Nog hulp aan boere in droogtetyd

bredasdorp
Dis nie net die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes se boere wat mekaar in droogtetye help nie, maar ook die boere van die Wes-Kaap.
Wes-Kaapse boere het 100 ton voer vir hulle medeboere in Kliprand geskenk. Die boere het saam met Agri Wes-Kaap gewerk om die droogte te verlig. Daar is 100 ton voer vanaf boere in Bredasdorp, Ceres en Malmesbury geskenk. Suid-Afrikaanse Brouery (SAB) het ‘n vloot van ses vragmotors gestuur om die voer op te laai en by die boere in die Kliprand-gebied af te lewer. Kliprand, wat agt ure van Kaapstad af is, is een van die Wes-Kaap se ergste droogtegebiede. Die Wes-Kaapse minister van Ekonomiese Geleenthede, Alan Winde, was op die plaas Grasrug net buite Malmesbury om een van die boere, Michiel Smuts, persoonlik te bedank vir sy bydrae en om dankbaarheid aan al die boere te betoon.
“Dis bemoedigend om die privaatsektor en boere te sien wat saam werk om voer in te samel vir die droogte,” sê Alan.
“Agri Wes-Kaap wil elkeen bedank wat ‘n bydrae tot verligting van die droogte gemaak het,” sê Carl Opperman, Agri Wes-Kaap se besturende direkteur.
Bron: Persverklaring