Categories: Artikels, NuusPublished On: 12th October 2022

Noord-Kaap brande onder beheer

By 5 min read
990 words

brand poster

deur Tisha Steyn

Die brande wat sedert 5 Oktober tussen Kuruman en Daniëlskuil in die Noord-Kaap gewoed het, is so te se onder beheer.  Sowat 60 plase wat tussen 130 000 ha beslaan, het in die slag gebly en dit laat ongeveer 13 000 beeste sonder weiding.

“Agri Noord-Kaap en die betrokke landbou-unies is besig met ‘n behoeftebepaling om die omvang van die skade vas te stel,” sê Janine Byleveld van Agri Noord-Kaap.

Volgens Janine toon satellietbeelde dat meer as 130 000 ha weidingveld verwoes is, asook een plaashuis en twee arbeidershuise.

“Vier spanne  van werk-vir-vuur is besig om seker te maak die vuur is oral dood sodat dit nie weer kan opstaan nie.”

 Die spanne werk onder leiding van die bestuurspan van die Vrystaatse sambreel-brandbeskermingsvereniging. Agri Noord-Kaap het die vereniging genader vir hulp en dra die bestuurspan se reis- en verblyfkoste.

Die Departement Landbou het Maandag (10 Oktober) berig die brand na die R14 tussen Kuruman en Kathu versprei het en na die Lohatla Militêre basis aangestoot het.

Johann Savage Breytenbach gee die dag se opdragte aan die Werk-vir-vuur spanne. Foto: Agri Noord-Kaap

“Vroeër gister (11 Oktober) was daar ’n brand langs die R31 naby Daniëlskuil wat oor die pad gespring het, maar dit is ook onder beheer gebring. Vanoggend (12 Oktober) was daar ‘n brand tussen Hotazel en Kuruman,” sê Janine.

“Agri Noord-Kaap het  in samewerking met die Departement Landbou en Departement Rampbestuur ’n bestuurspan op die grond geplaas om seker te maak dat dit die einde van die brand is.”

Ontoegangklik

Jan Joubert, ‘n kommersiële boer en voorsitter van Agri Kuruman, het self een van sy plase in die brand verloor. “Ek boer op altesaam sowat 3 000 ha, waarvan een plaas van 465 ha behou gebly het, terwyl sowat 85% van die ander plaas afgebrand het.”

Die plase wat gebrand het is in die rantjiesveld wat moeilik toeganklik is. “Die totale omvang van skade aan weiding en infrastruktuur soos heiningpale en- draad en plastiekwaterpype is moeilik om vas te stel, want die hange is hoog en steil. Waterpype wat bo-op die grond gele is omdat dit nie oral moontlik is om dit te begrawe nie, sal alles vervang moet word.”

Weens die bewolkte toestande en die rookwolk wat oor die gebied hang, is dit nie moontlik om die skade presies met satelliet beelde te bepaal nie. “Ons het ‘n vinnige opname gemaak van al die boere wat skade rapporteer het, en dié blitsopname het getoon dat sowat 60 plase in die slag gebly het, asook ‘n plaashuis en arbeidershuise. Daar was gemsbokke wat gebrand het, asook boerbokke van groot waarde, want dit was stoetdiere. Dit lyk of minder beeste doodgebrand het as die sestig wat verlede jaar in die brand, wat toe 120 000 ha verwoes het, gebrand het. Die 2021-brand het in ‘n ander gebied van dieselfde distrik as wat vanjaar deurgeloop het, gewoed.

Natuurlike weiding op sowat 60 plase is in die brand verwoes.

Volgens Jan is dit natuurlike weiding, wat in die rantjiesveld uit suurveld en op die vlakte uit gemengde weiding bestaan, wat gebrand het. “Weens verlede jaar se goeie reëns was daar baie brandbare materiaal en die veld het warm gebrand. Die vlamme is aangeblaas deur sterk wind van 30-35 km/uur, wat die vuur vinnig versprei het.”

Volgens die departement van landbou is die voorgestelde drakrag 10 hektaar per grootvee-eenheid (bees). “Dit beteken die verlies van 130 000 hektaar laat sowat 13 000 beeste sonder weiding, en een bees het 15 kg per eenheid voer per dag nodig.”

Alternatiewe weiding

Die beeste het dringend alternatiewe weiding nodig. “Ons uitgangspunt is dat ons gou vir hierdie boere alternatiewe weiding moet gee. Tot dan sal ons voer moet aanry, maar dis net ‘n tydelike oplossing tot almal met weiding geholpe is. Ons gaan nie mense help wat hul beeste op kraal laat staan en aanhou voer nie.”

Maar om beeste na alternatiewe weiding aan te ry is ook ‘n logistieke nagmerrie. “Mens kan maksimum 40 beeste op ‘n lorrie laai, afhangend van hoe groot die lorrie laai. Dit kan nogal ‘n rukkie neem om 13 000 beeste te vervoer…”

Die brand tussen Danielskuil en Kuruman het in die Kuruman-heuwels gewoed wat nie maklik toeganklik is nie.

Hy sê die lading op die gebrande weiding moet beperk word sodat die veld ‘n hele seisoen kan rus ten einde so vinnig moontlik te herstel. Dit sal beteken dat die eerste beeste eers net voor volgende winter teruggeneem kan word. Die hersteltydperk vir hierdie tipe veld is vyf jaar: na die eerste jaar kan ‘n derde van die kudde teruggeplaas word, in die derde jaar nog ‘n derde, en die res eers in die vyfde jaar. “Dit verg kundige bestuur en logistieke reëlings en het natuurlik  finansiële implikasies.”  

Lugondersteuning

Noord-Kaap minister van landbou,  Mase Manopole, het die Suid-Afrikaanse weermag bedank vir die twee Oryx-helikopters van die basis wat gehelp het om die brande onder beheer te bring. Sy het die gemeenskap versoek om op die uitkyk te wees vir nog brande en dit onverwyld by die owerhede aan te help.

“Ons is baie dankbaar vir die vlieëniers wat kom help het ten spyte van die stormsterk wind,” sê Jan. “Hulle het hul eie lewens in gevaar gestel om ons te help. Ons is ook dankbaar dat daar geen lewensverlies of ernstige beserings aangemeld is in die verwoestende brand nie.”

Fondswerwing

Sowat 85% van een van Jan Joubert se plase is in die brand in puin gele.

Agri Noord-Kaap is tans besig met ’n groot fondswerwingsveldtog om tydelike voerhulp aan landbouers te bied, asook as om ’n infrastruktuurprojek op die been te bring om te help om waterpype, grensdrade en ander infrastruktuur te herstel. “In 2021 het Agri Northern Cape Foundation R2,9 miljoen spandeer om landbouers te help met voer, vervoer en infrastruktuur,” sê Janine.

Vir meer inligting oor die fondswerwing, besoek www.agrinc.org.za of kontak 073 291 0557.

Kontakbesonderhede

Kontak Jan Joubert van Agri Kuruman by 73 303 6786

Kontak Janine Byleveld by Janine@agrink.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0