Categories: Artikels, BesproeiingPublished On: 19th November 2025

’n Familieboerdery waar tradisie en tegnologie saam groei

By 5 min read
940 words

DSC04132

By Pleroma verbou hulle verskillende gewasse onder een spilpunt.

Pleroma-familieboerdery, geleë in die hartjie van Brits in Noordwes, boer Pieter du Preez saam met sy seun, Herman, skoonseun, Martin Greyling, en dogter, Janita Greyling.

Pleroma beskik oor ’n eie verpakkingsaanleg, en met wisselvallige reën en ongeskoolde arbeid was hulle op soek na ’n oplossing vir hul groentegewasse. Die familiedinamiek is voortgesit deur die pa-en-seun Reinke-span wat suksesvol twee Reinke-spilpunte vir Pleroma-boerdery opgerig het.

Pleroma: ’n Boerdery én ’n besigheid

Pieter du Preez boer reeds 38 jaar op die plaas Klipkop, wat vandag as Pleroma-boerdery bekend staan. Die naam beteken “uit die goedheid en genade van God.” Die boerdery bestaan hoofsaaklik uit groente en het twee produksielyne: ’n winter- en ’n somerproduksie.

“Ek is die vierde geslag wat op die plaas boer, en Herman en Martin is die vyfde geslag. Saam het hulle drie seuns wat reeds die sesde geslag verteenwoordig. ’n Familieboerdery is baie lekker, maar dit kan ook uitdagend wees. Ons glo elkeen moet ’n rol hê, en by Pleroma weet almal wat hul verantwoordelikhede is,” verduidelik Pieter.

Hy bestuur Pleroma soos ’n besigheid en pas besigheidsbeginsels in die boerdery toe. “Maar ná die werk is ons ’n familie, en dit is vir my die belangrikste: dat ons steeds saam kan braai en gesels buite die boerdery.”

Pleroma se waterstelsel en uitdagings

Op Pleroma boer hulle onder die Hartebeespoortdam-waterskema. Die kanaal loop van die Hartebeespoortdam tot by die Rooikoppiesdam, ’n afstand van sowat 54 km. Pleroma moet elke Donderdag aansoek doen vir die water wat hulle die volgende week benodig.

“Water is lewe. Sonder water kan jy nie boer nie, en dit raak ’n probleem. Daarom het ons oorgeskakel na spilpunte – dit is meer effektief en jy kan dag en nag besproei.”

Uitdagings sluit in die hoë arbeidskoste van drupbesproeiing, die klimaat en wisselvallige reënval.

Pieter vertel dat die weer drasties verander het sedert hy meer as drie dekades gelede begin boer het: “Die weer is baie onvoorspelbaar. Waar ons vroeër hael in die middae gehad het, kry ons dit nou skielik in die aande. Soms word dit droog, en al voorspel die weer reën, val dit eenvoudig nie.”

Hulle groente word nie onder nette verbou wat teen hael en son beskerm nie, en volgens Pieter wil geen versekeraar groente verseker nie. Hulle is dus uitgelewer aan die natuur.

Ten spyte van die uitdagings bly boerdery sy passie. Hy is trots dat hy saam met sy kinders kan boer. “Dit is ongelooflik hoe dinge in 38 jaar verander het. Ek weet nie wat gaan gebeur teen die tyd dat my kleinkinders oorneem nie, maar ek is opgewonde oor die toekoms,” sê hy.

Pleroma-groente groei sterk onder Reinke

Martin Greyling het 15 jaar gelede by sy skoonpa se boerdery aangesluit en is betrokke by produksiebestuur, besproeiing en land- en gewasbeplanning. Hy vertel dat Reinke se goeie naam die familie oortuig het om hul spilpunte aan te skaf.

“Omdat Reinke bekend is vir uitstekende diens en betroubaarheid, asook die tegnologie wat daarmee saamkom, was ons oortuig. Dit was ’n groot besluit,” sê Martin.

Hulle het twee Reinke-spilpunte bygevoeg en verbou in die somer suikermielies, saadmielies, groenbone en spinasie. Nog twee spilpunte word vir die toekoms beplan.

“Ons het van dag een af uitstekende diens van Reinke ontvang.”

Martin vertel dat Werner en Mario Wolvaardt die spilpunte betyds opgerig het en die druk en uitleg optimaal gemaak het. “Dit was besonders om ’n pa-en-seun-span te hê wat nie net besigheid verstaan nie, maar ook boerdery en familie.”

Die spilpunte het egaliger besproeiing en beter groentegehalte meegebring. Hulle kan nou presies die regte hoeveelheid water per gewas toedien, wat tot merkbare water- en kostebesparings gelei het. “Ek sal Reinke beslis aanbeveel. Hul diens en tegnologie kan enige boerdery verbeter,” sê Martin.

’n Reinke-wenspan

Werner, tegniese bestuurder van Reinke Suid-Afrika, en sy pa, Mario, was die meesterbreine agter Pleroma se nuwe spilpunte.

Nadat Martin en Pieter belangstelling getoon het, het Werner en Mario vinnig die opmetings gedoen en die beste posisie bepaal sodat die spilpunt ’n volle sirkel kon maak en die meeste hektare dek. Hulle het ook die pomp- en pyplynvereistes bereken en die plan aan die Pleroma-boere voorgelê.

Die installasie het seepglad verloop, en Werner en Mario besoek Pleroma gereeld om te verseker dat alles reg funksioneer. “Ons kyk dat die spuite skoon is, die spilpunt reg loop en die tegnologie ten volle benut word,” sê Werner.

Volgens hom is Reinke ’n familiebesigheid, en daarom geniet hulle dit om saam met familieboere te werk. “Ons word deel van die gemeenskap waar ons spilpunte oprig. Dit gaan nie net oor die tegniek nie, maar oor die indruk wat ons laat by mense en hul boerdery.”

Hy beskryf Pieter en Martin as eerlike, vooruitstrewende mense wat altyd die beste lewer.

Die indrukwekkende pa-en-seun Reinke-span: Werner en Mario Wolfaardt.

Die verskil vir die verbruiker

Pleroma-boerdery het ook ’n pakhuis en bestuur hul eie vloot. Herman du Preez is verantwoordelik vir die verpakkingsaanleg, bemarking, prysmededinging en vlootbestuur van die boerdery.

By Pleroma word gewasse só gespasieer dat daar daagliks geoes en afgelewer kan word. “Ons lewer aan verskeie supermarkte en winkels, asook groothandelaars,” vertel Herman.

Die boerdery verbou ’n wye verskeidenheid gewasse: van groot ronde tamaties tot kleintjies, mini- en kersiepruime, spinasie, groenrissies, soetmielies, groenbone en waatlemoene. “Ons produkte se gehalte is oor die algemeen beter wanneer dit onder besproeiing verbou word,” verduidelik Herman.

Hy sê die diens van Reinke is fenomenaal en dat die pa-en-seun-kombinasie dit maklik maak om saam te werk.

“Uit my ervaring is hulle ’n waardevolle toevoeging tot ons boerdery,” sê Herman.

Indien jy wil sien wat ’n Reinke-spilpunt vir jou gewasse kan doen, besoek gerus die webtuiste www.reinke.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0