Minister Tina roer die pot bietjie op werksvergadering
"Hou op voete sleep" was landbou-minister Tina Joemat Pettersson se uitdruklike boodskap aan haar amptenary verlede week.
Die minister vergader kwartaalliks met lede van die uitvoerende komitees, die sogenaamde MEC’s, uit die nege provinsies om landbousake te bespreek.
Sy sê dat die regering deels uit ‘n klomp tegnokrate bestaan wat hulle net oor regulasies bekommer maar nie by die werk uit kom nie. Die voete-slepery om voorligtingsbeamptes aan landbou te voorsien moet ook einde kry. As die regering nie die vermoë het om hulle te voorsien nie, het dit tyd geword om hierdie taak aan georganiseerde landbou oor te dra.
Die minister het vyf voorhang sake beklemtoon:
Voedselsekuriteit
Die regering moet ‘n geen-honger-veldtog van stapel stuur wat ten doel het om armoede te verlig. Regeringsdepartemente moet vasstel wat die omvang van ondervoeding is, en met werkbare programme vorendag kom om hongerly in Suid-Afrika uit te skakel.
Toegang tot kapitaal
Die regering en instellings soos die Landbank moet opskud om bekostigbare lenings aan boere beskikbaar te stel, maar besondere klem moet in die verband op lenings aan kleinboere geplaas word. Daar moet dringend oor die verdeling van “gee teenoor leen” van die beskikbare geld besluit word.
Toegang tot markte
Die regering moet homself die taak oplê om nuwe markte vir landbou-produkte te vind. Die wêreld het verander, daarom kan die Europese Unie en die Verenigde State van Amerika nie meer die enigste fokus bly nie. Die tyd het aangebreek om na Brasilië, Indië, China, Rusland en Afrika te kyk.
Ontwikkeling van vaardighede
Alhoewel meer geld vir navorsing bekom is, het dit tyd geword dat navorsing toepaslik en kwantifiseerbaar raak en in lyn met die land se behoeftes kom. Navorsing fokus tans nog op ou probleme terwyl sleutelbehoeftes en voorhangsake mis gekyk word, aldus minister Joemat Pettersson.