Categories: NewsPublished On: 1st February 2016

‘n Konsert vir die droogte: Manna vir die Boere

By 2 min read

Adam Tas

Bekende Afrikaanse sangers gaan ’n musiekkonsert hou om geld in te samel vir droogtehulp. Die meeste van die sangers het rondgetoer oor Desember en gesien hoe erg die droogte die boere getref het en nou wil hulle graag iets teruggee aan die boere.

Al het dit in sekere gebiede in Suid-Afrika gereën, is die droogte nog lank nie op ’n einde nie. Die idee vir die konsert het by die sanger, Adam Tas, ontstaan. Hy sê: “Boere sorg dat ons elke dag kos het, hulle wy hulle lewe aan die natuur en die grond, maar is ook uitgelewer aan die wette van die natuur. Hulle ervaar nou groot geldnood.”

Van die kunstenaars wat gratis gaan optree saam met Adam Tas is Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester, Jannie Moolman en André Venter.

Adam werk saam met Caring Daisies, ‘n fondsinsamelingsorganisasie wat ook ingespring het om te help in die droogtetyd. 

Anria van Heerden, hoof van Caring Daisies verduidelik: “Ons wil graag aan almal die geleentheid gee om ander mense in nood te help. Met die Manna vir die Boere-konsert kan elkeen wat ’n kaartjie koop regstreeks bydra tot hulp vir dié boere.” Caring Daisies het amper 2 000 bale voer na boere in Noord-Wes, die Vrystaat en Noord-Kaap vervoer.

Caring Daisies is ’n inisiatief wat sedert 2010 gedryf word deur ‘n groep vriendinne met net een doel voor oë – om mense bewus te maak van die wonderlike gawe en voorreg om te kan gee en in die proses lewens te verander.  Elke sent wat hulle ontvang, word bestuur en aangewend waar dit werklik ‘n verskil maak, in hierdie geval die boere.  Die inkomste uit die konsert sal ook net so na die boere gaan.

Daar is verskeie borge wat hulle hulp aangebied het soos Lood Bester van Wildswinkel, Louis van der Watt van Atterbury en Jean Engelbrecht van Hinterland Vleishandelaars. Verder is Toyota en Media24 (Rapport en Landbouweekblad) ook betrokke.

Die konsert vind Saterdag, 20 Februarie 2016 vanaf 15:00 tot 18:00 in die Voortrekkermonument se Amfiteater plaas. Gratis parkering en busvervoer is beskikbaar. Bring jou piekniekmandjie en kom geniet die konsert. Geen alkohol is te koop nie. Die koste van die kaartjies is R200 per persoon, skoolkinders betaal R100 en voorskoolkinders geniet gratis toegang. Die kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Meer inligting is beskikbaar op www.caringdaisies.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0