Nou al 22 voorvalle van voëlgriep: Astral bevestig tweede uitbreking het versprei

withoender
Die tweede uitbreking van voëlgriep of Avian Influenza (HPAI) H5N8 by een van Astral Foods Limited se teelplase by Standerton, het ondanks streng veiligheidsmaatreëls, na ander skure op die plaas versprei.
Astral het in Junie bekend gemaak dat voëlgriep by een van hulle pluimvee-teelplase in Villiers aangetref is.
Ondanks streng maatreëls wat getref is om die risiko van enige verdere besmetting van die virus op enige ander Astral-plase te verminder, is ‘n tweede voorval van H5N8 op 1 Augustus 2017 op ‘n Astral-pluimveeteeltfasiliteit, bekend as Welbedacht, geleë aan die oewer van die Grootdraaidam net buite Standerton in Mpumalanga, aangetref.
Daar is voorheen berig dat die uitbraak op Welbedacht in ‘n enkele pluimveeskuur geïsoleer is, maar Astral sê ondanks ‘n groot poging en talle maatreëls wat in werking gestel is om die virus op die een aangetaste deel te hanteer, het die virus verder versprei na ander pluimveeskure op die plaas. Die plaas bly onder kwarantyn en Astral het die skure ontruim.
Gary Arnold, besturende direkteur, Landbou, by Astral, sê: “Aangesien HPAI-virusse in die lug kan wees, is dit baie moeilik om die verspreiding van die infeksie na naburige pluimveeterreine in die nabyheid van die oorspronklike uitbreking op die plaas te beheer. Talle maatreëls is in werking gestel in ‘n poging om die virus te beheer. Sulke maatreëls sluit die ontsmetting van die onmiddellike omgewing in en om die pluimveeskure met chemiese oplossings en ander middels te behandel. Streng bewegingsprotokolle is op die plaas in werking gestel.”
Astral het die versekering gegee dat die siekte nie die beskikbaarheid van hoender of eiers in die mark sal raak nie – dit raak net teelhoenders en nie braaikuikens of lêhenne nie.
Gary sê ook dat die H5N8 virus in Suid-Afrika vinnig versprei het, wat ‘n impak op kommersiële boere, agterplaas pluimvee, volstruise en wilde voëls gehad het.
“Ten minste 22 bevestigde uitbrake is regoor die land aangeteken. Een van die jongste bevestigde gevalle is op ‘n plaas in KwaZulu-Natal naby Vryheid en verlede week is ‘n nuwe voorval in die Wes-Kaap aangeteken, ook moontlik op ‘n kommersiële eendeplaas. Die virus is nou al aangetref in Mpumulanga, Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.
“Astral gaan voort om aktief saam met die regering te werk om die gebruik van inentingsprogramme teen die virus te reguleer, asook korttermynmaatreëls wat die kontinuïteit van braaikuikenvoorsiening na ons markte sal verseker. Inenting om hoë-waarde broeivoorraad in Suid-Afrika te beskerm, het grootskaalse ondersteuning in die plaaslike pluimveebedryf, en dit sal ‘n groot bydrae lewer tot die voorsiening van voedselsekuriteit en om werksverliese te verminder as gevolg van produksieverliesverliese in hierdie bedryf,” sê hy.
Bron: Astral