Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 12th September 2022

Mielies: Oorplant of nie?

By 7 min read
1370 words

pioneer Agronomist, Agent and Farmer

deur Roelof le Roux, landboukundige by Pioneer

  • Meerjarige data help enige boer om ingeligte besluite te neem
  • Belangrike faktore om in ag te neem is relatiewe opbrengspotensiaal van huidige stand teenoor oorplant, asook die koste verbonde aan oorplant
  • Probeer om emosies buite rekening te laat en bepaal die randwaardevoordeel of -verlies in jou besluitneming

Hierdie artikel is ‘n samevatting van die afgelope twee seisoene se proefdata op dieselfde stande, perseel, kultivars en praktyke in ‘n poging om die antwoord op oorplant van mielies beter te verstaan en ingeligte besluite te neem indien jy op ’n spesifieke land met daardie besluit gekonfronteer word. Oorplant is iets wat geen boer ooit wil doen nie, maar soms gebeur onvoorsiene dinge wat daardie besluit oor ‘n boer se pad laat kom.

Vrae wat jaarliks gevra word:

“Ek het 50 000 p/ha geplant, maar nou is daar net 40 000 of 35 000 p/ha. Moet ek oorplant of nie? Wat gaan my moontlike verlies wees as ek nie oorplant nie?”

Of

“Ek het 50 000 p/ha geplant, maar nou is daar net 40 000 of 35 000 p/ha. Dit is nou reeds 1 Desember. Moet ek oorplant of nie? Wat gaan my moontlike verlies wees as ek nie oorplant nie?”

Metode:

  • Twee mieliekultivars, een enkelkoppig (P1513) en een meerkoppig, (P1975) is oor 4 plantdatums van vroeg Oktober elke twee weke uitmekaar geplant
  • By elke plantdatum is ‘n stand van 55 000 p/ha geplant en later uitgedun tot op die bepaalde stand vir daardie betrokke plantdatum.
  • Hoofstande wat belangrik was vir metings was: 55 000, 45 000, 40 000 en 35 000 p/ha
  • Vanaf elke hoofstand is daar dan by elke plantdatum uitgedun tot 80%, 70% en 60% van daardie betrokke stand en plantdatum
  • Die opbrengs is daarna by elke behandeling vir elke stand bepaal.
  • Hierdie proef en uitleg is presies gedupliseer en herhaal in jaar 2.

Doel met die proef:

Buiten die feit dat die data ‘n boer behulpsaam moet wees om te bepaal of die kool die sous werd sou wees om oor te plant ,kan ons ook die volgende metings uit die data doen:

  • Plantdatumeffek op opbrengs (meerjarige proef)
  • Standeffek op opbrengs by enkelkoppige en meerkoppige kultivars
  • Stand- en plantdatumeffek op opbrengs by enkel- en meerkoppige kultivars.
  • Opbrengsverlies as gevolg van standverlies

Resultate (gem van die afgelope 2 seisoene):

Tabel 1: Opbrengs van beide kultivars by elke plantdatum en alle stande gemeet.

In Tabel 1 kan al die opbrengste van elke kultivar by elke plantdatum en stand oor die afgelope 2 seisoene gesien word. P1513 se beste opbrengs was op 55 000 plante/hektaar op die 13 Oktober plantdatum (11,99 t/ha). P1975 se beste opbrengs was op die 27ste Oktober op 55 000 plante/hektaar (15,67 t/ha). P1975 het deurgaans beter presteer op alle stande en plantdatums, hoofsaaklik omdat P1513 oor die afgelope twee seisoene baie meer noordelike blaarskroei gekry het.

Tabel 2: Die gemiddelde van die optimale obrengs oor 4 plantdatums vir albei kultivars in die proef oor die afgelope 2 seisoene.

Tabel 2 gee vir jou ‘n vinnge blik van hoe die twee kultivars oor die verskillende plantdatums en stande presteer het. Albei kultivars het die beste resultate op 55 000 plante/ha gelewer en daarna het die opbrengste stelselmatig afgeplat tot op die laagste stand van 21 000 plante/ha. Na die eerste seisoen was dit interessant om te sien dat die enkelkoppige kultivar (P1513) minder van die maksimum opbrengs op 55 000 p/ha afgewyk het op laer stande.

Die logiese verwagting sou eintlik gewees het dat die meerkoppige kultivar (P1975) meer sou kompenseer op laer stande en die afwyking daarom op laer stande nie so groot sou verskil van die maksimum op 55 000 p/ha nie. Dit was presies dieselfde in jaar twee van die proef en in Tabel 2, wat die gemiddelde syfers van albei jare aantoon, kan gesien word dat van 28 000 (28k) tot 21 000 (21k) wys die data dat die meerkoppige baster slegter daaraan toe is as daar ‘n standverlies tot op daardie vlak voorkom.  Alhoewel P1975 steeds meer t/ha lewer op stande tussen 28k tot 21k is die persentasie verskil vanaf die maksimum opbrengs meer op P1975 as P1513.

Om die data wat uit die proef verkry is net meer prakties te maak, gaan dit verder verduidelik word in Tabel 3.

Tabel 3. Persentasie afwyking vanaf die maksimum (100%) by verskillende stande en plantdatums oor twee seisoene.

Tabel 3 verduidelik die uitkoms van die proef baie eenvoudig. As ’n voorbeeld kyk op Tabel 3 na die waarde by die blou pyl. Op 2 Desember is daar 72% van die opbrengs gestroop met 55 000p/ha. Vergelyk dit met die 100% wat jy op die 27ste Oktober sou gestroop het met hierdie kultivar op dieselfde stand. 

Tabel 4 sit meer vleis om die been en kyk na alle stande wat ons oor die afgelope 2 seisoene in die proef gemeet het. Albei kultivars se data word hier in een tabel saamgevoeg.

Tabel 4: Persentasie afwyking vanaf die maksimum (100%) by alle stande en plantdatums oor die afgelope 2 seisoene.

Voorbeeld:Boer plant op die 13de Oktober @ 45 000 p/ha. Hy realiseer net 35 000 p/ha en besluit om die 27ste Oktober oor te plant weer @ 45 000p/ha. (Volg die blou pyltjies in die voorstelling).

1. Boer sou potensieel 87% van ‘n vol oes gestroop het met 45 000p/ha.

2. Op 35 000 p/ha op dieselfde plantdatum het hy 84% vd maksimum potensiaal oor.

3.  Met die oorplant op 27ste Okt, weer @ 45 000 p/ha, het hy 88% van die maksimum potensiaal.

4.  84% vd maksimum potensiaal met 35 000 p/ha teenoor 88% van die maksimum potensiaal met 45 000 p/ha.

5. Hy het dus eerstens geld verloor deur in die eerste plek nie ‘n vol stand te realiseer nie.

6. Hy sou verder net ‘n 4% voordeel geniet om weer 2 weke later oor te plant (is dit die moeite werd?)

‘n Dieper kyk na die data

Tabel 5: % Verskil in opbrengs tussen spesifieke stande oor 2 seisoene.

In Tabel 5 is daar meer spesifiek na stande gekyk wat dit amper voor-die-hand-liggend maak om ‘n oorplant te oorweeg. Die verskil in opbrengs is hier as ‘n persentasie uitgedruk en 55k is met 35k, 25k en 21k vergelyk. Die verskil tussen die stand met die beste opbrengs (55k) en ‘n stand waar jy dit ernstig gaan oorweeg om oor te plant, raak op die oog af kleiner soos wat dit later in die seisoen raak.

Uit die bostaande tabel kan jy vier uit ses keer sien dat die neiging oor tyd neig na ‘n kleiner verskil in opbrengs as jou stand nie voldoende was nie. Wat dit beteken, is dat jy minder rede het om oorplant te oorweeg, veral as die seisoen reeds in Desember inbeweeg het. Kyk byvoorbeeld na die tweejaardata van P1975: Vroeg in die seisoen is die verskil tussen 55k en 35k rondom 17%, maar gaan jy na ‘n Desember plantdatum, raak die verskil net 8%.  Dieselfde neiging is sigbaar by die verskil tussen 55k en 25k. Vroeg is die verskil rondom 38%, maar in Desember daal dit na 21%.

Samevatting

Oorplant of nie oorplant gaan altyd ‘n toepaslike vraag in enige seisoen wees. Daar is seisoene waar dit meer op die voorgrond tree, maar met hierdie navorsing in Suid-Afrika probeer ons die weg vir ons klante baan om meer ingeligte besluite op ons kultivarpakket te maak.

Hierdie proef gaan meerjarig herhaal word om ‘n goeie gemiddelde antwoord te kry. Na jaar een was die gevoel dat jy meeste van die tyd nie moet oorplant nie. In die gevalle waar die data wel aangetoon het dat daar ‘n opbrengsverhoging moontlik was met ‘n oorplant, sou die koste-implikasie in baie gevalle die skaal weer gelyk getrek het. Na twee seisoene bly die data steeds vir ons aantoon dat ‘n oorplant wel ‘n plek het in seker gevalle, maar dat dit steeds in meeste gevalle nie die moeite en koste werd is om dit wat reeds opgekom het te vervang nie.

Pogings om in te plant waar die stand nie voldoende is nie, lei ook gewoonlik tot bykomende probleme. Groter plante ding sterker mee om voedingstowwe, water en sonlig, en verrig in baie gevalle dieselfde rol as onkruid teenoor die kleiner plante in die land. Dit word dus aangeraai dat, indien dit ‘n oorplant regverdig word, die oorblywende plante uitgewerk moet word en van voor af begin moet word. Indien die oorblywende stand aanvaarbaar is, los dit daarby en aanvaar die stand soos dit is.

Vir meer inligting, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ‘n e-pos na info.rsa@pioneer.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0