Mielieboere kan dalende pryse bestuur
Suid-Afrikaanse boere moet kyk na strategieë om hulleself te verskans teen wisselende graanpryse, saam met ‘n plan om opbrengs te verhoog, sê die saadmaatskappy, Syngenta. Syngenta se kundiges het pas ‘n maandlange toer deur die land voltooi om hulle kennis op grondvlak met boere te deel.
Linda van der Merwe, hoof van kliëntebemarking by Syngenta, sê boere is baie bekommerd oor die skerp daling in die mielieprys gedurende die tweede helfte van die jaar. “Die mielieprys is nou onder groot druk en daar is geen teken dat dit in die volgende 18 maande sal verbeter nie,” sê sy.
Een van die redes vir die daling in die prys, is die rekordoes van 14 miljoen ton die afgelope seisoen, teenoor die gemiddelde produksie van tussen 10 en 12 miljoen ton.
By Syngenta val die klem op verhoogde opbrengs deur meer doeltreffende gewasproduksie. Die maatskappy se doel is dat opbrengs met 20% moet verhoog om die groeiende bevolking te voed, sonder om meer grond, water of ander insette te gebruik.
By droëlandmielies praat Syngenta van ‘n opbrengs van 9,5 ton per hektaar. Hulle doen ook navorsing oor ander gewasse soos sonneblomme, koring, sojabone, groente en aartappels.
‘n Groot voordeel vir Suid-Afrikaanse boere is dat hier ‘n plaaslike navorsing- en ontwikkelingspan is wat produkte vir Suid-Afrikaanse omstandighede ontwikkel.
Syngenta kyk egter nie net na saad nie maar ook die boer se sak. Met hulle AgriSafe-program kan boere hulleself teen prysskommelings verskans. AgriSafe beskerm die waarde van Syngenta-aankope teen ‘n spesifieke termynkontrakprys. Indien daar ‘n verskil tussen die Safex-prys en die getekende AgriSafe-prys is, betaal Syngenta die verskil aan die boer. Die maatskappy het hierdie jaar R37 miljoen aan boere uitbetaal.
Meer inligting oor AgriSafe is op www.syngenta.co.za beskikbaar.