Mei se trekker- en stroperverkope

tractor_clip_art_18056
Trekkerverkope is vanjaar oor die algemeen minder as verlede jaar, wat toegeskryf kan word aan die droogte, maar Mei 2016 het beter gedoen as verlede jaar Mei, berig SALMA in sy maandverslag.
Trekkerverkope van 422 eenhede in Mei is 5% meer as die 402 eenhede wat verlede Mei verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope ongeveer 8% laer as verkope vir verlede jaar. Stroperverkope van 26 eenhede is aansienlik hoër as die 19 eenhede wat verlede Mei verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope ongeveer 16% laer as verkope verlede jaar.
Gewasse in die ooste toon veral goeie opbrengste. Indien dit in ag geneem word, tesame met die heersende uitstekende pryse vir gewasse, sal boere in die ooste in ᾿n goeie posisie wees om later in die jaar werktuie aan te koop. Baie van die somergewasboere in die weste doen nie so goed nie. Die NAMPO Oesdag was ᾿n goeie toets vir marksentiment. Oor die algemeen is die stemming van boere positief en dit voorspel goed vir die onmiddellike toekoms. Daar is nietemin nog ᾿n redelike tyd voor boere moet begin om somergewasse te plant. Ten spyte daarvan dat die fundamentele aspekte in die mark positief is, bly boere versigtig. Trekkerverkope is min of meer tussen 15 tot 20% laer die jaar as verlede jaar.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie