Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 20th April 2018

Mooigezicht Landgoed: So word water bespaar

By 4 min read

mooigezcht 1

Mooigezicht Landgoed in die Hexriviervallei.

‛n Mens kan leer om met 50 liter water per dag klaar te kom, maar hoe leer jy ‛n druiwekorrel om steeds pragtig uit te swel as die reën nie kom nie en die water hoendertandskaars is? Boere regdeur Suid-Afrika maak planne om aan te hou produseer ondanks droogtes en ander ellendes, maar almal kan gerus ‛n bladsy uit die boek neem van Mooigezicht Landgoed in die Wes-Kaap.

Mooigezicht is in die Hexriviervallei geleë en is swaar getref deur die huidige droogte in die streek. Die boerdery is een van die grootste produsente van pitlose tafeldruiwe in die land met elf produksie-eenhede op 350 hektaar se wingerde.

Francois Rossouw van Mooigezicht Landgoed het onlangs by Farmer’s Weekly se konferensie met die tema, From Agri to Agritech, ‛n aanbieding gelewer oor al die metodes wat hulle gebruik om water te bespaar en steeds produksie te handhaaf. Hy het hulle droogtebestuurstrategie aan ProAgri beskikbaar gestel om met ons lesers te deel.

Hier volg ‛n opsomming van die strategie:

Ons streek het ‛n Meditireense klimaat met warm, droë somers en reën en sneeu in die winter. Dit blyk uit die geskiedenis dat die streek elke 20 jaar ‛n vyfjaar-droogte ondervind. Ons is tans in die vierde jaar van so ‛n droogte en verwag dat dit nog ‛n jaar kan aanhou.

Mooigezicht Landgoed het reeds ‛n proaktiewe waterbesparingsplan in aksie gehad en was dus goed geplaas om die planne uit te brei vir die huidige krisis.

Francois Rossouw van Mooigezicht Landgoed is trots op die oes wat hulle ondanks die droogte kan behaal.

Die planne sluit in:

–  Uitbreiding van die waterbergingsvermoë. Die damme is almal toegerus met plastiekvoerings om lekkasies en wegsypeling te verhoed.

–  Opgradering van boorgattoerusting. Alle staalpype wat kan roes is vervang met poliëtileenpype. Rekord word gehou van die lewering van elke boorgat en die vloeiverslae dui dadelik aan as daar ‛n probleem is. Die gebruik van die boorgate word afgewissel en daar is selfs spesiale kameras wat laat sak kan word om die toestand van boorgate te bekyk.

–  Vogmeters neem elke uur lesings van die voggehalte en temperatuur om besproeiingskedules akkuraat te bepaal.

–  Elektroniese besproeiingstegnologie word gebruik vir fyn skedulering en meet die werklike vloei van water.

–  Tien jaar gelede is gemiddeld 7 000 m3 water per hektaar toegedien. Behoorlike skedulering het dit verminder tot 6 432 m3 en die afgelope jaar is dit verminder tot 4 618 m3 per ha.

–  ‛n Eie weerstasie word tans op die plaas ingerig om seker te maak die bestuur het toegang tot data wat 100% akkuraat vir die plaas is.

–  Watergehalte word ook deurgaans gemoniteer. Oppervlakwater van plaaslike besproeiingskemas word saam met die boorgatwater gebruik. Dikwels is die skema se watergehalte beter as sekere boorgate se water. Water van die twee bronne word in sementdamme gemeng om seker te maak die elektriese geleidingsvlakke, bekend as EC-vlakke, is reg vir besproeiing. Hooibale word in die damme geplaas om onsuiwerhede te onttrek.

–  Drupperstelsels word vir besproeiing gebruik. Dit verminder watergebruik en verdamping en vloeibare bemesting word deur die druppers toegedien.

–  Wingerde absorbeer minder water as die lugtemperatuur bo 33˚C is. Besproeiing geskied dus in koeler tye.

–  Grondbedekking om elke plant verhoed ook verdamping.

–  ‛n “Waterbegroting” is uitgewerk om seker te maak dat elke blok oor die algemeen 25% minder water ontvang, maar dat die plante wel in sekere kritieke ontwikkelingstadia genoeg water kry, soos tydens blomtyd en trosvorming.

–  Wingerde is gemanipuleer om so vroeg as moontlik te dra en sodra die druiwe geoes is, is watertoediening tot die minimum verminder.

–  Die hervestigingsprogram vir 2017 is vergroot omdat jonger druiwestokke 30% minder water nodig het as ouer stokke. Die nuwe stokke is 1,8 meter uitmekaar geplaas. Standaard drupperlyne het elke 600 mm ‛n druppertjie. Die druppers tussen die stokke is toegemaak sodat daar net water by die plante self toegedien word.

–  By die nuwe aanplantings is daar ook bykomende 4 mm pypies by elke druppergaatjie aangebring om die water af te lei na die wortelsone vir nog minder verdamping.

–  Die wisselende skedule tussen die boorgate en bergingsdamme word elektronies bestuur met pompe wat deur radiosensors aan- en afgeskakel word afhangend van die vlakke van die waterbronne.

–  Hommeltuie word ook gebruik om die wingerde uit die lug te moniteer vir groei en gesondheid.

Francois sê hulle moes ‛n kopskuif maak om die huidige krisis te hanteer. Hy sê: “Baie mense in ons bedryf was werklik moedeloos toe die omvang van die probleem bekend raak, maar ons was vasbeslote om elke druppel water so sinvol as moontlik te gebruik. Ons is nie seker hoe nog ‛n seisoen se droogte ons gaan raak nie, maar ons het hierdie oes deurgetrek sonder om produksie in te boet.”

Van die waterbestuurtegnieke wat Mooigezicht Landgoed gebruik, is die elektroniese beheer van drupbesproeiing en die gebruik van sementdamme waarin water gemeng en die gehalte daarvan getoets word.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment