Categories: Meganisasie, NuusPublished On: 6th October 2015

Moontlike prysstygings vir toerusting dryf aankope

By 1 min read
208 words

trekker valtra

Trekkerverkope van 562 eenhede in September is net 4% laer as die verkope van 588 eenhede wat verlede September aangemeld is. Die Suid-Afrikaanse landboumasjinerie-assosiasie sê in sy jongste verslag vir die jaar tot dusver is verkope ongeveer 8% laer as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar.

Stroperverkope van 19 eenhede is byna 19% hoër as die 16 eenhede wat verlede September verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope ongeveer 37% laer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die gevaar van dreigende aansienlike prysverhogings vir landboutoerusting is die waarskynlike dryfveer in die mark oor die korttermyn. Boere wat in ᾿n posisie is om te koop, sal aankope doen teen die heersende laer pryse van beskikbare voorraad om voor te berei vir die komende somerseisoen.

Die vroeë algemene reën het baie gehelp met die voorbereiding vir die nuwe seisoen, maar daar was baie min opvolgreën en toestande in die somergewasgebiede is op die oomblik warm en droog. In daardie gebiede wag boere angstig op reën. Toekomstige korttermynverkope van toerusting sal afhang van die beskikbaarheid van voorraad teen laer pryse en weersomstandighede, veral in die somergewasgebiede.

Volgens huidige ramings vir trekkerverkope in die bedryf sal verkope vir 2015 waarskynlik sowat 10% laer wees as verkope verlede jaar. Stroperverkope sal na verwagting ongeveer 30% laer wees.

0
Views: 335Comments Off on Moontlike prysstygings vir toerusting dryf aankope

Deel hierdie artikel.

0