig en het tans 180 werknemers. Equalizer is Suid-Afrika se markleier in presisieplanters en is ook baie gewild in Australië.

LEMKEN se HUB, Anthony van der Ley, sê Equalizer vul LEMKEN se planterreeks uitmuntend aan en is ՚n belangrike bousteen vir verdere groei.

LEMKEN se HUB, Anthony van der Ley, en die eienaar, Nicola Lemken, saam met Equalizer se besturende direkteur, Gideon Schreuder.

“Daar is geen oorvleueling in ons reekse nie,” sê hy. “Equalizer bied oplossings vir klante en markte wat LEMKEN tot dusver nie kon bedien nie. Equalizer bevorder ons groeistrategie deur ՚n leemte in ons produkreeks te vul met hulle planters en kleinsaadplanters – ook met hulle saad- en kunsmiswaens.”

Die oorname sal na verwagting teen die lente voltooi wees en die twee maatskappye sien daarna uit om die aanleg in Suid-Afrika uit te brei. Die eerste uitbreiding is die beduidende vergroting van die onderdelelogistiek in 2023.

Al Equalizer se plaaslike personeel sal behou word, so ook die handelsnaam, en die huidige bestuur sal voortgaan om die maatskappy as ՚n onafhanklike filiaal te lei.

“Ons sien groot moontlikhede vir nuwe produkte met LEMKEN aan ons kant en ons sien uit na ons toekomstige samewerking,” sê Gideon Schreuder, Equalizer se stigter en besturende direkteur.

Karel Munnik, besturende direkteur van LEMKEN SA, sê hulle is baie opgewonde oor die ontwikkeling, want dit sal albei maatskappye in staat stel om vinniger te groei.

Die nuus is in ՚n video deur LEMKEN aangekondig.

Klink ՚n glasie op uitmuntende ontwerp

New Holland se Wydsbeentrekkerkonsep het ՚n goue medalje gewen in die kategorie vir Uitmuntende Produk-ontwerp by die Duitse Ontwerptoekennings 2023. Die toekennings word gemaak deur die Duitse Ontwerpraad, Duitsland se ontwerp- en handelsmerkowerheid wat in Frankfurt am Mein gesetel is. Die beoordelaars vorm ՚n netwerk van kenners in vernuwing en ontwerp.

Die Wydsbeentrekker wat by SITEVI (salon international des équipements et savoir-faire pour les productions vignevin, olive et fruits-légumes) bekendgestel is, is ՚n gesamentlike skepping van New Holland Landbou en Pininfarina, die internasionaal erkende ontwerpers wat ook vir Ferrari se ontwerpe verantwoordelik is.

՚n Video wat duisende kere regoor die wêreld gekyk is verduidelik hoe dit werk. Die doel met die ontwerp is om in smal wingerde te werk.

Hierdie boerderye lewer druiwe en wyn van hoë gehalte uit rye van minder as anderhalf meter, dikwels op steil hellings en in klein wingerde. In hierdie toestande word druiwe met die hand gepluk en die meeste van die wingerdonderhoud word gedoen met ՚n trekker wat wydsbeen oor die ry beweeg.

Die toekomsgerigte ontwerp van Pininfarina kombineer veiligheid, gerief en tegnologie: dit spruit uit die vorm van ՚n vonkelwynglas – hoog, wyd bo en al dunner na onder – as hulde aan die voorste wynboere van streke soos Champagne, Médoc en Boergondië.

Die hele kajuit is van glas gemaak, wat die operateur in staat stel om oral te sien, en dit neig in die ryrigting, wat dinamiek aan die ontwerp verleen.

Die algehele aanblik van die werktuig getuig van vloeiende en selfbewegende lyne. Die blootgestelde raam sorg vir ՚n sportiewe voorkoms.
Die kajuit het ՚n groot enkeldeur en ՚n roterende sitplek, met houtafwerking wat aan wynvate herinner en bydra tot die kajuit se snoesige, weelderige gevoel.

Getrou aan New Holland se verbintenis aan alle aspekte van volhoubare boerdery en die handelsmerk se Skoonenergieleierstrategie, is die konsep gereed vir elektriese aandrywing.

Carlo Lamblo, handelsmerkpresident van New Holland Landbou, sê: “Die rewolusionêre Wydsbeentrekkerkonsep is die resultaat van samewerking tussen twee spesialiste in hulle onderskeie gebiede en bied elegante ontwerp, uitstaande vernuwing en toekomsgerigte denke vir landboumasjiene. Dit is ՚n eer vir New Holland om hierdie onverwagte toekenning te ontvang, en dit spoor ons aan om nog meer veilige, gerieflike, goed-ontwerpte werktuie van hoë gehalte te ontwikkel.”

Alfredo Palma, hoofvervoerontwerper, sê: “Die toekomsgerigte ontwerp van die Wydsbeentrekkerkonsep is ՚n gebalanseerde mengsel van funksionaliteit en styl, waar gerief en veiligheid besiel is deur die vorm van ՚n vonkelwynglas. Ons is trots op die samewerking met New Holland, en die verwerwing van die Duitse Ontwerptoekenning onderskryf die grootste resultaat wat ons saam behaal het.” (Bron: World-Agritech)

Verleng die lewensduur van jou tande en skottels

Bourgault Tillage Tools het Maxlife, ՚n ingegote wolframkarbiedbehandeling, ontwikkel om die leeftyd van grondbewerkingsonderdele te verleng. Dit is verkrygbaar van die Kanadese maatskappy se filiaal in die VK (BTT UK). Toetse bewys dat dit beitels en skottels se lewe met 300 tot 800% verleng.

Die smeltwarm sweisbad bevat soliede klonte wolframkarbied. Wanneer dit gelykweg oor die werkvlak van die slytonderdeel versprei word, is dit uiters sterk en skerf of splinter nie af wanneer dit aan harde skokke blootgestel word nie.

Ian Clayton-Bailey, besturende direkteur van BTT UK, sê: Dit is ՚n kostedoeltreffende behandeling vir hoëslytvlakke van ՚n wye reeks onderdele, en is reeds bewys op egtande, skare, penne, skagte, beitels en skottels.

“Ons maatskappy se dertig jaar ervaring in geharde onderdele kom in die huidige sakeklimaat werklik na vore.

“Dit is noodsaaklik vir sukses om ՚n groot en veelsydige reeks onderdele te hê in lande soos die VK met sy uiteenlopende grondtipes, klimaat en topografie oor ՚n relatief klein grondoppervlakte.”

Die maatskappy het ook die reeks werktuie wat met sy VOS-plantstelsel kan werk, uitgebrei. (VOS = Versatile Opening System) Dit werk al etlike jare op die Horsch CO en Sprinter-planters, maar is nou ook beskikbaar as ՚n omskakeling vir die Weaving Sabre Tin-, Amazone Cayena- en Kuhn Megantplanters. (Bron: profi)

ExactShot skiet raak met kunsmis

Die ExactShot-planter/kunsmistoediener is een van die interessante nuwe tegnologieë wat John Deere by CES 2023 onthul het – die voorste tegnologieskou wat in Las Vegas gehou is. Dit dien aanvangsbemesting presies op elke indiwiduele saad toe. Dit sal boere help om meer produktief, winsgewend en volhoubaar te wees.

“Alles wat ons by John Deere doen is afgestem op werklike doel en werklike impak,” het Jahmy Hindman, hoof tegniese beampte, John Deere, gesê. “Dit beteken ons ontwikkel tegnologie wat ons kliënte in staat stel om die voedsel, brandstof, vesel en infrastruktuur te verskaf wat ons groeiende wêreldbevolking nodig het.”

ExactShot stel boere in staat om die hoeveelheid aanvangsbemesting wat benodig word tydens plant met meer as 60% te verminder. Die tegnologie gebruik sensors en robotika om kunsmis presies op sade te plaas soos dit in die grond geplant word, eerder as om ‘n deurlopende vloei van kunsmis op die hele ry sade toe te dien.

ExactShot sal boere help om ekonomies en omgewingsvriendelik te boer. Met die wêreldbevolking wat na verwagting teen 2050 van 8-miljard tot byna 10-miljard sal groei, moet boere hulle produksie met 60% tot 70% op
vandag se bewerkbare grond verhoog.

ExactShot gebruik ‘n sensor om te registreer wanneer elke saad in die grond gaan. ‘n Robot spuit slegs die hoeveelheid kunsmis wat benodig word, ongeveer 0,2 ml, op die saad op die presiese oomblik wanneer dit in die grond gaan.

Amerikaanse mielieboere kan met ExactShot jaarliks meer as 352-miljoen liter aanvangsbemesting bespaar. Dit verhoed ook dat vermorste kunsmis onkruidgroei aanmoedig en verlaag die risiko van kunsmis wat van die veld af in waterbronne beland. (Bron: Worldagritech.com)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0