Categories: NewsPublished On: 15th January 2016

MPO: Die uitwerking van die droogte kan verlig word

By 1 min read
295 words

mpo_logo09

’n Boer kan ’n plan maak, maar in uiterste droogte moet daar wonderwerke verrig word. Die hulp en bystand wat reeds verleen is, is ’n duidelike bewys daarvan. Oor die volgende paar maande sal daar ’n paar hase uit hoede getrek moet word om die navolge van die huidige droogte te minimaliseer.

Die MPO se streeksvoorsitters het Woensdag 13 Januarie op ’n vergadering ’n oorsig gegee oor die uitwerking wat die droogte op melkprodusente in hulle streke het. Oor die algemeen is dit duidelik dat die droogte tot dusver ’n enorme invloed op die beskikbaarheid, gehalte en prys van voer gehad het. In sommige streke het dit daartoe gelei dat sommige boere selfs lakterende koeie moes verkoop.

Na verwagting sal die voertekort nog die volgende jaar voortduur. Die streeksvoorsitters het saamgestem dat melkproduksie afneem, die nasionale kudde onder druk kom en prysstygings van verwerkers van kardinale belang is.

Die MPO dra hulle dank oor aan die skenkings wat ontvang is om die nawerking van die droogte te verlig.

Die MPO het elkeen wat betrokke was by die insameling en verspreiding van voer na meer as veertig produsente in droogtegeteisterde gebiede in Noordwes en die Vrystaat bedank. Hulle bedank spesiaal vir Lex Gutsche, besturende direkteur van Woodlands, vir die skenking van voer en die finansiering van ’n groot gedeelte van die vervoerkoste. Die MPO is dankbaar vir die wyse waarop boere in nood ondersteun is.

Philip Swart, bestuurder van lededienste van die MPO, sê die nood is egter só groot dat nog skenkings verwelkom word. Die MPO doen ’n beroep op produsente wat oortollige ruvoer het, om kontak te maak met die MPO, wat die insameling en verspreiding daarvan sal koördineer. Skakel Philip Swart by 012-843-5600 of stuur ’n e-pos na philip@mpo.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0