Neem jou Ford Kuga 1.6 na jou naaste handelaar

Ford Kuga aan die brand
Ford SA, bekende motormaatskappy, het die Ford Kuga 1.6 liter EcoBoost as gevolg van veiligheidsredes teruggetrek. Talle van hierdie voertuie het al aan die brand geslaan en die lewe van mense in gevaar gestel.
Die Ford Kuga’s wat tussen Desember 2012 en Februarie 2014 gebou is moet teruggeneem word na hulle naaste handelaar toe. ‘n Totaal van 4 556 motors word hierdeur geraak. Die 1.5 liter en 2.0 liter modelle word nie hierdeur geraak nie.
Ford het alreeds 15 enjins en ‘n motor na Europa en die VSA gestuur vir ‘n ondersoek om die werklike rede vir die brande te bepaal. Die inligting wat verkry is van die vorige voorvalle en die onderhoudsrekords wat deur die handelaars gekry is, help om die oorsaak van die vure te bepaal. Dit lyk asof die enjin oorverhit omdat die verkoelingstelsel nie werk nie. Die silinderkop kraak, wat veroorsaak dat die olie lek en dit dan vlam vat. Onderdele wat verantwoordelik is vir die enjinoorverhitting sal vervang moet word.
Met die veiligheid wat in ag geneem word, moet verbruikers wat die betrokke Ford Kuga-modelle ry dit dadelik na hulle naaste handelaar neem. Indien enige so Kuga-eienaar ‘n aanduiding kry dat die enjin oorverhit moet hulle dadelik aftrek, die enjin afskakel en uit die motor klim. Vir veiligheidsredes moet die enjinkap ook nie oopgemaak word nie.
Die nooddienste moet eerste geskakel word, indien nodig, dan Ford se padbystandsdiens by 086-115-0250. Die diens is 24 uur en sewe dae ‘n week beskikbaar en word deur die AA (Automobiel Assosiasie) ondersteun.
Die 1.6 Kuga is weer veilig om te bestuur sodra daar na die verkoeilingstelsel gekyk word. Die veranderinge wat Ford nou maak word deeglik getoets en hulle sal hulle kliënte op hoogte hou.
Ford doen alles moontlik om die verbruikers van ongerief te verminder en verseker kliënte dat hulle veiligheid Ford se eerste prioriteit is.
Indien ‘n kliënt enige probleem met hulle 1.6 Kuga ervaar, of vertragings in die herstel as gevolg van ‘n tekort aan onderdele, sal reëlings getref word deur die naaste Ford-handelaar en Ford-kliëntediens om ‘n motor vir die kliënt te voorsien terwyl die voertuig herstel word.
Enige kliënt se bekommernisse of navrae kan gerig word aan Ford se kliëntediens by 086-001-1022.
Bron: Ford SA