Categories: NewsPublished On: 27th June 2017

Nog laer brandstofpryse in Julie verwag

By 1 min read
253 words
petrol

brandstof

Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom

Die pryse van brandstof sal na verwagting nog verder in Julie daal. Volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vanoggend bekend gemaak is, kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 5 Julie 2017 moontlik met 67,6c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud moontlik met 60,7c per liter daal.

Die belangrikste redes vir hierdie verwagte prysdalings kan hoofsaaklik aan die daling in die gemiddelde maandelikse ru-olieprys tot bykans $45 per vat toegeskryf word. Die laer ru-olieprys kan steeds aan die onvermoë van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (OPUL) om die ru-olie oorskot in die internasionale mark te verminder, toegeskryf word, asook  die skerp styging in produksie en voorraadvlakke van brandstof in Amerika. Die gemiddelde maandelikse ru-olieprys is op die oomblik ongeveer $10 per vat hoër as die laagste vlak vir die afgelope 10 jaar van net bokant $35 per vat waarteen dit aan die begin van 2016 verhandel het.

As gevolg van die daling in die ru-olieprys het die laer gemiddelde internasionale pryse van petroleumprodukte dalings van 65,1c per liter in die petrolprys en 58,2c per liter in die dieselprys die afgelope maand tot gevolg gehad.

Die wisselkoers was die afgelope maand baie wisselvallig en het tussen R13,10  en R12,70 teenoor die VSA-dollar verhandel wat verdere dalings van net 2,5c per liter in beide die petrol- en die maksimum groothandelsprys van diesel te weeg gebring het.

Die finale prysveranderings sal Vrydag deur die Minister van Energie bekend gemaak word.

Bron: Departement van Energie

 

0
Views: 272Comments Off on Nog laer brandstofpryse in Julie verwag

Deel hierdie artikel.

0