Meer as 81 000 mense deur NAMPO 2026 se hekke

697792594_1503667928467405_1717325696418162250_n
(Fotokrediet: NAMPO Facebook-blad)
In ’n tyd waar die landbousektor wêreldwyd onder toenemende druk verkeer, van klimaatsuitdagings en stygende insetkoste tot mark- en siekte-uitbrekings het NAMPO 2026 die kollig geplaas op een kernbeginsel: veerkragtigheid. Onder die tema “Veerkragtigheid deur Innovasie” het dié ikoniese landboubyeenkoms van 12 tot 16 Mei 2026 weereens bewys waarom NAMPO wat jaarlikse buite Bothaville plaasvind die hartklop van landbou in Suid-Afrika bly.
Die ProAgri-span het die voorreg gehad om vanjaar weer deel te wees van hierdie hoogtepunt op die landboukalender. ’n Plek waar boere, landboukundiges, besighede en bedryfskenners byeenkom om idees uit te ruil, nuwe tegnologie eerstehands te beleef en saam te bou aan die toekoms van die landboubedryf.
Ná nog ’n onvergeetlike week het die stof wel gaan lê, maar die energie, gesprekke en oplossings wat by NAMPO 2026 ten toon gestel en gedeel is, bevestig opnuut dat moderne landbou nie net oor oorlewing gaan nie, maar oor aanpasbaarheid, slimmer besluitneming en volhoubare winsgewendheid. Van presisieboerdery en gevorderde meganisasie tot nuwe genetika, demonstrasies, netwerkgeleenthede en internasionale deelname, NAMPO 2026 het vars energie gebring en gewys hoe innovasie die dryfkrag agter ’n sterker, meer veerkragtige landbousektor bly.
Rekordbywoning bevestig NAMPO as grootste landboutentoonstelling in die Suidelike Halfrond
Die 59ste NAMPO Oesdag het op Vrydag 15 Mei 2026 tot ’n einde gekom nadat altesaam 81 822 besoekers oor vier dae deur die hekke van NAMPO Park gestroom het – net effens minder as die 81 945 besoekers wat in 2023 aangeteken is. Hiermee het NAMPO opnuut sy plek as die grootste landboutentoonstelling in die Suidelike Halfrond bevestig.
Vanjaar is daar ook ’n nuwe enkel-dag bywoningsrekord opgestel toe 24 579 besoekers Woensdag die terrein besoek het, grootliks aangevuur deur Toyota Suid-Afrika se poging om verskeie Guinness-wêreldrekords op te stel tydens die bekendstelling van die splinternuwe negende-generasie Hilux.
Toyota het boonop geskiedenis gemaak toe 1 545 Hilux-bakkies by NAMPO saamgetrek het in ’n indrukwekkende vertoon van handelsmerklojaliteit en gemeenskapsgees. Die rekordpoging het besoekers van regoor die land gelok en was sonder twyfel een van die groot hoogtepunte van NAMPO 2026.
Innovasie, tegnologie en oplossings in die kollig
NAMPO 2026 het hierdie jaar ook bewys dat die skou veel meer is as net ’n uitstalling van trekkers en implemente, dit is ’n plek waar die geskiedenis, hede en toekoms van landbou bymekaar kom. Een van die gewilde trekpleisters was die Engen-trekkermuseum waar besoekers nostalgies kon terugdink aan die ontwikkeling van landboumeganisasie deur ’n indrukwekkende versameling ou trekkers en implemente wat oor baie jare heen deur boere en verskaffers geskenk is om landbou-erfenis te help bewaar.
Vir besoekers met ’n oog op die toekoms het die tegnologie-uitstallings beslis nie teleurgestel nie. In die meganisasie afdeling was daar groot belangstelling in die nuutste stropertegnologie wat nou groter kapasiteit bied, maar terselfdertyd meer brandstofdoeltreffend werk om maksimum werkverrigting uit elke liter diesel te haal.
Nuwe modelle soos New Holland se CR10, Case IH se Axial-Flow 9 en John Deere se splinternuwe S7-stroper het groot aandag getrek en wys duidelik hoe vervaardigers fokus op slimmer, meer presiese en kostedoeltreffende boerdery. Hierdie vooruitdenkende tegnologie beklemtoon die toenemende behoefte aan oplossings wat boere help om onder moeilike ekonomiese toestande steeds winsgewend te bly.

New Holland se splinternuwe CR10-stroper het by NAMPO 2026 groot belangstelling gelok. Met groter kapasiteit, gevorderde tegnologie en verbeterde brandstofdoeltreffendheid wys dié masjien hoe moderne stropertegnologie produsente help om slimmer en meer winsgewend te boer.
New Holland se splinternuwe CR10-stroper het by NAMPO 2026 groot belangstelling gelok. Met groter kapasiteit, gevorderde tegnologie en verbeterde brandstofdoeltreffendheid wys dié masjien hoe moderne stropertegnologie produsente help om slimmer en meer winsgewend te boer.

Case IH se Axial-Flow- 9-stroper het sy opwagting by NAMPO 2026 gemaak en besoekers beïndruk met sy gevorderde stropertegnologie. Die nuwe model beklemtoon die fokus op doeltreffendheid, presisie en hoër produktiwiteit in moderne graanproduksie.
Case IH se Axial-Flow- 9-stroper het sy opwagting by NAMPO 2026 gemaak en besoekers beïndruk met sy gevorderde stropertegnologie. Die nuwe model beklemtoon die fokus op doeltreffendheid, presisie en hoër produktiwiteit in moderne graanproduksie.

John Deere se nuwe S7-stroper was een van die groot tegnologiehoogtepunte by NAMPO 2026. Die gevorderde stroper is ontwerp om groter doeltreffendheid, slimmer oesbestuur en verbeterde werkverrigting vir moderne produsente te bied.
John Deere se nuwe S7-stroper was een van die groot tegnologiehoogtepunte by NAMPO 2026. Die gevorderde stroper is ontwerp om groter doeltreffendheid, slimmer oesbestuur en verbeterde werkverrigting vir moderne produsente te bied.
Suid-Afrikaanse boere se vernuf staan sterk
Nog ’n hoogtepunt was die Boereplanne-patentkompetisie waar Suid-Afrikaanse boere hul vernuf gewys het deur praktiese en bekostigbare oplossings vir alledaagse boerdery-uitdagings bekend te stel.
Onder die tema “Veerkragtigheid deur Innovasie” het gesprekke by vanjaar se Nasie in gesprek-paneelbesprekings gefokus op die ekonomiese druk waaronder boere tans boer, insluitend stygende insetkoste, logistieke uitdagings en beleidsonsekerheid. Onderwerpe soos waterbestuur, die impak van bek-en-klouseer en nuwe handelsgeleenthede het ook sterk onder die vergrootglas gekom.
Geen diere weens BKS-beperkings
Weens uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) kon geen gesplete-hoefdiere vanjaar tydens NAMPO uitgestal word nie. Tog het dit nie die gees en entoesiasme by die veestalletjies gedemp nie. Verskeie genootskappe het op kreatiewe en innoverende maniere aangepas deur kunsmatige en opgestopte diere in die hokkies uit te stal om steeds die waarde van hul rasse ten toon te stel.
Met kompetisies, goeie koffie en hartlike gasvryheid het die vee-afdeling steeds ’n lewendige trekpleister gebly waar bestaande telers, belangstellendes en voornemende kopers welkom gevoel het. Dit was opnuut ’n bewys van die landboubedryf se vermoë om uitdagings met aanpasbaarheid en ’n positiewe ingesteldheid te hanteer.
- (Fotokrediet: NAMPO Facebook-blad)
NAMPO bly die plek waar landbou bymekaarkom
Ten spyte van uitdagings soos hoë brandstofpryse en die impak van die onlangse reën op baie plase, het die sterk bywoning gewys dat NAMPO steeds die plek bly waar die landbougemeenskap bymekaar kom om idees uit te ruil, oplossings te bespreek en saam die bedryf vorentoe te neem.
Die algemene gevoel en gesprekke op die terrein was positief en energiek, met talle boere wat steeds optimisties is oor die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou. Dit was duidelik dat boere en landboubesighede nie net fokus op die uitdagings van vandag nie, maar aktief besig is om oplossings vir môre te bou.
NAMPO 2026 het opnuut bewys waarom hierdie skou veel meer is as net ’n jaarlikse gebeurtenis. Dit bly ’n ontmoetingsplek waar innovasie, gemeenskap en landbou saamkom, en waar die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou jaar ná jaar gevorm word.
Vooruitblik
Dagboek die datum vir NAMPO Kaap, wat van 9-12 September 2026 in Bredasdorp plaasvind, asook NAMPO ALFA van 2-3 Oktober 2026 by NAMPO Park. NAMPO 2027 se datums is bevestig as –11-14 Mei 2027 by NAMPO Park buite Bothaville.
Vir meer inligting, besoek die NAMPO-webwerf of volg NAMPO op sosialemediaplatforms.
Tot volgende NAMPO!
NAMPO 2026-bywoning en -syfers:
- Dinsdag, 12 Mei – 15 886 besoekers
✈️ 39 vliegtuie | 14 helikopters
- Woensdag, 13 Mei – 24 518 besoekers
✈️ 53 vliegtuie | 40 helikopters
- Donderdag, 14 Mei – 21 963 besoekers
✈️ 73 vliegtuie | 31 helikopters
- Vrydag, 15 Mei – 19 394 besoekers
✈️ 46 vliegtuie | 15 helikopters
Totale bywoning vir 2026: 81 822 mense

Altesaam 1 545 Toyota Hilux-bakkies het geskiedenis gemaak tydens NAMPO 2026 as deel van Toyota Suid-Afrika Motors se poging om verskeie Guinness-wêreldrekords op te stel tydens die bekendstelling van die splinternuwe negende-generasie Hilux. Die indrukwekkende skouspel het duisende besoekers gelok en was een van die groot hoogtepunte van vanjaar se skou.

NAMPO Park het vanjaar weer behoorlik gewemel soos duisende besoekers, boere en landboukenners van regoor Suid-Afrika en die wêreld saamgetrek het vir vier dae van innovasie, netwerkgeleenthede en die nuutste in landboutegnologie. (Fotokrediet: NAMPO Facebook-blad).

