Na 120 jaar is TLU SA steeds slaggereed

TLU SA 1
TLU SA se nasionale kongres in die WNNR se internasionale konferensiesentrum was vanjaar weer ’n reuse sukses.
Min organisasies slaag daarin om 120 jaar oud te word. Dit is ’n reuse mylpaal. Die Transvaalse Landbou-unie is op 29 September 1897 gestig en het ’n ryke geskiedenis waarin daar onverpoosd na die boer se belange omgesien is. Die runderpes se gevolge, die Engelse oorlog, die depressiejare met die armblankevraagstuk en verskeie droogtes was van die groot krissise wat TLU SA kon trotseer.
Vandag is die taaiste probleme wat hulle moet hanteer, die behoud van voedselsekerheid onder ’n landbou-onvriendelike regering met sy knaende pogings tot “grondhervorming”.
TLU SA se jaarkongres het onlangs in Pretoria plaasgevind, waartydens Louis Meintjes en Henry Geldenhuys onderskeidelik as president en adjunkpresident herverkies is.

Louis Meintjes, president van TLU SA, het in sy presidentsrede gesê dat TLU SA se omskrywing van grondhervorming die volgende is: “Dit is ’n proses om onbenutte grond in voormalige tuislande, staatsgrond en grond wat deur die grondeisproses en oordrag aan begunstigdes onproduktief geraak het, weer in produksie te kry.” Radikale ekonomiese transformasie beteken vir TLU SA dat die ekonomie ontwikkel moet word deur die uitskakeling van korrupsie, staatskaping en ander misdadige dade asook die daarstel van beleidsekerheid wat ekonomiese groei sal stimuleer en sal lei tot beleggings en landbou-ontwikkeling.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA en dr Jeanette van Rensburg was verantwoordelik vir die saamstel van die 120-jaar gedenkalbum van TLU SA. Hulle het dit tydens die kongres aan Louis Meintjes, president van TLU SA oorhandig.

Dit het vir Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions, agttien maande geneem om navorsing te doen oor die kleur van grondeienaarskap. Hy het met baie interessante syfers vorendag gekom. Wanneer jy die potensiaal van grondwaarde bereken, is 52% volgens hom tans in nie-blankes se hande en swart eienaars besit meer as 60% van grondwaarde in die Oos-Kaap, KZN en Limpopo. Die finale verslag sal later vrygestel word.
TLU SA se bekende Boeremark in Silverton, Pretoria, het onlangs na hulle eie nuwe terrein, ’n klipgooi van die vorige een, verskuif. Boere verkoop daar al vir meer as 24 jaar hulle produkte regstreeks aan die stedelinge. Die verskuiwing was ’n groot hoogtepunt in TLU SA se jaar. Bennie van Zyl, Henri Combrink, Johan van Wyk, Louis Meintjes en Jaap Coetzer het hulle hande tydens die boomplantdag in die grond gesteek.
Kontak TLU SA by 012-804-8031 vir meer inligting oor hierdie ware vesting van en vir die boer.