Categories: NewsPublished On: 13th February 2012

NAC-hou-jou-bo

By 3 min read

“Jy moet onthou daar is nie parkeerplek daar bo nie. Jy ry in die lug en daar is nie so ’n ding soos ‘gou aftrek’ as jy moeilikheid het nie,” sê Tertius van Jaarsveld, NAC se direkteur vir Vliegtuigonderhoudsdienste.

By NAC word daar meer as dubbeld seker gemaak dat die vliegtuie wat aandoen vir herstelwerk, roetine-inspeksie en onderhoud gereed is om hulle vlerke te sprei wanneer hulle die nes verlaat.

NAC het twee goed ingerigte dienssentrums vir vastevlerkvliegtuie. Die kleiner vliegtuie word by Wonderboom-lughawe by Pretoria nagesien en die groter vliegtuie, asook stralers, word in die werkswinkels by Lanseria hanteer. Helikopters gaan na die Randse lughawe.

Tertius sê net soos met motorkarre is niemand ooit regtig lus vir onderhoudsverpligtinge nie, maar mense se lewe hang daarvan af dat elke ding aan ’n vliegtuig reg moet werk. NAC beskou dit ook as deel van sy dienslewering om vliegtuigeienaars en vlieëniers te herinner aan onderhoudstake wat op bepaalde tye gedoen moet word.

“Dit werk bietjie anders as met ’n kar,” verduidelik Tertius. Sekere take hang af van die aantal vliegure, maar daar is ook take wat deur die kalender of ouderdom van die vliegtuig bepaal word. Selfs al was die vliegtuig min in die lug, moet ’n paar dinge elke paar maande nagegaan word. Ander nasienwerk weer word bepaal deur die aantal kere wat ’n vliegtuig opgestyg en geland het.

Met die instandhouding van vliegtuie is rekordhouding net so belangrik soos kundigheid. Elke onderdeel van ’n vliegtuig is gemerk en naspeurbaar en elke handeling word opgeteken en minstens twee keer nagegaan. Daar kan byvoorbeeld nagegaan word wie twee jaar gelede ’n bepaalde onderdeel vervang het en selfs in watter fabriek die onderdeel gemaak is en wat sy reeksnommer is.

Alles gebeur in ooreenstemming met die voorskrifte van die vliegtuigvervaardiger. Ingenieurs ontvang opleiding by die vervaardiger self en is gekwalifiseer om aan bepaalde vliegtuie te werk. Net so ontvang werkswinkels ook goedkeuring van vervaardigers. NAC is byvoorbeeld goedgekeur om instand-houding en herstelwerk te doen vir Hawker, Beechcraft, Piper, P750 XSTOL, Embraer en vele ander produkte.

“Tot ons ingenieurs se gereedskap word elke dag nagegaan,” se Tertius. “Jy kan nie bekostig om iets soos ’n skroewedraaier in ’n vliegtuig se vlerk te vergeet nie, want dit kan tot ’n ongeluk lei.” Elke ingenieur het sy eie gereedskaptrollie met ’n lys van toerusting wat elke dag nagegaan word.

NAC het ook ’n afdeling wat vervaardigers se aanbevelings inkorporeer. Terugvoering van vlieeniers oor byvoorbeeld ’n kontrolemeganisme wat op ’n ongemaklike plek is, kan lei tot ’n ontwerpverandering. Eienaars wat die binnekant van die vliegtuig wil opkikker of dalk nuwe tegnologie wil inbou, kan dit ook deur NAC laat doen.

As jy graag in die toekoms jou vliegtuig deur NAC se wenspan wil laat nasien om jou vlugte so veilig soos ’n verebed te maak, skakel dan vir Tertius van Jaarsveld by 011-267-5000 of besoek www.nac.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0